“Die uitvoerende bestuur van die UV verwerp die video in die sterkste moontlike terme as ʼn growwe skending van die werkers se menswaardigheid,” het die universiteit in ʼn verklaring wat op sy webwerf gepubliseer is, gesê.
Die woordvoerder van die Demokratiese Alliansie in die provinsie, Liana van Wyk, wat die video gesien het, het dit as “skokkend en onmenslik” bestempel.
Die video toon vier blanke mansstudente wat vier swart, bejaarde vrouewerkers ʼn bottel bier laat drink, ʼn wedren hardloop, rugby speel en dan kniel om vleis te eet waarop daar geürineer is, het sy gesê.
“Dit lyk asof hulle gewillig deelgeneem het maar hulle het nie geweet watter doel die video dien nie… dit was besonder vernederend om die taamlik senior dames op hul knieë te sien terwyl hulle die vleis eet.”
Die manskoshuis is gevra om ʼn video te maak en hulle het integrasie as die onderwerp gekies.
