Zuma, De la Rey en die herskikking van ons politiek

ImageJacob Zuma en die omstredenheid rondom hom is die beste ding wat in jare met die SA politiek kon gebeur. Nie net skep die magstryd rondom die ANC-leierskap verdeeldheid nie, maar tydens Zuma se hofsaak het die Zoeloe-faktor volledig tot die swart politiek teruggekeer.

Ek het reeds voorheen (o.a. in The Scourge of the ANC) geargumenteer dat FW de Klerk en die vorige NP-bewind grootliks die huidige ANC geskep het nadat dié organisasie so te sê verdwyn het met die ineenstorting van Oos-Europese kommunisme. Saam met die nuwe ANC het ook gekom sy ontkenning van die multi-etniese aard van die Suid-Afrikaanse samelewing, met sy elf tale, verskeie rasse en veel meer tale as die amptelike elf. Die simplistiese afdwing van meerderheidsregering het tot meer probleme gelei as wat dit opgelos het, hoewel ’n groot deel van die media en politieke partye wat voordeel uit die huidige stelsel trek dit nog napraat.

Zuma se opmars na die presidentskap gaan nie deur die verskeidenheid aanklagte en hofsake teen hom gestuit word nie. Veral sy gewildheid in Kwazulu-Natal waar hy 80% steun geniet, gaan veroorsaak dat enige poging om hom van die ANC-leierskap te weerhou tot moontlike openbare opstande gaan lei.

Tesame met die Zuma-faktor, is daar dit wat die Mail & Guardian in ’n opskrif die “De la Rey-opstand” onder Afrikaners genoem het. Ná dertien jaar van omgekeerde rassisme, die onderdrukking of miskenning van Afrikaans, asook die toenemende moord- en roofkultuur wat in die land onder ANC-beheer gevestig is, het die ontevredenheid onder ons volk kookpunt bereik.

Met sy fyn ontwikkelde sintuig vir populistiese politiek, het Jacob Zuma reeds besef dat die Afrikaner – selfs in sy huidige ongemobiliseerde toestand – reeds weer ’n magsfaktor in die SA politiek geword het. Indien net tienduisend Afrikaners aktief teen die huidige stelsel begin werk, sal dit uiteindelik in duie stort. Vandaar dus Zuma se toenadering en gesprekke met Afrikaners.

Omdat die huidige situasie so vloeibaar is, is dit moeilik om enige voorspellings te waag. Nietemin het meer as een persoon reeds voorsien dat 2007 ’n waterskeidingsjaar gaan word omdat die spanning wat konstant opbou eenvoudig een of ander tyd breekpunt moet bereik. Myns insiens is die volgende ’n realistiese scenario wat hom vanjaar behoort af te speel en wat direk tot ’n herskikking van die SA politiek gaan lei, weg van die eenpartystaat en Xhosa-oorheersing waartoe die De Klerk-stelsel van 1994 hom leen.

In die eerste plaas gaan Zuma moeilik president van die ANC kan word. Nie net is die Xhosa-magsblok teen hom gekant nie, maar ook die media. Hoewel hy die meerderheid swart steun op voetsoolvlak geniet, gaan die meerderheid afgevaardigdes by die partykongres in Desember 2007 waarskynlik vir Mbeki stem. Laasgenoemde gaan poog om na die verstryking van sy termyn in 2009 van die kantlyn af te regeer. Daarom staan hy ’n “ eerste vrouepresident” in die vorm van sy marionet, Pumzile Mlambo-Ngcuka, voor.

Indien Zuma nie slaag by die partykongres nie, is dit neusie verby sover dit sy presidentskap betref. Hierna sal hy geen ander keuse hê as om van die ANC weg te breek en terug te val op sy Zoeloesteunbasis nie.

Indien die Afrikaner daarin slaag om binne die volgende maande te mobiliseer, sal daar vir die eerste keer sedert die sewentigerjare twee beduidende magsblokke in die land wees wat op ’n nasionale basis georganiseer is. Proletariese internasionalisme, pan-Afrikanisme en die invloed van ’n universalistiese Britse kolonialisme het tot dusver gesorg dat die ANC-SAKP geheel en al ontken het dat daar meer as een volksgroep binne die grense van die huidige Suid-Afrika bestaan. Die werklikheid van die land se etniese en talige diversiteit sal egter binnekort nie meer ontken kan word nie.

Die ANC was nog nooit ’n demokratiese organisasie nie en die gevaar bestaan dat hy soos ZANU-PF gewelddadig gaan raak sodra sy mag bedreig word, hetsy deur die stembus, hetsy deur straatbetogings en gemeenskapsorganisasies wat misdaad wil bestry. Binne Afrikanergeledere self heers daar insgelyks ’n magstryd met die ou Broederbond-NP-groepering wat besig is om alle beheer te verloor, al beheer hy nog steeds die magtige Naspers wat sal aanhou om die status quo met hand en tand te verdedig en elke poging van Afrikaners om te hergroepeer verdag sal maak.

Diegene wat voordeel put uit die huidige korrupte bewind sal waarskynlik nie huiwer om dit ook met geweld te verdedig nie. Die ANC, asook die Afrikaners soos De Klerk en Meyer wat hom geskep het, se tyd is besig om uit te loop. Hoe hulle gaan reageer as hulle besef dat die breë bevolking en veral die Afrikaners nie meer met hul eenparty-oorheersing deur propaganda en intimidasie gediend is nie, is tot dusver nog duister. Dat die komende herskikking soos so dikwels in Afrika ook met onstabiliteit gepaard mag gaan, is nie onmoontlik nie.

Dit is daarom lewensbelangrik dat Afrikaners hulself so gou moontlik in ’n netwerk moet organiseer om sulke onstabiliteit die hoof te kan bied. Onlangse vrese rondom ’n “nag van die lang messe”, hoewel vir die oomblik ongegrond, is egter tekenend van die populêre besef dat die komende politieke herskikking in die land nie sonder ’n grootskaalse krisis mag plaasvind nie, net soos wat die ANC se koms ná 1990 met die ergste geweld in negentig jaar saamgeval het. Eenduisend mense het tydens die “eerste demokratiese verkiesing” gesterf toe die ANC sy mededingers eers fisiek uitgewis en toe by die stembus verslaan het; hoeveel gaan sterf as die ANC die mag moet afstaan aan ’n nuwe politieke groepering wat uit die huidige woelinge onder Afrikaners en Zoeloes mag onstaan?

Waarskynlik sal Mandela vreedsaam sterf; die afgang van die ANC se Afro-fascistiese eenpartystaat sal egter kwalik sonder geweld en ’n poging om ‘n diktatuur van die ZANU-PF-tipe in te stel, plaasvind.

mositaldent.ruФильчаков прокурор харьков

Maak 'n opvolg-bydrae