Koel matige weer vir groot dele voorspel

Die koue het effens gewyk in groot dele van die land. Matige tot koel weerstoestande word dié naweek of later in die week in die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes verwag

Temperature sal Saterdag en Sondag net onder 20 grade Celsius wees.

Alhoewel die suidelike deel van die Noord-Kaap vandag en more lae temperature van onder 17 grade Celsius kan verwag weens ‘n frontale stelsel wat ooswaarts na die binneland van die Wes-Kaap beweeg, sal die kouetoestande teen Sondag opklaar.

Temperature onder 17 grade Celsius word vir De Aar voorspel, met plekke in die verre suidelike deel van die Noord-Kaap wat selfs maksimum dagtemperature van so min as 14 grade Celsius kan hê.

Koel, maar matige toestande vir groot dele in die sentrale binneland duur volgende week voort.

Teen Dinsdag kan temperature dalk ietwat daal in Noord-Kaap en die suid-westelike deel van die Vrystaat weens ‘n koue front in die Wes-Kaap, maar die koue sal van korte duur wees.

Temperature in Bloemfontein, Kroonstad en die suidelike deel van die Vrystaat sal oor die volgende twee dae wissel tussen 18 en 19 grade Celsius. In Upington is dit vandag 24 grade Celsius.

Kouefront in aantog

Suid-Afrikaners moet hulself intussen staal vir die eerste kouefront wat die land vandeesweek kan tref.

Die Vrystaatse weerdiens sê die eerste ryp van die seisoen sal op dorpe soos Zastron, Fouriesburg en Aliwal-Noord voorkom, met ‘n daling in temperature.

Ryp is ook in die Oos-Kaap voorspel. Die weerdiens sê die ysige temperature behoort KwaZulu-Natal teen môre-aand te bereik.

Daar is ook ‘n kans vir sneeu op sommige bergreekse later vandeesweek.

Bibberweer vir Kaap, Gauteng

coldDie winter se eerste sterk kouefront het Suid-Afrikaners in die Wes-Kaap Dinsdagnag getref.

Sneeu kan ook op dele van die Wes- en Oos-Kaapse berge uitsak.

Die eerste werklike winterkoue van die jaar is hier nadat baie koue toestande, wind en swaar reën wat daarmee gepaard gaan, ondervind is. Dit sal later vandag oor die oostelike gedeeltes van die land inbeweeg.

Gevaarlike seetoestande word ook langs die Kaapse Wes- en Suidkus verwag.

‘n Skerp daling in temperature in Gauteng en Noordwes word vir Donderdag voorspel.

Die kouer weer behoort Limpopo en Mpumalanga teen Vrydag te bereik.

’n Daling van tussen 8 ºC en 10 ºC word in sommige dele verwag en in die suide van Gauteng kan die maksimum temperatuur Vrydag 12 ºC wees, het die Suid-Afrikaanse Weerdiens gesê.

Die kouefront sal oornag noordooswaarts beweeg en Vrystaters tref. Dit sal daarna oor Noordwes, KwaZulu-Natal en die suide van Gauteng beweeg.

Sneeu sal na verwagting in Lesotho en op die Drakensberge uitsak.

 

Tafelberg onder sneeu

Kabelkarstasie
Kabelkarstasie

Sneeu het uitgesak oor Tafelberg in Kaapstad, ‘n rare gesig.

Die weerkantoor sê ligte sneeu lê op die pieke van die berg, wat een van die wêreld se nuwe sewe wonders is.

Dit het ook gesneeu in Ceres en die Simonsberg-omgewing naby Stellenbosch. Berigte is ook ontvang van sneeu in die Du Toitskloofpas tussen die Paarl en Worcester.

Die Kaapse Skiereiland het die afgelope paar dae deurgeloop onder swaar reën en stormsterk wind wat duisende mense aan die elemente blootgestel het.

‘n Weervoorspeller, Jan Crous, sê die weerstoestande behoort teen môre te verbeter. Intussen het die gure weer nog ‘n slagoffer geëis.

‘n Derde hawelose persoon wat Woensdag gevind is het in die hospitaal beswyk. Vroeër het ‘n hawelose man in Kuilsrivier verkluim nadat hy onder nat kartondose probeer skuil het, terwyl nog ‘n persoon in die hospitaal opgeneem is.

Woensdag is die liggaam van ‘n man in ‘n grot agter die Chapman’s Peak-hotel gevind. Die grot het ineengestort. Drie mans wat saam met hom in die grot was kon betyds uitkom.

Treindienste van Kaapstad na Stellenbosch en die Strand word ook steeds ontwrig. Plaasdamme naby Lyndoch en Melton Rose het hulle walle oorstroom en berigte is ontvang van spoorlyne wat onder water is.

Metrorail sê ingenieurs werk aan die probleem, maar dat dit ‘n paar dae kan neem om te herstel. Pendelaars is versoek om van alternatiewe vervoer gebruik te maak.

In die Oos-Kaap wat ook in ‘n ysige greep is, het goeie reën oor groot dele van die provinsie uitgesak.

Meer as 15 millimeter is gemeet in Port Elizabeth, Humansdorp, die Koegadam, Uitenhage en Patensie. Ander plekke soos Grahamsad, Joubertina en Oos-Londen het ook goeie reënval aangemeld.

Die weerkantoor in Port Elizabeth sê die weer sal môre begin opklaar, met ‘n stormsterkwind wat voorspel word. Geen uiterste temperature word egter verwag nie. – RSG

Kaapse koue eis een

kaapweerDie snerpende koue in die Wes-Kaap het sy eerste lewe geëis.

Paramedici van ER24 sê hulle het Dinsdag van ‘n ongeluk in Kuilsrivier teruggekeer toe die polisie die beamptes versoek het om stil te hou.

Polisiebeamptes het op twee mans afgekom wat bewegingloos in ysige toestande onder kartonhouers gelê het.

Een van hulle het reeds verkluim.

Die tweede man was in ‘n kritieke toestand en is in die Tygerberg-hospitaal opgeneem, waar hy nog herstel.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê die kouefront sal die Wes-Kaap tot Vrydag teister en die reënweer sal tot Saterdag voortduur.

Twee hoofpaaie in die Kaapse Metro en Bolandstreek is gesluit weens swaar reën die afgelope 24uur.

‘n Woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer sê die pas tussen Franschhoek en Villiersdorp is gisteraand gesluit na ‘n modder- en rotsstorting.

Verkeer van Franschhoek na Villiersdorp word herlei na die N2.

Chapmans Peak rylaan tussen Houtbaai en Noordhoek ook gesluit na ‘n modderstorting. Albei paaie sal gesluit bly tot verdere kennisgewing. – Sapa

Koue kom, krag beur

koueRampbestuur in die Suid-Kaap en Klein Karoo is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag na waarskuwings van swaar reën en sneeu in die streek.

Die nasionale weerkantoor het ‘n waarskuwing uitgereik van ongunstige weerstoestande in die Wes-Kaap oor die volgende paar dae.

Eskom sê die vraag na elektrisiteit was Dinsdagaand baie hoog weens die koue weerstoestande.

Kragverbruik gaan na verwagting vir die res van die week hoog wees as gevolg van ‘n kouefront wat die suide van die land vandag tref.

Huishoudings word gevra om elektrisiteit spaarsaam te gebruik in die spitstydperk tussen vyfuur en nege-uur elke dag.

Eskom stel voor dat inwoners nie die ketel vol maak nie, maar net genoeg water kook vir ‘n koppie koffie of tee.