Karel Combrinck: Rom, rom rom, so kom ons om

Deur die eeue is die Europese beskawing telkens deur toestromings of invalle uit ander wêrelddele bedreig. Tot met die twintigste eeu was hierdie toestromings so te sê deurlopend beperk tot bevolkings met min of meer dieselfde etniese aard en kenmerke. Sedert die middel van die twintigste eeu is dit nie meer so nie en is die vloedgolwe van werksoekers of asielsoekers of wat-ook-al-soekers net nie meer kultureel assimileerbaar nie. Van geval tot geval, het die Europese beskawing op verskillende maniere gereageer teenoor bedreigings van buite, maar meesal het hulle daarvoor geswig.

Hoewel die linksliberale engeltjies hulle vlerkies laat fladder en histeriese gilletjies laat hoor by die aanhoor van woorde soos «toestroming» of «besetting» (of «invasie», Hans!), of enige ander vergelyking tussen die groot volksverskuiwings (Völkerwanderungs) van die verlede en die huidige situasie, bestaan daar talle ooreeenkomste tussen die toestand in Europa vandag en veral dié voor die val van Rome. Die linkse engeltjies argumenteer dat die asielsoekers, vlugtelinge en fortuinsoekers Europa vandag in vrede binnestroom en nie met geweld nie, maar die resultaat bly uiteindelik dieselfde. Die «vlugtelinge» het teen hierdie tyd al goed agtergekom dat hulle Europa kan beset sonder om ‘n skoot te vuur.

Teen die aanvang van die vyfde eeu was Rome ‘n slympoel van morele, militêre en politieke verval. Die dekadente heersersklas het totaal kontak met die werklikheid verloor en het haas geen weerstand meer probeer bied teen die druk wat die Romeinse ryk uit alle oorde bedreig het nie. Inderwaarheid is hulle gefassineer deur die «barbaarsheid» wat hulle lewensruim begin binnedring het, want op ‘n bepaalde manier het dit darem ‘n soort lewenskragtigheid verteenwoordig vir ‘n gemeenskap wat in groot mate lewensat geraak het. ‘n Soort selfmoordsindroom het hom van die Romeinse bevolking, veral die heersersklas, meester gemaak.

Een van die redes vir die ondergang van Rome was die eindelose reeks van, meesal, nuttelose oorloë wat hulle in die voorafgaande jare gevoer het teen alles wat leef en beef. Die parallel met moderne Europa is weereens duidelik, ‘n eindelose reeks oorloë wat uitgeloop het op die groot oorloë van 1914-18 en 1939-45 wat die Europese bevolkings ongeveer wit gebloei het. (D.w.s. dié wat hoegenaamd nog wit is). Vandaar dat hulle nou dink hulle kan hulle verswakte geenpoel met Afrikane en Arabiere aanvul.

Die barbare het dus die Romeinse ryk meesal sonder stamp of stoot of teen halfhartige Romeinse weerstand oorrompel: Gote, Vandale, Saksers, Swabiërs, Friese, Jute, Franke, Hunne, Boergondiërs en Lombarde. ‘n Algemene praktyk was dat die Romeine probeer het om die barbare met somme geld asook geskenke van uitgebreide grondgebied af te koop ten einde hulle te oorreed om hulle strooptogte te staak. Dit het tog nie verhoed dat die Gote Rome in 410 in puin gelê het nie. Die Oos-Romeinse keiser, Theodosius, het selfs sy kleindogter as bruid aan Attilla geskenk en sy eie dogter Aelia Galla Placidia was getroud met die koning van die Gote.

Vergelyk hiermee die Europese Unie wat nou 3 miljard euro aan Turkye gaan betaal, asook visumvereistes gaan verslap sodat Turkye die «toestroming van vlugtelinge na Wes-Europa kan help stuit». Nou wat op aarde die Turke verhoed om, soos die Hunne en Vandale van ouds, die geld te vat en tog niks omtrent die vlugtelingprobleem te doen nie, sal niemand weet nie. En nog minder sal iemand weet hoe ‘n mens die toestroming van immigrante hok slaan deur die verslapping van visumregulasies. Feit is, dis net ‘n foefie om die indruk te skep dat iets aan die saak gedoen word.

Vir baie jare reeds voor die inploffing van hulle ryk het die Romeine gebruik gemaak van nie-Romeinse slawe om hulle werk te doen en van nie-Romeinse soldate om hulle te verdedig. Meeste van hierdie soldate was juis sg. «barbare », soos onder meer die Gote en die Galliërs wat vir letterlik eeue die swaartepunt van die Romeinse leër uitgemaak het. Die Oos-Romeinse ryk het selfs Hunne as huursoldate gebruik. Vergelyk hiermee die miljoene vreemde werkers wat Wes-Europa die afgelope dekades binnestroom. Die «gelukskoot vir Duitsland», waarvan mev Merkel praat, is duidelik net goedkoop arbeid vir Duitse nywerhede. Hoeveel vetkatte wêreldwyd ry nie reeds met BMW’s en Mercedes-Benze wat deur derdewêreldarbeid aanmekaar gesit is nie.

Ná die finale induiestorting van die Wes-Romeinse ryk, teen die einde van die vyfde eeu, was daar van regering nie meer sprake nie en het totale wanorde ingetree. ‘n Menigte Germaanse stamme onder leiding van hulle onderskeie koninkies en stamhoofde het maar sake onder mekaar uitgespook. Mettertyd het ‘n Germaanse stam, die Franke, egter daarin geslaag om die oorhand te verkry nadat hulle inderdaad grootliks in die Latynse kultuur opgeneem is, wat in daardie stadium die gedaante van Frans begin aanneem het. Die belangrike punt is dus dat hierdie «barbare» wel vatbaar was daarvoor om in die Westerse, christelike kultuur opgeneem te word, met die uitsondering van die Hunne wat Mongole was en van wie daar in elk geval geen spoor in Europa oorgebly het nie.

‘n Duisend jaar na die val van Rome het dieselfde lot ook Konstantinopel, die hoofstad van die Oos-Romeinse ryk (Bisantium) te beurt geval en min of meer om dieseselfde redes. In 1453 het die Turke Konstantinopel sonder veel moeite ingeneem en so ‘n vastrapplek op die Europese vasteland verkry wat hulle tot vandag toe nog het en waarvandaan hulle die Wes-Europese samelewings eeue lank onverpoosd kon bedreig.

Die val van Rome en van Konstantinopel het ook die einde beteken van die christelike beskawings in Noord-Afrika en in Klein Asië (vandag Turkye). Ook die einde van ou christelike stede soos Alexandrië, Efese, Pergamum, Tarsus en Antiochië. In die vierde eeu n.C. was die christenbevolking van Noord-Afrika groter as dié van die res van die destyds bekende wêreld altesaam. Hiervan het niks oorgebly nie.

Daar was tog ook enkele gevalle waar die Europese beskawing sy rug teen indringers styf gemaak het. So het die generaal Aetius, half Romeins en half Goties, met ‘n mengelmoesleër van Romeine, Gote, Franke, en Boergondiërs in 451 die Hunne by die Franse stad Troyes oortuigend verslaan. In 732 het Karel Martel die Arabiese invallers wat Frankryk vanuit Nood-Afrika deur Spanje binnegedring het, by die stad Poitiers voorgekeer en verpletter. Soortgelyk was die oorwinning van ‘n Europese alliansie teen die Turke by die groot seeslag van Lepanto in 1571, asook die oorwinning van die Oostenrykers, weer teen die Turke, voor die poorte van Wene in 1683.

Maar ongelukkig is hierdie gees sedertdien nie konsekwent in Europa gehandhaaf nie. Nadat die Engelse in die laaste wêreldoorlog hardnekkig weerstand gebied het teen die Duitsers wat hulle ook as barbaarse invallers beskou het («the Hun»), laat hulle toe dat Pakistani’s en Nigeriërs hulle land letterlik beset. En daar is vandag meer Turke, Afrikane en Arabiere in Europa as op enige ander tydstip in die geskiedenis en hulle word elke dag net nog meer. Kortom het ons vandag weer ‘n soort situasie soos voor die val van Rome toe ‘n heersersklas te dekadent en lamlendig was om ‘n voet te versit om hulle eie lewens en beskawing te verdedig. Inderwaarheid het hulle vrotsigheid toe, soos nou, ‘n lugleegte geskep wat die «barbare» van buite die ryk ingesuig het. Die rede vir die val van Rome was nie soseer die mag van die barbaarse Germaanse, Slawiese en Turkse stamme wat hulle uit die Noorde en Ooste bedreig het nie, maar hulle eie ruggraatloosheid en lamsakkigheid. Dit behoef geen besondere wysheid, insig of geleerdheid nie, om te sien dat Europa vandag in dieselfde situasie verkeer.

Tans is dit hoofsaaklik die probleem dat die jongste vloedgolf immigrante, oorwegend Moslems, sy dit dan nou vlugtelinge of nie, die christelike geloof en beskawing net nooit sal aanvaar nie. Hulle is onopneembaar en sal dit bly tot in lengte van dae. In Engeland is die poging om immigrante in die Engelse samelewing te integreer jare gelede reeds prysgegee. Vandag streef die Engelse die sosiale model na van gemeenskapsvorming. Daar word dus nie meer getrag om indiwidue in die Engelse samelewing op te neem nie, as’t ware van hulle «Engelse» te maak nie, maar om die vestiging van verskillende etniese en godsdienstige gemeenskappe binne die landsgrense aan te moedig. In Engeland het hierdie program nou al sover gevorder dat daar inderdaad moslemgeregshowe is wat sake tussen Moslems beslis. En ons weet natuurlik almal van die gebiede in Engeland (no go areas) waar die Britse regering, polisie ens net nie meer toegang het nie.

Die stelsel van integrasie het dus jammerlik misluk. Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat die community model ook misluk want, soos enige redelike intelligentge mens weet, water en olie het die eienskap dat hulle nie meng nie.

Die jongste gebeure in Europa het onmiskenbaar bewys dat hierdie vloedgolf uit die moslem- en derdewêreld net geen etniese, kulturele of godsdienstige affiniteit met die Westerse beskawing het nie. Die sg. Siriese «vlugtelige» gaan trouens uit hulle pad om hulle veragting vir Westerse bekawingsnorme te kenne te gee: massaverkragtings van vrouens en meisies, die besoedeling van paaie en openbare plekke , beskadiging van eiendom en wat nog meer. Die jongste berigte dui daarop dat in Duitsland (Zwickau) hulle vrouens in swembaddens aanrand, in die water en storte ontlas en sover gaan as om openlik langs die swembaddens te masturbeer. Kyk gerus maar self deur die sleutelwoorde op die internet in te tik.

Is hierdie situasie dít wat mev Angela Merkel as ‘n «meevaller» (chance) vir Duitsland beskryf ? Verrotte verstand is nie beperk tot ministers van die Nasionale Party nie. Gaan die Duitsers maar voortsluimer en slaap, soos ons ook, tot Ta’ Ingeltjie hulle land met «meevallers» te gronde gerig het? Gaan die Westerse lande in hierdie jongste migrasiekrisis ons verras en anders optree as wat hulle die afgelope veertig jaar reeds optree? Daar was ‘n storietjie dat die Deense regering die immigrante vir hulle eie onderhoud wil laat betaal en nog ‘n ander beriggie dat die Swede 80 000 vlugtelinge wil repatrieer. En dan ook nog beriggies van betogings wat hier en daar beplan word. Ons sal maar sien wat daarvan word, maar in elk geval bly dit maar maar speldeprikkies aan die probleem wat reeds dekades voortwoed, gerugsteun deur ‘n linksliberale pers en futlose politici. Intussen gaan ons maar voort om ons eie grafte te grawe wat.

In sekere sin het ons ook ‘n volksverskuiwing in Suid-Afrika gehad. In my kinderdae was daar bykans geen swartes in groot dele van die Kaapprovinsie nie en in elk geval geen in die Wes-Kaap nie. In die sestigerjare het die Nasionale Partyregering op die briljante gedagte gekom om goedkoop swart arbeid uit die Transkei na die Wes- en Suid-Kaap in te voer. En steeds vandag karwei die vrugteboere in die Wes-Kaap nog steeds duisende goedkoop swart arbeiders uit die Transkei aan om in die vrugteboorde en wingerde te kom «werk» . Uit ondervinding weet ons dat hierdie werkers hulle by die eerste die beste geleentheid uit die voete maak om op die Kaapse vlakte te gaan plak. So ons is ook maar in ‘n swak posisie om lesse uit te deel.

Thailand blameer Moslemgroep vir Bangkok-bom

Die hoof van Thailand se polisie het Woensdag verklaar dat die Bangkok-bomontploffing met China se Oeigoer-minderheid verbind word.

Die bomontploffing op 17 Augustus het die lewe geëis van 20 mense, van wie die meeste etniese Chinese was.

Dit het die vermoede laat ontstaan dat militante of ondersteuners van die oeigoere, ‘n etniese groep wat aanvoer dat hulle in China vervolg word, vir die ontploffing verantwoordelik was.

‘n Maand tevore het Thailand meer as 100 Oeigoer-vlugtelinge na China gedeporteer, wat internasionale kritiek uitgelok het en tot gewelddadige protes in Turkye gelei het.

Moslems in Turkye beskou die Oeigoer-minderheid as deel van die globale Turkssprekende familie.

Die Han Chinese beset tans die invloedryke posisies in China se Xinjiangprovinsie waar die meeste Oeigoere woon.

Aktiviste sê hul kommersiële en kulturele aktiwiteite word geleidelik ingeperk deur die Chinese staat.

Daar is klagtes van ernstige beperkings op Islam, met minder moskees en streng beheer oor godsdienstige skole.

Bangkok-bommer is ‘uitlander’

Die man waarna Thailand se owerhede nou soek, is opgemerk op kringtelevisie-beeldmateriaal naby die Hindoe Erawan-tempel waar die bom ontplof het.

‘n Polisiewoorvoerder, het aan AP gesê die man is nie slegs die verdagte nie, hy is die bomplanter.

Daar word vermoed dat die verdagte van Oeigoer-oorsprong is, maar premier Prayut Chan-o-cha het Woensdag die gerugte ontken. Die Oeigoere is ‘n Moslemminderheid van die weste van China wat streef daarna om outonomie van die vasteland te bekom.

Die Bangkok Post het die week gesê Oeigoermilitante het die bom geplant uit weerwraak na Thailand se deportasie van 109 Oeigoervlugtelinge na China.

Minstens nege van die slagoffers was burgers van verskeie Asiatiese lande, maar veral Chinese het omgekom.

Die regering het gesê die aanval Maandag tydens spitstyd in Bangkok se middestad was daarop gemik om die ekonomie en die toerismebedryf te vernietig.

Niemand het nog verantwoordelikheid vir die daad aanvaar nie.

Dinsdag het die spanning in die stad toegeneem toe ’n klein ploftoestel van ’n brug af in ’n rivier gegooi is, maar niemand is beseer nie, het ’n polisiebeampte op die toneel gesê.

Somyot Pumpanmuang, Thailand se nasionale polisiehoof, het egter toegegee dat die man ‘n buitelander kan wees.

“Daardie man het ’n rugsak gedra en verby die toneel gestap toe die voorval plaasgevind het. Maar ons moet na die beeldmateriaal voor én ná die voorval kyk om te bepaal of daar ’n verband is,” het Somyot op ’n media­konferensie gesê.

Die polisie het die toneel van die ontploffing Dinsdag vir leidrade gefynkam. Die polisie het ook bevestig dat 22 mense dood en 123 in die aanval beseer is.

Volgens die polisie is die ontploffing deur ’n pypbom veroorsaak.

China se amptelike nuusagentskap, Xinhua, het berig dat vier van die slagoffers Chinese was.

Twee Maleisiërs, ’n Singapoerees, ’n Indonesiër en ’n Filippyn het ook omgekom. Talle van die gewondes is Chinese en Taiwanners.

Duitse herrie oor bankier se uitlatings oor Turke en Arabiere

Thilo Sarrazin‘n Raadslid van die Bundesbank, die Duitse reserwebank, loop gevaar om afgedank te word as gevolg van sy uitsprake oor Turke, Arabiere en ander immigrante. Thilo Sarrazin (64), ‘n voormalige minister van finansies van die Berlynse deelstaat, het op 30 Augustus ‘n boek gepubliseer met die titel, Deutschland schafft sich ab (Duitsland skaf homself af), waarin hy omtrent elke taboe in die polities korrekte boek oortree.

Volgens Sarrazin, is daar neigings onder Duitsland se Moslembevolking om nie te integreer en om meer op welvaartsbetalings staat te maak as om produktief te wees. Hy het ook bereken dat hul bevolkingsgroei teen sy huidige tempo dié van die Duitsers binne ‘n enkele geslag kan oorweldig. Hy stel streng hervormings van die welvaartstelsel voor om dit te verhoed. Die boek het binne die eerste paar dae so ‘n opskudding veroorsaak dat dit reeds ses keer herdruk moes word.

‘Joodse gene’

Verdere olie op die vuur sy onderhoud in Welt am Sonntag waarin Sarrazin beweer het dat “alle Jode ‘n sekere geen in gemeen het net soos wat alle Baske ‘n sekere geen met mekaar deel en wat hulle van ander mense onderskei”. Sarrazin het intussen effens hieroor teruggekrabbel deur te sê dat hy niemand wou irriteer nie, maar het verduidelik dat sy mening oor Jode gegrond was op ‘n berig wat in die Frankfurter Allgemeine Zeitung verskyn het waarin verwys word na ‘n onlangse studie deur Gil Atzmon en ander wat in die American Jounal of Human Genetics gepubliseer is.

Sarrazin is ‘n lid van die links SPD-party en vele van sy medepartylede wil hom nou vanweë sy polities onkorrekte uitsprake laat skors. Hy het egter sy vyande uitgedaag deur te sê: “Ek sal tot my sterwensdag aan die SPD behoort.”

Daar word ook intens gespekuleer dat Sarrazin by sy werk afgedank mag word. Dit sal egter nie so maklik wees aangesien slegs die president van Duitsland in staat is om ‘n raadslid van die Bundesbank af te dank. Tensy die president deur die bank se bestuur oortuig kan word om hom af te dank, kan hy nog tot 2014 in sy pos aanbly.

Die voorsitter van die Bundesbank, Axel Weber, het egter gesê dat Sarrazin “aansienlike skade” aan die organisasie se reputasie aangerig het. Die bank het veral beswaar teen sy uitlatings dat “twintig persent van Berlyn se bevolking oorbodig is. ‘n Groot aantal Arabiere en Turke in hierdie stad, wie se getalle weens verkeerde beleid toegeneem het, het geen produktiewe funksie nie behalwe om groente en vrugte te verkoop.” Volgens Weber moet “elke werknemer homself afvra of die bydrae at hy tot die instelling lewer in werklikheid tot die vooruitgang van daardie instelling bydra of nie.”

Terwyl politici oor die hele politieke spektrum hulself van Sarrazin se menings gedistansieer het, ontvang hy heelwat steun van die publiek en van hoofartikels in Duitsland se invloedrykste koerante.

Die Frankfurter Allgemeine Zeitung verklaar: “Die kanselier en die president… het ‘n bastion van onafhanklikheid in ‘n skoothondjie verander en ‘n boek in ‘n staatskwessie verander. Dis kennelik onmoontlik om meer beskeie in Duitsland te reageer as iemand die feëverhaal aan die kaak stel dat alles wel is met immigrasie en integrasie.

As ‘n martelaar vir meningsvryheid en ‘n hoofgetuie vir aanklagte wat deur breë lae van die sameleweing gemaak word, gaan Sarrazin vir ‘n lang tyd by hulle spook. Ontstoke kommentaar deur diegene soos die minister van binnelandse sake wat beweer dat die probleme wat deur Sarrazin beskryf word reeds lank bekens is, klink na ‘n grap in die ore van baie mense: as die probleme so lank bekend is, waarom is so min gedoen om hulle op te los?”

Die Sudddeutsche Zeitung beweer op sy beurt: “Dit gaan waarskynlik Sarrazin se gewildheid laat toeneem. Die diepte en breedte van die steun wat Sarrasin se argumente in die meningsopnames geniet, maak dit duidelik dat Duitsers regoor die politieke spektrum ongemaklik met die huidige integrasiesituasie voel…”

‘Rassisme’

Die Duitse adjunkkanselier Guido Westerwelle het egter vir Sarrazin daarvan beskuldig dat hy haat opstook. “Opmerkings wat rassisme of selfs anti-Semitisme voed, het geen plek in ons politieke gesprek nie,” het hy gesê.

Nog ‘n lid van die Duitse kabinet, die verdedigingsminister Karl-Theodor zu Guttenberg, meen die bankier “het die grense van provokasie oorgesteek”.

Die Duitse kanselier Angela Merkel het Sarrazin veroordeel vir sy “dom en sinnelose” verklarings.

Maar sy het toegegee dat verbeterings in die onderwysstandaarde van immigrantegemeenskappe nodig is.

“Die sleutel is om die Duitse taal te bemeester. Indien ons dit bevorder en vereis, dan sou diegene wat in Duitsland kom woon enorme geleenthede hê en sou hulle ons lewens verryk,” het sy gesê.светильник потолочныйпрокурор Фильчаков