In SA is urine politiek

ImageMyns insiens was die insident by Reitz-koshuis wat op video vasgelê is en reeds CNN gehaal het  ‘n grap; enigeen wat al in ‘n koshuis was, weet tot watter belaglike optrede groepsdruk veral jong seuns of mans kan oorreed. Maar ons moet ook toegee dat ons in ‘n abnormale land woon wat deur intense geweld en wedersydse rassegevoelens gekenmerk word. Die blanke Afrikanerman is van alle mag en invloed gestroop en word openlik deur die media en reklamebedryf (vgl. maar die Vodacom-advertensies) bespot as ‘n soort gekastreerde imbesiel. Een moontlike verklaring vir die seuns se optrede kan dus daarin geleë wees dat hulle ‘n magsfantasie probeer uitleef het deur swart vroue te verneder terwyl dit in die werklike lewe anders gesteld is en hulle waarskynlik daagliks deur swart amptenare of maghebbers verneder word. Trouens, die transformasie van die UV-kampus en koshuise verteenwoordig ‘n verskriklike demonstrasie van swart mag wat selfs bepaal met wie ‘n student sy kamer moet deel.

‘n Johannesburgse Engelstalige koerant (The Star) het die gebeure met ‘n Leon Schuster-film vergelyk. Dit wás uiters banaal. Maar daarom is die ongekende reaksie van die media, sowel plaaslik as internasionaal, so interessant. Hierdie banale en onbenullige insident word aangebied asof dit van dieselfde belang is as Iran se kernprogram, die Amerikaanse presidentsverkiesing of die jongste nuus oor die Israel-Palestinakonflik. Ook die plaaslike politici het nie op hulle laat wag nie en veral die DA het onmiddellik op sy mededinger, die Vryheidsfront Plus, toegesak en hom daarvoor geblameer. In Suid-Afrika is urine politiek en elkeen wil graag toustaan vir sy beurt by die urinaal.

Die feit dat soveel kommentaar op die Afrikaner fokus, ook in die Britse koerante, wil vir ons sê dat Engelse dit as ‘n geleentheid sien om tot hul eeue-oue spel van Afrikanerverguising oor te gaan. Waar Engelse hulle aan dieselfde of soortgelyke "rassistiese" gedrag skuldig maak, word dit eenvoudig afgelag en in ‘n "goeie gees" aanvaar. So was daar vandeesweek, te midde van die Reitz-bohaai, ‘n episode op Hoëveldstereo waarin Jeremy Mansfield ‘n swart vroulike leerlingbestuurder op die lug verneder het met allerlei absurde vrae en ook toespelings gemaak het dat die hele land se verkeerspolisie korrup is. Van die vrae wat aan haar gestel is, was onder meer hoeveel sy dink die gangbare bedrag is waarmee mens ‘n verkeerspolisieman moet omkoop.

Waarskynlik die enigste positiewe uitslag van die hele bohaai is dat die reënboognasieteorie nou finaal ontmasker is as ‘n blote set om die Afrikaner van sy politieke, institusionele, kulturele en taalregte te ontneem. Reitz en veral die oorreaksie daarop sê vir ons dat ons dringend ‘n ander politieke model nodig het as die fantasie van demokrasie en versoening wat onlangs aan ons opgedis is en in die praktyk niks beteken nie.

In die VSA het gedwonge integrasie na 50 jaar nie tot groter harmonie en wedersydse begrip gelei nie, maar tot meer de facto-segregasie en rassehaat. Tans word hier by ons ʼn geslag blankes op die skoolbanke groot wat hul eie status as tweederangs ervaar. Daar word teen hulle gediskrimineer sover dit toegang tot universiteitstudie en uiteindelike werkgeleenthede betref. Sowel die staatsdiens as groot maatskappye reserveer deesdae feitlik alle poste vir “voorheen benadeeldes”, wat ʼn eufemisme vir swartes verteenwoordig.

Transformasie, regstellende aksie en alles wat daarmee saamhang, veroorsaak onvermydelik rassespanning, selfs rassehaat, veral onder jongmense wat die ergste daaronder deurloop. Die gebeure by Reitzkoshuis en veral die reaksie daarop, verteenwoordig ʼn byna volmaakte illustrasie hiervan.

Terwyl blanke rassisme jeens swartes in Suid-Afrika ʼn marginale verskynsel verteenwoordig, kan dieselfde nie van anti-blanke gevoelens gesê word nie. Miljoene swartes, vanaf president Mbeki wat reeds herhaalde anti-blanke uitsprake gemaak het, is van mening dat blankes boos is en nie in Afrika hoort nie. Trouens, tydens inbelprogramme op radiostasies het vele swart inbellers vandeesweek van ʼn komende rasseoorlog gepraat. Indien ʼn onbenullige studentepoets in Bloemfontein genoeg is om emosies so op te jaag dat mense dreig om mekaar oor rasgrense heen te begin doodmaak, is dit mos duidelik dat die huidige stelsel en veral die ANC-leierskap totaal misluk het om enige harmonie of vrede in die land te bewerkstellig.

ʼn Tyd gelede het sms’e rondgevlieg om teen die “nag van die lang messe” na Mandela se dood te waarsku. In Rwanda is die staatshoof se vliegtuig darem afgeskiet voordat Hutu’s begin het om Tutsi’s voor die voet uit te moor. In ekstremistiese Suid-Afrika is geen ernstige politieke insident blykbaar nodig om volksmoordgevoelens onder die swart bevolking gaande te maak nie. Al wat nodig is, is ʼn paar bottels bier, ʼn rugbybal en sprake van urine.

школьные рубашки для девочеклобановский александр