“Ons dring aan op die skrapping van skoolgeld, dat geskiedenis ’n verpligte vak word asook ’n produktiewe, werkersklasgerigte sillabus,” het Motshegoa voorts kwytgeraak. Cosas het verder studente opgeroep om betrokke te raak in die stryd teen vigs en het geëis dat die ouderdom vir alkoholgebruik van 18 tot 21 jaar verhoog word. Drankmaatskappye behoort verder rehabilitasiesentra vir jongmense met drankprobleme oral in die land op te rig as “deel van hulle sosiale verantwoordelikheid.”
Volgens Motshegoa gaan Cosas sy bes doen om regeringsbeleid oor onderwyskwessies te beïnvloed. Hulle gaan die regering versoek om die huidige voedselprogram na hoërskoolleerlinge uit te brei. Veiligheid in skole en een nasionale skooluniform vir alle leerlinge is ook op hulle agenda.
Die studente het hulle steun uitgespreek vir Jacob Zuma as volgende leier van die ANC en staatshoof van die land. Hulle het 16 Maart as “dag van militante aksie” teen die onderwysdepartement verklaar. Leerlinge gaan op daardie dag gevra word om te betoog vir gratis onderwys vir almal.
