Bergpasse sluit, plakkershutte oorstroom, beurtkrag aangepas

Sneeu en ysige windtoestande kom sedert Dinsdagaand voor oor die grootste dele van die hoogliggende gebiede in die Oos-Kaap en omliggende gebiede.

‘n Woordvoerder sê sneeu is ook in Lesotho en die Oos-Vrystaat aangemeld. Verskeie bergpasse moes gesluit word.

Nat en koue weerstoestande heers steeds in die Wes-Kaap. In die Oos-Kaap is alle bergpasse na Barkley-Oos vir verkeer gesluit.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens sê die koue toestande in die land kan toegeskryf word aan koue lug agter die koue front, wat besig is om uit die land te beweeg.

Duisende plakkers is geraak deur oorstromings in die omgewing van Kaapstad, weens swaar winterreën.

‘n Woordvoerder van die stad se Rampbestuursentrum, Charlotte Powell, sê nat weerstoestande het dele in Khayelitsha, die Strand, Delft en Gugulethu, geraak.

Mense word van hulp voorsien, maar nie noodskuiling nie.

Eskom se waarnemende bestuurshoof, Brian Molefe het by ‘n mediakonferensie in Johannesburg gesê dat hulle deur die winter drie keer meer instandhoudingswerk as vorige winters gaan doen.

Molefe sê Eskom beplan om beurtkrag tydens werksure te vermy om die impak op sakeondernemings te beperk. Beurtkrag sal dus eerder tydens spitstye voor 10uur soggens en na vyfuur smiddae, en oor naweke toegepas word.

Hy sê egter dat ‘n nuwe strategie hul beplande instandhoudingswerk aan hulle opwekkingseenhede, slegs tot minimale onderbrekings sal lei.

Eskom het intussen wysigings aan die Fases van beurtkrag aangekondig. Molefe het by ‘n mediakonferensie in Johannesburg gesê Fase Een beurtkrag sal steeds toegepas word as daar ‘n tekort van duisend megawatt is, en Fase Twee wanneer daar ‘n tekort van twee duisend megawatt is.

Fase Drie beurtkrag sal egter nou toegepas word wanneer daar ‘n tekort van drie duisend megawatt is. In die verlede is Fase Drie eers met ‘n tekort van vier duisend megawatt toegepas.

Volgens Molefe is dit om die gaping tussen Fase Twee en Fase Drie beurtkrag te verminder.

Rukwinde, reën en sneeu

Sterk rukwinde in die Paarl in die Boland het daartoe gelei dat minstens een persoon beseer is, het RSG berig.

‘n Vragmotor het ook by die Hugenotetonnel omgeslaan.

Volgens die nooddienste het die man aan sy huis se dak in Groenheuwel gehang om te verhoed dat dit weg waai. Hy het ernstige snywonde opgedoen en is in die hospitaal opgeneem.

Die vragmotor by die tonnel lê steeds langs die pad, en een baan in die rigting van Kaapstad word versper.

Die vragmotor sal glo later vandag verwyder word. Die bestuurder is nie beseer nie.

Die verkeersowerheid sê geen vragmotors word in die tonnel toegelaat nie, maar dit is oop vir ander verkeer.

Intussen waarsku die Weerdiens dat die grootste deel van Suid-Afrika teen môre baie koud gaan kry. Sneeu kom reeds voor op die Wes-Kaapse berge.

Sneeu word ook vir Sutherland en Calvinia in die Noord-Kaap voorspel.

Swaar reën kan in dele van die Wes-Kaap voorkom.

Die maksimum temperatuur in Johannesburg kan teen Donderdag slegs 14 grade wees.

Koue weer vir VSA, warm weer vir Rusland

Besondere koue toestande teister steeds groot dele van Amerika. In die noordoostelike gebiede van die land het Amerikaners deurgeloop onder hul vierde winterstorm die maand.

Die kouefront het na dele in die suide uitgebrei, terwyl die middel-Atlantiese-streek ook deurloop onder die bibberweer.

Boston en die omliggende New England streek het in Februarie reeds ‘n rekord hoeveelheid sneeu gehad. New York het minder sneeu aangeteken, maar Maandag is ‘n maksimum temperatuur van minus twee grade aangeteken.

Duisende vlugte wat opgeskort is sal na verwagting hervat word namate die front oor die oseaan beweeg.

Intussen sê weerkundiges dieselfde ‘pooldraaikolk,’ veroorsaak die koue weer in die VSA sowel as warmer weer in Rusland.

Mense in die sentrale dele van Rusland is verbaas deur warm reënweer wat al die sneeu wegsmelt. Kenners sê die twee teenstrydighede is in werklikheid deel van dieselfde verskynsel.

Inwoners van die VSA en Kanada is verras deur die ysige daling in temperatuur onder minus 30 grade Celsius, terwyl die Russe ook verras is deur die Januarie-weer met temperature in Moskou wat sowat 11 grade bo die gemiddeld is.

Lees ook verder.

Ysgreep wurg Middeweste van VSA

coldDie Middeweste van die VSA se inwoners moes hulself Sondag staal vir die streek se koudste weer in twee dekades.

Voorspellers waarsku dat die ysige weer lewensgevaarlik is.

Die ysige wurggreep het talle skole en sakeondernemings laat sluit en meer as drieduisend vlugte is gekanselleer.

Noord-Amerikaners is gewaarsku om binneshuis te bly omdat vel wat aan die koue blootgestel word, binne enkele minute kan vries.

Die Amerikaanse Weerdiens sê tweederdes van die land kan geraak word terwyl die kouefront ooswaarts beweeg.

Die koue is die resultaat van ‘n relatief seldsame belyning van weerstoestande, sodat die Arktiese lugmaalstroom buitengewoon ver suid verplaas het.

Dit is tans kouer in die VSA op sekere plekke as in die Poolgebiede weens ysige lug wat suid beweeg.

Temperature van tot minus 17 grade Celcius word in Georgia en Alabama verwag en tot minus 23 in Atlanta.

In dele van Kanada het temperature van tot minus 40 grade gister voorgekom.