Namibiese hof knip SA hoenderbedryf se vlerke

Die aansoek deur Suid-Afrikaanse pluimveeprodusente teen die invoerbeperkings wat in Namibië ingestel is om die plaaslike bedryf te beskerm, het in Windhoek se hoërhof misluk.

‘n Namibiese regter het Vrydag beslis die aansoek van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging en vyf ander maatskappye betrokke in die buurland se pluimveebedryf teen die beperkings op invoere wat gedurende April 2013 ingestel is, was te laat ingedien.

Die gronde vir die regsgeding is die kennisgewing wat gedurende April 2013 deur die minister van handel en nywerheid gepubliseer is en waarvolgens sekere kwantitatiewe beperkings op die invoer van pluimveeprodukte na Namibië ingestel is.

In terme van hierdie beskermingingsmaatreël vir Namibië se ontluikende pluimveebedryf mag nie meer as 900 ton pluimveeprodukte per maand na Namibië ingevoer word nie.

Ueitele het die aansoek deur die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging en die Suid-Afrikaanse pluimvee-uitvoerders Astral Foods Beperk, Crown Chickens (Edms.) Bpk., Sovereign Foods, Agri Poultry (Edms.) Bpk. en Rainbow Farms (Edms.) Bpk. teen Namibië se minister van handel en nywerheid, die regering, die Namibiese Pluimveebedryf (Edms.) Bpk. en die Namibiese Vleisraad van die hand gewys.

Die Suid-Afrikaanse aansoekers het die hof versoek om die beperkings op hoenderinvoere na Namibië te hersien en op te hef, sonder sukses.

Die aansoekers is ook beveel om respondente se regskoste te betaal.

Bron: Die Republikein

Mielieprys styg verder

Suid-Afrika se mielieprys het Maandag sy rekord opwaartse kurwe in 2016 voortgesit.

Te midde van toenemende kommer oor die droogte en die swak rand, raak die druk op voedselvoorsiening al hoe groter.

Die Maart-kontrak vir witmielies, swart landelike inwoners se stapelvoedsel, was 2,6 persent duurder op ‘n rekordprys van R4781.00 per ton.

Dieselfde termynkontrak vir geelmielies het met 1,8 persent tot R3677.00 per ton gestyg.

Die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, Senzeni Zokwana sê indien die droogte aanhou, kan die land gedwing word om teen Mei of Junie mielies in te voer.

‘n Landbou-ekonoom Johan Willemse, verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, het gesê die winteroes is 5 miljoen ton minder as wat nodig is.

“Dit is ‘n ernstige situasie … die prys van witmielies het reeds verdubbel. Nog ‘n probleem is dat in 2016-2017 sal daar nie genoeg witmielies wees nie. Mense sal nie genoeg kos hê nie en mieliemeel sal duurder wees,” sê Willemse .

“Boere sit met groot verliese. Hulle kan nie krediet kry om nuwe gewasse aan te plant nie sodat ons met die risiko opgesaal word om ‘n invoerder van graan te word”.

Suid-Afrika het reeds verlede jaar witmielies van Zambië en Meksiko ingevoer.

‘n Swak rand is nie die einde van die wêreld nie

Een ding wat mense klaarblyklik nooit verstaan ​​nie is dat ‘n depresiërende geldeenheid nie outomaties beteken dat die ekonomie gaan sink nie.

Zwelinzima Vavi het Woensdag aan sy paar oningeligte volgelinge verklaar dat Suid-Afrika binnekort ‘n Zimbabwe gaan word, maar in die internasionale sakepers bekommer ontleders eerder dat die Federale Resewebank in die VSA op hiperinflasie afstuur deur aanhoudend die dollargeldvoorraad uit te brei.

Kyk maar na Japan. ‘n Besonder kragtige ekonomie met ‘n swakker-as-swak geldeenheid.

Wisselkoerse word bepaal deur die verrekening van invoere teen ‘n land se uitvoere, en het baie min te doen met ekonomiese prestasie.

‘n Dalende rand sal eintlik help ons uitvoerbedryf te ondersteun en ander lande aanmoedig om te koop van ons en te belê in die land.

Die JSE sal waarskynlik aanstons styg weens verbeterde uitvoere en ‘n toename in toerisme.

Valutahandelaars by Britse en Amerikaanse banke het ongetwyfeld miljoene verdien uit president Zuma kabinetskommelinge verlede week.

Wisselkoerse alleen meet nie ons ekonomiese prestasie nie. Die goeie onderliggende BBP-groei, alhoewel traag, is ‘n aanduiding van wat werklik met die land se ekonomie aangaan.

Die groei in die konstruksiebedryf is ‘n ander teken van die belegging en vertroue in die land wat floreer.

Die enigste rede waarom die rand se waarde ‘n kwessie raak is wanneer ‘n buitelandse ‘n vakansie skielik baie duurder geraak het. Nie baie mense kan in elk geval buitelandse vakansies bekostig nie.

Maar vir buitelandse toeriste is dit uitstekende nuus.

Die Angelsaksiese pers wil egter ‘n vreespsigose aanwakker en waarsku verbruikers dat hulle sal moet opdok vir president Jacob Zuma se kabinetskommelings.

Landbou-ekonoom Kobus Laubscher het Woensdag aan OFM gesê “beleidsonsekerheid het ‘n hoogtepunt bereik”. Wat hy versuim het om te noem is dat boere sal baat by uitvoere.

Die beleidsonsekerheid word eerder veroorsaak deur narre soos Julius Malema se vele verklarings teen grondbesit en oproepe tot etniese uitwissing, en hy is die nuwe Angelsaksiese liefling.

Dit is waar dat die verswakking van die rand welvaart verwoes, maar aangesien Suid-Afrikaners diep in die skuld is, is dit waarskynlik vir die meeste goeie nuus.

Behalwe vir daardie oorsese vakansie sal alle ingevoerde produkte duurder word. Dis dalk tyd om plaaslik te begin dink.

Zim moet graan invoer met hongersnood wat dreig

Die Zimbabwiese regering het begin om graan aan gesinne uit te deel wat getref word deur ‘n ernstige droogte in al die provinsies van die land.

Die VSA wat Famine Early Warning Systems Network (Fewsnet) befonds, het in Mei berig dat sommige huishoudings in landelike gebiede in die suide van die land “byna niks” geproduseer het nie, deels te wyte aan “laat reën gevolg deur ‘n langdurige droë periode”.

Zimbabwe moet graan invoer uit verskeie lande in die streek om voedseltekorte te probeer voorkom in die land na swak oeste.

Die landbou-katastrofe is die gevolg van Robert Mugabe se grondhervormingsplan, waar wit boere se grond gekonfiskeer is en vir swartes gegee is.

Luidens mediaberigte moet die Suider-Afrikaanse land ten minste 700 000 ton mielies lewer om voedseltekorte te voorkom. Die invoere sal die platsaktesourie van die land sowat R3,1 miljard kos, volgens ontleders.

Ten minste 16% van die land se geraamde 13 miljoen mense staar hongersnood in die gesig.

Volgens die staatsbeheerde Herald-koerant, word die provinsie Masvingo die ergste geraak en ten minste 131 000 ton graan word benodig.

Pik Botha se seun vaar uit teen BRICS

Dr Roelof Botha meen BRICS se anti-Amerikaanse ingesteldheid kan Suid-Afrika suur bekom. Botha, Pik Botha se seun, het in ‘n meningstuk in Netwerk24 gesê die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds in onvervangbaar wat “vryemarkbeginsels, private eiendomsreg, vryheid van spraak en demokrasie” betref.

Botha sê Suid-Afrika behoort sy deelname aan BRICS te heroorweeg omdat lidmaatskap “verhoudinge kan vertroebel met lande wat veel groter bydraes tot ons ekonomiese welvaart lewer en is buitendien hopeloos onbekostigbaar vanuit ’n fiskale hoek”.

Heelwat opgewondenheid het vier jaar gelede geheers toe Suid-Afrika genooi is om deel te word van die destydse Bric-groepering (Brasilië, Rusland, Indië en China).

Die nuwe klub van toonaangewende ontluikende ekonomieë staan as Brics bekend en sou kwansuis wesenlike ekonomiese voordele vir al vyf die lede inhou, veral op die gebied van internasionale handel en die ontwikkeling van infrastruktuur.

Agterna beskou is dié hoop grootliks beskaam. Met die uitsondering van Indië, wat ’n daadwerklike poging aangewend het om meer goedere van Suid-Afrika in te voer, het uitvoerhandel na Brasilië en Rusland onbenullig klein gebly (gesamentlik ’n rapsie meer as 1% van Suid-Afrika se totale uitvoer in 2014).

China is egter die grootste bron van hoofbrekens. Drie spesifieke probleemgebiede het die afgelope vier jaar ontstaan.

Eerstens het Suid-Afrika se uitvoer na China met slegs 4% gegroei sedert lidmaatskap van Brics.

Tweedens word dié uitvoer hoofsaaklik deur slegs twee items verteenwoordig, naamlik steenkool en ystererts, terwyl China nie veel belangstel in produkte met ’n betreklik hoë toegevoegde waarde nie (laasgenoemde behels hoofsaaklik afdelings 4, 6 tot 12, 16 en 17 van die internasionale standaard-klassifikasie van produkte).

China het verlede jaar slegs R11,5 miljard se goedere in dié produkgroepe van Suid-Afrika aangekoop, vergeleke met R13,2 miljard, R29,7 miljard en R31,2 miljard wat deur onderskeidelik Engeland, Duitsland en Amerika aangekoop is.

Derdens het Suid-Afrika ’n haas onversadigbare aptyt vir invoer van China ontwikkel, wat die handelstekort met dié land verlede jaar tot ’n nuwe rekord laat klim het.

Totale invoer van China het verlede jaar R168 miljard beloop, wat ’n handelstekort van R73 miljard met die wêreld se tweede grootste ekonomie verteenwoordig.

Die omvang van dié tekort word in perspektief gestel indien dit met die totale tekort op die Suid-Afrikaanse handelsbalans vir 2014 vergelyk word, naamlik R69 miljard (volgens die Reserwebank).

Dit beteken dat Suid-Afrika ’n handelsoorskot sou aangeteken het indien geen handel met China plaasgevind het nie.

Die groeiende handelstekort met China is veral kommerwekkend teen die agtergrond van Suid-Afrika se lidmaatskap van Brics, wat al hoe meer na ’n windeier lyk – met die uitsondering van handel met Indië.

Dit wil voorkom asof die Suid-Afrikaanse regering swak besluite geneem het ten opsigte van die keuse van handelsvennote met wie ­groter samewerking vir ­wedersydse ekonomiese voordele nagestreef word.

Suid-Afrikaanse uitvoer na tradisionele demokratiese handelsvennote het die afgelope vier jaar met indrukwekkende stygings vorendag gekom, ondanks die nagevolge van die 2009-resessie. Uitvoer na Amerika, Duitsland, Engeland en Nederland het sedert 2011 met onderskeidelik 14%, 16%, 30% en 51% toegeneem.

Die onlangse stigting van die Brics-ontwikkelingsbank (amptelik bekend as die Nuwe Ontwikkelingsbank) is ook ’n tameletjie, aangesien Suid-Afrika se vereiste bydrae tot die aanvangskapitaal van dié instelling buitensporig hoog is, naamlik $10 miljard.

Elkeen van die vyf lidlande is veronderstel om gelyke bydraes tot die stigtingskapitaal van $50 miljard te lewer, wat ’n belaglike reëling is indien relatiewe ekonomiese grootte in ag geneem word.

Suid-Afrika se BBP is slegs 2% van die gesamentlike ekonomiese uitset van Brics en dit sou billik (en nogal logies) gewees het om die omvang van elke land se BBP as maatstaf vir die kapitaal van die Brics-Ontwikkelingsbank te gebruik.

Die rekening vir lidmaatskap van die bank eindig ­egter nie hier nie. Daar word later van elke land ’n verdere $10 miljard verwag, asook ’n bedrag van $20 miljard vir die sogenaamde reserwe-valutafonds.

Die omvang van dié finansiële verpligting vir deelname aan die Brics-ontwikkelingsbank kan op twee maniere toegelig word: Dit is meer as die gesamentlike jaarlikse staatsuitgawes aan die SA Polisiediens, alle ekonomiese dienste, behuising, gemeenskapsontwikkeling en watervoorsiening.

Verder is dit ongeveer gelyk aan die algehele gesamentlike toegevoegde waarde van landbou, mynbou en konstruksie (in 2014).