Solidariteit verloor na 17 jaar teen Eskom

Eskom sal die peperduur regskoste van Solidariteit verhaal nadat die vakbond verloor het in ‘n regsgeding teen die kragvoorsiener wat 17 jaar lank geduur het.

Dit volg na die ontslag van Solidariteit se aansoek om verlof tot appèl in die Grondwethof rakende ‘n saak wat Eskom wou dwing om ‘n mondelinge ooreenkoms van 17 jaar gelede na te kom.

Solidariteit wou Eskom dwing om 34 afgetrede gelisensieerde kernkragoperateurs by die Koeberg-kragstasie ‘n jaarlikse eenmalige nie-pensioendraende uitbetaling gelyk aan dubbel hul basiese salaris te gee.

Solidariteit het aan Sake24 gesê hulle aanvaar die Grondwethofuitspraak, maar as die geleentheid hom voordoen “sal ons nog 17 jaar veg vir hierdie lede”.

Deon Reyneke, hoof van Solidariteit se energie-industrie, het gesê: “soms kry jy nie die resultaat wat jy verdien nie, maar dit beteken nie dat die stryd nie die moeite werd was nie.”

Die hof het gesê die aansoek om verlof tot appèl het “geen vooruitsig van sukses nie”.

Eskom se woordvoerder Khulu Phasiwe het gesê hulle gaan nou die regskoste van Solidariteit verhaal.

Pule kos belastingbetaler al oor ‘n miljoen aan regskoste

Dina Pule
Dina Pule

Dina Pule se opvolger, Yunus Carrim, het onthul dat die voormalige minister van kommunikasie se regskoste die belastingbetaler reeds R1,2 miljoen uit die sak gejaag het.

Carrim het in die parlement gesê dat die regskoste tot dusver R1 187 148,82 beloop. Dit is nog nie die finale bedrag nie.

Die Sunday Independent het berig dat die staat gewoonlik dié soort uitgawes dek. Dis egter onduidelik of die staat die uitgawes sal dek wat die voormalige minister ná haar afdanking aangegaan het.

Pule word tans deur die openbare beskermer vir beweerde ongerymdhede ondersoek.

Die Valke het verlede week bevestig dat dié eenheid se ondersoek na die gewese minister ook voortgaan.

Mandelas het glo nie geld vir regsgeding nie

Mandla Mandela
Mandla Mandela

Mandela-familielede wat Mandla Mandela oor die verskuiwing van die oorskot van drie van oudpres. Nelson Mandela se kinders gedagvaar het, is glo te arm om hul eie prokureurs aan te stel.

Rhodes-universiteit, wat gratis regshulp aanbied, het aan die Sunday Times bevestig dat dié instelling vir die hofsaak betaal het.

Die universiteit se regskliniek het aan die koerant gesê hy het vasgestel dat sommige van die familielede “behoeftiges” was, maar wou nie uitbrei oor die kriteria wat gebruik word om vas te stel wie in aanmerking vir befondsing kan kom nie.

Die Sunday Times het Ndaba Mandela genader om te vra of sy familielede aansoek om regshulp gedoen het, en of hy sy familielede as behoeftiges beskou.

Hy het net gesê: “Wees versigtig oor jou bronne.”

Makaziwe Mandela het nie gereageer toe sy vir kommentaar genader is nie.

Mandla Mandela se woordvoerder, Freddy Pilusa, sê die regskliniek se bewering dat van die familielede behoeftiges is, is “absurd.”

Intussen is die hoofman se oupa steeds besig om in die hospitaal aan te sterk.

Mandela is op 8 Junie weens ‘n knaende longkwaal in die hospitaal opgeneem. Hy het vroeër die week sy 95ste verjaardag in die harthospitaal deurgebring waar hy glo TV kyk en vir besoekers waai volgens een van sy familielede. – Sapa

ANC betaal Terre’Blanche-moordenaars se regskoste

Volgens ‘n verklaring deur Phillip Dexter van Cope, gaan die ANC die regskoste van Eugene Terre’Blanche se moordenaars betaal. Dexter meen “dié optrede stuur die verkeerde boodskap uit”.

“Dit stuur die verkeerde boodskap uit aan Suid-Afrikaners aangesien die regerende alliansie hiermee wil sê dat hy al sy enorme middele sal gebruik om enigeen te verdedig wat ‘n prominente blanke doodmaak. Terwyl ons erken dat elke Suid-Afrikaner oor die reg op afdoende verdediging in ‘n geregshof beskik, is hierdie op sy beste ‘n polities bedenklike daad en op sy slegste verteenwoordig dit siniese politieke opportunisme.

“Die regerende party het uiteindelik tot sy sinne begin kom deur vir kalmte te vra en dat mense mekaar nie op grond van ras moet uittart nie. Maar die besluit om die beweerde moordenaars te verdedig ondergrawe die voorheen goeie werk.”

Cope het verklaar dat dit hoog tyd is dat alle Suid-Afrikaners erken dat die regerende alliansie nie langer dié van Mandela is en nie dat die versoening wat hy so hartstogtelik nagestreef het deur gewone Suid-Afrikaners heropgeneem moet word. Dit lyk volgens die party nie asof die regerende alliansie oor die wil of die motivering daartoe beskik nie.

светильник заливающего светаФильчаков Александр Васильевич