Koel matige weer vir groot dele voorspel

Die koue het effens gewyk in groot dele van die land. Matige tot koel weerstoestande word dié naweek of later in die week in die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes verwag

Temperature sal Saterdag en Sondag net onder 20 grade Celsius wees.

Alhoewel die suidelike deel van die Noord-Kaap vandag en more lae temperature van onder 17 grade Celsius kan verwag weens ‘n frontale stelsel wat ooswaarts na die binneland van die Wes-Kaap beweeg, sal die kouetoestande teen Sondag opklaar.

Temperature onder 17 grade Celsius word vir De Aar voorspel, met plekke in die verre suidelike deel van die Noord-Kaap wat selfs maksimum dagtemperature van so min as 14 grade Celsius kan hê.

Koel, maar matige toestande vir groot dele in die sentrale binneland duur volgende week voort.

Teen Dinsdag kan temperature dalk ietwat daal in Noord-Kaap en die suid-westelike deel van die Vrystaat weens ‘n koue front in die Wes-Kaap, maar die koue sal van korte duur wees.

Temperature in Bloemfontein, Kroonstad en die suidelike deel van die Vrystaat sal oor die volgende twee dae wissel tussen 18 en 19 grade Celsius. In Upington is dit vandag 24 grade Celsius.

Koue en nat weer voorspel

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku dat oorstromings die volgende paar dae in dele van die Kaapse metropool, die Wynlanddistrik en die Overbergstreek kan voorkom.

‘n Kouefront sal dele van die Noord-Kaap en die Wes-Kaap vandag bereik en eers teen Saterdag begin wyk.

Dit sal gepaardgaan met swaar reën en rowwe seetoestande asook stormsterk winde wat aan die kus tussen Kaappunt en Kaap Agulhas verwag word.

Dié toestande sal uitbrei na die ooskus. Die kouefront sal teen die naweek dele van die Oos-Kaap bereik.

Koue en nat toestande word die naweek oor die binneland ook verwag, maar sonder sterk winde.

Reën en sneeu sal oor dele van KwaZulu-Natal, die Oos- en Wes-Kaap, die Vrystaat en Lesotho uitsak.

Reën word Saterdag en Sondag veral vir die oostelike dele van Mpumalanga, Limpopo en Gauteng voorspel met temperature oor die hele binneland wat sal daal.

Bergpasse sluit, plakkershutte oorstroom, beurtkrag aangepas

Sneeu en ysige windtoestande kom sedert Dinsdagaand voor oor die grootste dele van die hoogliggende gebiede in die Oos-Kaap en omliggende gebiede.

‘n Woordvoerder sê sneeu is ook in Lesotho en die Oos-Vrystaat aangemeld. Verskeie bergpasse moes gesluit word.

Nat en koue weerstoestande heers steeds in die Wes-Kaap. In die Oos-Kaap is alle bergpasse na Barkley-Oos vir verkeer gesluit.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens sê die koue toestande in die land kan toegeskryf word aan koue lug agter die koue front, wat besig is om uit die land te beweeg.

Duisende plakkers is geraak deur oorstromings in die omgewing van Kaapstad, weens swaar winterreën.

‘n Woordvoerder van die stad se Rampbestuursentrum, Charlotte Powell, sê nat weerstoestande het dele in Khayelitsha, die Strand, Delft en Gugulethu, geraak.

Mense word van hulp voorsien, maar nie noodskuiling nie.

Eskom se waarnemende bestuurshoof, Brian Molefe het by ‘n mediakonferensie in Johannesburg gesê dat hulle deur die winter drie keer meer instandhoudingswerk as vorige winters gaan doen.

Molefe sê Eskom beplan om beurtkrag tydens werksure te vermy om die impak op sakeondernemings te beperk. Beurtkrag sal dus eerder tydens spitstye voor 10uur soggens en na vyfuur smiddae, en oor naweke toegepas word.

Hy sê egter dat ‘n nuwe strategie hul beplande instandhoudingswerk aan hulle opwekkingseenhede, slegs tot minimale onderbrekings sal lei.

Eskom het intussen wysigings aan die Fases van beurtkrag aangekondig. Molefe het by ‘n mediakonferensie in Johannesburg gesê Fase Een beurtkrag sal steeds toegepas word as daar ‘n tekort van duisend megawatt is, en Fase Twee wanneer daar ‘n tekort van twee duisend megawatt is.

Fase Drie beurtkrag sal egter nou toegepas word wanneer daar ‘n tekort van drie duisend megawatt is. In die verlede is Fase Drie eers met ‘n tekort van vier duisend megawatt toegepas.

Volgens Molefe is dit om die gaping tussen Fase Twee en Fase Drie beurtkrag te verminder.

Kouefront in aantog

Suid-Afrikaners moet hulself intussen staal vir die eerste kouefront wat die land vandeesweek kan tref.

Die Vrystaatse weerdiens sê die eerste ryp van die seisoen sal op dorpe soos Zastron, Fouriesburg en Aliwal-Noord voorkom, met ‘n daling in temperature.

Ryp is ook in die Oos-Kaap voorspel. Die weerdiens sê die ysige temperature behoort KwaZulu-Natal teen môre-aand te bereik.

Daar is ook ‘n kans vir sneeu op sommige bergreekse later vandeesweek.