Angola kry nuwe lugdiens

Angola gaan 'n nuwe plaaslike lugdiens kry wat die land sal verbind met groot stede en sakekerne. Die diens sal gemik wees op buitelandse burgers, het die Britse maatskappy Lonhro Dinsdag gesê.

Lonhro is die brein agter die Fly 540-diens wat uit die olieryke Kabinda sal opereer met aansluitings na Luanda, Huambo, Benguela, Soyo en Lubango.

Lonhro se Angolese bestuurder Luiz da Silva het aan AFP gesê hulle hoop om so gou moontlik te begin, "binne 'n maand of so".

Hulle wag net om die finale ooreenkomste in plek te hê. "Ons het vier splinternuwe vliegtuie in Toulouse wat gereed is om hierheen te vlieg."

Fly 540, wat reeds in Kenia, Oeganda, Tanzanië en Suid-Afrika opereer, sal hoofsaaklik gebruik maak van nie-Angolese loodse en tegnici omdat buitelanders in Angola dikwels deur hulle werkgewers verbied word om met plaaslike lugdienste te vlieg vanweë hulle swak veiligheidsrekord.

"Ons sal volgens internasionale standaarde handel en ons hoop om te skakel met internasionale lugdienste soos British Airways, Lufthansa en Air France," het Da Silva verduidelik.

"Daarom sal mense wat van Europa na Angola vlieg ons diens kan gebruik om 'n direkte aansluiting na hulle finale bestemming te neem." Die diens sal ook van hulp wees tydens die Afrikanasiessokkertoernooi in 2010 wat in Angola gehou sal word.

Angola se nasionale lugdiens TAAG is deur die EU in 2007 verbied om daarheen te vlieg. Verlede jaar is al die lugdienste in Angola op die EU se swartlys geplaas.

Die gebrek aan paaie en die groot afstande maak lugvervoer in Angola aanneemlik.

продажа зарядных устройствДанильченко