Zille bewus van uitgebreide spioenasienetwerk

Helen Zille het aan Die Burger bevestig dat daar op haar en haar kabinet gespioeneer word. Die netwerk en hoe dit funksioneer is verlede week deur ’n onafhanklike bron aan haar verduidelik. Die doel daarmee is om die DA te probeer diskrediteer.

Sy weet ook wie betrokke is by die spioenasienetwerk wat aan die ANC rapporteer.

Die netwerk het vastrapplek in tien provinsiale departementein die Wes-Kaap. Dit is die enigste provinsie in Suid-Afrika wat nie deur die ANC regeer word nie.

As burgemeester was Zille gewaarsku oor moontlike planne wat teen haar gesmee sou word indien die DA die provinsie in die afgelope verkiesing sou wen. Die spioenasienetwerk bestaan glo al 'n geruime tyd.

“Dit is duidelik beplan. Dit is ’n rapporteringslyn na die ANC. Ek besef wat aangaan. Name is aan my gegee. Ek dra kennis van die struktuur en weet hoe dit lyk. Ek weet wie daarby betrokke is,” het Zille gesê.

“Ek gaan dié ding stap vir stap hanteer. Baie van die goed wat verlede week gebeur het, hou daarmee verband. Ek gaan nie oorreageer nie. Ek is heeltemal kalm.”

Die hele doel is om die nuwe politieke leierskap in die verleentheid te stel, het sy verduidelik.

“Elke dingetjie – al is dit hóé klein – word uitgesoek om ons in die verleentheid te stel.”

Sy wou nie verder uitbrei nie. “Ek is nog besig om die kat uit die boom te kyk. Ek het taamlik baie inligting. Ek weet wie, waar en wat. As jy inligting het, is dit makliker om ’n situasie te hanteer,” het Zille gesê.

Mnr. Garth Strachan, ANC-woordvoerder, het gesê Zille het te veel John le Carré se spioenasieverhale gelees.

эстетическая реставрация зубовДанильченко Харьков