Volgens die Sondagkoerant Rapport, kruip wit studente tans weg op die Kovsiekampus. Daar is ook aan blanke vrouestudente deur swart mansstudente gesê: "Ons gaan alle ‘white bitches’ verkrag."
Volgens Karien Linström, primaria van Huis Emily Hobhouse, vergader die primarias van al die vrouekoshuise elke dag om die veiligheidstoestand op die kampus te bespreek.
“Ons het tot dusver geen ondersteuning van die UV se topbestuur gekry nie.”

Myns insiens was die insident by Reitz-koshuis wat op video vasgelê is en reeds CNN gehaal het ‘n grap; enigeen wat al in ‘n koshuis was, weet tot watter belaglike optrede groepsdruk veral jong seuns of mans kan oorreed. Maar ons moet ook toegee dat ons in ‘n abnormale land woon wat deur intense geweld en wedersydse rassegevoelens gekenmerk word. Die blanke Afrikanerman is van alle mag en invloed gestroop en word openlik deur die media en reklamebedryf (vgl. maar die Vodacom-advertensies) bespot as ‘n soort gekastreerde imbesiel. Een moontlike verklaring vir die seuns se optrede kan dus daarin geleë wees dat hulle ‘n magsfantasie probeer uitleef het deur swart vroue te verneder terwyl dit in die werklike lewe anders gesteld is en hulle waarskynlik daagliks deur swart amptenare of maghebbers verneder word. Trouens, die transformasie van die UV-kampus en koshuise verteenwoordig ‘n verskriklike demonstrasie van swart mag wat selfs bepaal met wie ‘n student sy kamer moet deel.