Dan Roodt: En sê nou ons vervang SA Engelse met Europeërs?

Tydens my onlangse Europese reise het ek heelwat tyd gehad om te dink. Dikwels was ek alleen, wagtend op ‘n stasie of lughawe, of besig om iewers op die Franse platteland vir my aandete te voor te berei met slegs die TV as geselskap met berigte oor suiwer Franse aangeleenthede waarin die res van die mensdom kwalik sou belangstel.

Daar is ‘n Franse skrywer wat taamlik bekend op sosiale media is en ook dikwels as “verregs” afgemaak word. Hoewel, deesdae word enigiemand wat nie die ondergang van sy land of van die Westerse beskawing klakkeloos aanvaar nie, deur die hoofstroommedia as “verregs” gestigmatiseer. Renaud Camus, die betrokke Franse skrywer, het egter die frase “die Groot Vervanging” (le grand remplacement) beroemd gemaak sodat dit dwarsdeur Europa weerklink. In ‘n neutedop kom dit daarop neer dat die totale Europese of blanke bevolking deur immigrante, veral Moslemimmigrante uit Noord-Afrika, vervang gaan word. Dit is waarop die beleid van die Europese Unie te Brussel, asook vele linkse regerings op die Vasteland, neerkom.

In Suid-Afrika het ons natuurlik iets soos “transformasie” wat gedefinieer kan word as die “vervanging van blankes deur gekleurdes”. Dié beleid het ook Afrikaners, wat voor 1994 in groter getalle werksaam in die staatsdiens en staatsondernemings as Engelssprekendes was, veel harder as blanke Engelssprekendes getref. Vele Engelse was ook ten gunste van dié beleid om Afrikaners deur ander te laat vervang. Tans bevorder die Engelse media en akademici soos dr. Ruth Hall en prof. Ben Cousins die beleid om Afrikanerboere op hul eie grond deur swart boere te laat vervang.

Dog veel verder terug in ons geskiedenis was daar nog altyd ‘n beleid om Afrikaners deur ander, veral Engelse, te laat vervang. Ná die tweede vryheidsoorlog het Lord Milner sy bes probeer om soveel Engelse immigrante na die ou Boererepublieke te laat kom ten einde ons, wat juis demografies deur die volksmoord in die konsentrasiekampe verswak is, onder te ploeg.

Die huidige transformasie- en vervangingsbeleid beskik oor ‘n onderliggende veronderstelling waarvoor die meeste Afrikaners blind is: nóg die liberale Engelse, nóg hul lakeie of bondgenote onder die anderskleuriges (swart, bruin en Indiër), beskou ons as “Suid-Afrikaners” in die huidige sin van die woord. In die twintiger- en dertigerjare van die vorige eeu het rasegte Engelse aanstoot geneem aan die term “Suid-Afrikaner” wat veral deur genl JBM Hertzog bevorder is. Een Engelsman, Leonard Barnes, het selfs ‘n boek daarteen gepubliseer waarin hy Hertzog as die “Caliban van Afrika” verguis het. Die volle titel van sy publikasie was: Caliban in Africa: an impression of colour madness. In ‘n ander werk, The New Boer War, het Barnes bepleit dat Engeland die Britse kolonies rondom Suid-Afrika moet versterk en saam met swartes moet werk om Suid-Afrika tot ‘n val te bring.

Barnes en vele ander het geglo dat almal in ons land Britte moes wees — onderdane van die Britse Ryk — en dat enige “Suid-Afrikaanse” identiteit dus uit die bose was. Daarom is dit tans so ironies dat die term “Suid-Afrikaner” wat ten eerste deur Hertzog, die gehate “Caliban” (half-mens, half-monster en slaaf), verkondig is, vanaf 1994 toegeëien is om ‘n nuwe, eksklusief Engelse, identiteit te skep. Tans word Suid-Afrika gesien as “net nog ‘n Afrika-land” en “net nog ‘n vorige Britse kolonie met Engels as enigste voertaal”.

‘n Hele nuwe geslag Boerehaters en -vervolgers is besig om na vore te tree. Die veldtog op die kampus van die Universiteit van Pretoria, “Afrikaans must fall”, is geesdriftig deur die meerderheid Engelse verwelkom en die volgende stap, om Afrikaanse skole te verbied, lê net om die draai. Panyaza Lesufi, die fanaties anti-Afrikaanse LUR vir onderwys in Gauteng, het by Hoërskool Vereeniging en elders gepoog om Afrikaanse onderwys die doodskoot toe te dien.

Erger as Lesufi, wat bloot soos ‘n ANC-terroris (wat hy eintlik maar is) optree, is sy sikofante en napraters onder die hoernaliste. Daar is bekendes en gehates soos Adriaan Basson en Max du Preez wat maar altyd die logika agter elke magsgreep jeens Afrikaans en Afrikaners insien en probeer goedpraat. Maar die anti-Afrikaanse koor beskik oor meer as een stem, om ‘n musikale metafoor in te span. In sommige van die Engelse koerante wat minder deur ons mense gelees word, dikwels ook met betaalmure sodat hulle minder toeganklik is, word daar egter ‘n verbete veldtog teen ons taal en kultuur deur betaalde haatskrywers gevoer.

Onlangs is daar so ‘n sarsie in die Business Day afgevuur deur twee individue, Neels Blom en Hans(ie) Pienaar. Albei is uit huis uit Afrikaans, maar het nou Engels omhels soos die “Franskiljons” (om ‘n term by die Vlaminge vir Fransgesindes te leen) Frans omhels het. Blom, wat toevallig saam met my op skool was, destyds die Hoër Seunskool Helpmekaar, is nou so Engels dat hy ‘n soort politieke “vlieghengelrubriek” in die Business Day bedryf waarin hy gereeld gal oor Afrikaans en Afrikaners braak.

In sy mees onlangse skryfsel — dit rym met opdrifsel, so iets wat na mens toe aangedryf kom soos ‘n dooie, vrot vis — vaar hy teen Afriforum uit wat saam met die Zoeloekoning wil werk om grondgryp in Suid-Afrika te voorkom. (“Cold, calculated unity in a cause that has no substance”, Business Day 15 Oktober 2018.) Hy beskryf hulle en veral hul ondersteuners as “waansinnige nasionaliste” (delusional nationalists). Maar natuurlik is die o so Engelse gepeupel in dié land met hul Afrikaanshaat wat al dansend soos om ‘n teregstelling tydens ‘n halssnoermoord uitgespuug word, heel “rasioneel”.

Ek het al daaraan gedink om ‘n boek te skryf met die titel: Ken u vyand. Want die rede waarom die Afrikaner sy huidige ondergang beleef, waarom ons stadig maar seker óf tot emigrasie gedwing óf gewoon doodgemaak word, hang saam met ons onbewustheid sover dit ons vyande en hul planne aanbetref.

Die Engelse politieke leierskap in Suid-Afrika het nog nooit vir lief geneem met Afrikaners nie. Daarmee bedoel ek dat hulle nóg ons bestaansreg erken nóg ons reg om in die land te wees. Dit kom daarop neer dat Jan van Riebeeck se koms in 1652 ‘n fout was, maar nie Sir David Baird s’n in 1806 nie. Suid-Afrika moes ‘n “Klein Engeland” word. Toe Elizabeth II die land in 1947 per trein besoek het, het sy blykbaar opgemerk: “It is just like England.”

Juis dít is deel van ons probleem. Want ‘n groep Britte wat nie kommunisme en marxisme in hul eie land deurgevoer kon kry nie, wil dit in Suid-Afrika doen. Die mees ekstreme Engelse idees wat in London of Oxford uitbroei, word in ons land toegepas. Ons is die Frankenstein-monster binne ‘n Britse eksperiment.

Hier bo het ek genoem dat Afrikaners tans nie as “Suid-Afrikaners” beskou word nie. Die Engelse akademici en joernaliste bestee baie energie daaraan om te bewys dat ons nie werklik hier hoort nie, ons besittings (soos plaasgrond) by die swartes gesteel het en “deur apartheid bevoordeel is”. Trouens, die feit dat alle Afrikaners nie in plakkerskampe of selfs in konsentrasiekampe verkeer nie, is ‘n wonderwerk-in-die-kleine.

In ‘n privaat e-pos het ek aan Neels Blom van die Business Day gevra of hy wel Afrikaners as Suid-Afrikaners sou erken. In ‘n sarkastiese antwoord het hy teruggeskryf:

“Maar siende jy klaarblyklik onseker is oor jou Afrikaner-identiteit, Afrikaners is na my mening Suid-Afrikaners, by uitstek.”

Hoe kan iemand wat elders in die Business Day betoog het dat Engels die enigste opvoedingstaal in Suid-Afrika moet wees, vanaf laerskool tot universiteit, so iets sê? Ek vermoed dat Blom bedoel dat ons reeds gekoloniseer en verengels, en daarom deur die Engelse “reënboognasie” geassimileer is.

Toe ek op skool en universiteit was, het Engelse wat domheid in ‘n gesprek wou aandui, met ‘n gemaak Afrikaanse aksent begin praat. Met al die briljante swartes wat ons deesdae regeer, het dié gewoonte lyk my so effens verminder; nietemin sal geen Engelsman waag om domheid deur middel van ‘n swart Engelse aksent te illustreer nie, want dit sou mos rassisties wees. Wat my so aangaande uitbarstings van Boerehaat in die Engelse media fassineer, is hoe die Engelse onbewuste daardeur vir oomblikke sigbaar word, soos ‘n gordyn wat vir ‘n sekonde oopwaai.

Waarskynlik sou die Engelse redaksie van Business Day dit nie self waag om etniese haat jeens Afrikaners te verkondig nie. Maar as twee verloopte Afrikaners soos Neels Blom en Hans(-ie) Pienaar dit doen, is dit mos aanvaarbaar, nie waar nie? Ek meen egter dat sowel Blom as Pienaar bewustelik of onbewustelik aanvoel dat hul anti-Afrikaanse uitlatings groot byval by Engelse sou vind. Dis soos daardie Afrikaanse aksent wat jy namaak om domheid aan te dui: daardeur raak jy lid van die “Engelse klub”.

In Pienaar se geval, vaar hy uit teen die Gelofte van Bloedrivier en noem dit:

“…the document that has been at the centre of the racist version of Afrikaner nationalism, which brought us apartheid, decades of minority rule and untold misery for generations of nonwhites.” (“Afriforum strikes a strange chord when it comes to uniting Afrikaners”, Business Day 17 Okt. 2018.)

Eintlik is Bloedrivier ‘n klad op die geskiedenis, volgens Engelse historici. Die Zoeloes moes ons eerder almal daar uitgemoor het, man, vrou en kind. Dan sou Suid-Afrika mos van die negentiende eeu af suiwer Engels gewees het, nie waar nie? Geen Boererepublieke nie, geen Paul Kruger of Christiaan de Wet nie.

Nog iets: Anders as Afrikaners wat hulle vandag oor die Gelofte en hul pioniersgeskiedenis moet skaam, is Engelse trots op hul koloniale geskiedenis. Selfs linkse Engelse skryf met ademlose bewondering oor Lord Alfred Milner of Kitchener. Ditto Neels Blom en Hans(-ie) Pienaar. Britse kolonialisme herinner aan gholf op Woensdaemiddae, asook jenewer-en-tonikum, nie aan tienduisende swartes wat in die myne weens onveilige toestande gesterf het nie. En natuurlik vlieghengel. Laasgenoemde sport word gewoonlik in Skotland beoefen, dus weet ek nie of dit suiwer Engels is nie. Maar as jy vlieghengel met Boerehaat as aas kan beoefen, het jy ‘n wenresep.

Geen koloniale Britse naam is al ooit deur die ANC in Suid-Afrika, sover ek weet, verander nie. Rondom die erg linkse en marxistiese Universiteit van die Witwatersrand, is daar Empireweg en die Koningin Elizabeth-brug. Die Britse Ryk rym heel goed met Marx en Lenin.

Rassesegregasie is elders in die Britse Ryk en in die Amerikaanse Suide ewe geesdriftig as hier by ons beoefen. In die 1970s het die Amerikaanse presidentskandidaat en goewerneur van Alabama, George Wallace, steeds apartheid tussen blank en swart bepleit. Hy is tot vandag toe beroemd vir sy uitspraak: “Segregation now, segregation tomorrow, segregation forever.” Daaroor swyg die plaaslike Engelse en twee opperste joiners soos Blom en Pienaar in alle tale, veral in hul geliefde Rooitaal.

Terloops, die liberale sanger Neil Young, het ‘n liedjie teen Alabama geskryf, iets wat later deur die Suidelike rockgroep Lynyrd Skynyrd beantwoord is met die beroemde nommer, “Sweet Home Alabama”. Hulle was nie skaam om vir hul kultuur en identiteit op te staan nie.

Nêrens elders in die Westerse wêreld (Kanada, België, selfs Brittanje waar Wallies, Iers en Skots erkenning geniet) sou ‘n situasie geduld word waar een taal ‘n ander oorheers soos in Suid-Afrika nie. Engelse werk saam met swartes, Indiërs en daardie afskuwelike bruines waaroor Leon Lemmer al male sonder tal geskryf het om ons taal en kultuur dood te maak.

Afrikaans se heil lê by Europa, asook by die konserwatiewe deel van Amerika. Hoewel Amerikaners Engelssprekend is, is hulle nie hatig op ander tale nie, anders as Engelse. Ek ken ‘n Amerikaner wat vir homself Afrikaans vanaf CD’s in sy motor geleer het. Tans heers daar groot belangstelling in Afrikaners by die meer regse Amerikaners wat ook meesal Trump-ondersteuners is. Hulle het gesien hoe Detroit onder swart bestuur van ‘n ryk, welvarende en stylvolle stad tot ‘n misdaadgeteisterde hool verval het, daarom het hulle begrip vir wat ons in Suid-Afrika deurmaak. As deel van PRAAG se nuwe media-inisiatief, gaan ons video’s van die middestede van Johannesburg en Pretoria maak om aan die wêreld te toon hoe “vooruitgang” onder “progressiewe Engelse regering” in Suid-Afrika lyk.

Daar is maar 1,6 miljoen Engelse in Suid-Afrika, waarvan ‘n miljoen of so rasegte Britte is. Die res bestaan uit verengelste Afrikaners, Grieke, Portugese, Italianers en ander immigrante. Hulle word deur geen gemeenskaplike identiteit of nasionalisme gebind nie. Sommige is ons wel goedgesind, het Afrikaans geleer en ons kultuur van te kuier en die buitelewe te geniet hul eie gemaak. Maar ons moet aanvaar dat die meerderheid stedelike Engelse, veral in Johannesburg en Kaapstad, hul Boerehaat in samewerking met die ANC tot nuwe hoogtes gaan voer.

Indien die Afrikaner polities en ekonomies weer kon opstaan, sou ons hulle egter geredelik kon vervang. Daar is miljoene Europeërs wat ons goedgesind is, waardering vir ons kultuur het en graag na Suid-Afrika sou wou emigreer indien ons daarin sou kon slaag om die juk van die ANC (en linkse Engelse en hul Afrikanermeelopers) van ons af te werp.

Die Afrikaner se grootste stryd is in eie geledere, om die ou spreuk wat uit die Nederlands-Spaanse oorlog van die 1500s dateer, te verwesenlik: Eendracht maakt macht. Afrikaners se verhouding tot Engelse was dwarsdeur ons geskiedenis ‘n verdelende faktor. Ook om daardie rede moet ons ons geledere teen teen die linkse Engelse van Johannesburg en Kaapstad sluit.

Wat Blom en Pienaar betref, verdien hulle om teen ‘n muur gesit en doodgeskiet te word. Jan Smuts, wat saam met Bram Fischer en Beyers Naudé een van die min Afrikaners is wat ooit deur Engelse geëer is, het as Boeregeneraal geen genade teenoor verraaiers betoon nie en hulle voor die voet laat fusilleer.

Die nasate van die Britsgesinde Sappe sal dus kwalik omgee om só te sterf, volgens die Smuts-metode.

Alabama gryp in om Konfederale monumente te beskerm

Amptenare in New Orleans, Louisiana, het verskeie Konfederale monumente verwyder oor redes soos “wit rassisme” en “slawerny” in die suidelike Amerikaanse deelstate met linkses en swartes wat historiese afbeeldings van Amerikaanse geskiedenis op openbare eiendom verwerp. Maar Alabama sal nie hul voorbeeld volg nie.

Die voorgestelde verwydering van ‘n standbeeld van genl. Robert E. Lee in Charlottesville, Virginia, het verontwaardiging van patriotiese Amerikaners uitgelok en het gelei tot ‘n fakkelligprotes en ‘n kerslig-teen-demonstrasie.

Maar in Montgomery, Alabama het wetgewers staatwye beskerming vir Konfederale monumente, name en historiese gedenktekens, goedgekeur het die Associated Press berig. Die Alabama-wetgewer het Vrydag 19 Mei ‘n wetsontwerp goedgekeur wat die verwydering van monumente verbied.

Die maatreël sal die “verwydering, verandering, hernoeming of ander versteuring van enige argitektoniese beduidende gebou, gedenkgebou, gedenkstraat of monument wat vir 40 of meer jare op openbare eiendom gestaan ​​het, verbied,” het dit gelui. Die nuwe staatskommissie sal nou veranderinge aan name of gedenktekens moet goedkeur.

Ondersteuners van die beskermende maatreëls het aangevoer dat alle soorte geskiedenis ingesluit moet word.

Gerald Allen, ‘n Republikeinse senator, het uitgevaar teen wat hy ‘n “golf van politieke korrektheid” genoem het, en gesê beelde is histories betekenisvol, selfs al het sommige historiese figure foute gehad.

Die goewerneur van Alabama, Kay Ivey, het ‘n wysiging bygevoeg, wat wetgewers goedgekeur het, om te bepaal dat skole van plek kan verander en opknapping kan doen, maar nie name verander nie.

Die wysiging is voorgestel nadat die wetgewers bekommerd was dat skole, wat dikwels na mense vernoem word, nie opknapping of verhuising onder die wetsontwerp sou kon doen nie.

Afro-Amerikaanse wetgewers probeer egter met alle wetgewende middele om ‘n “skandelike nalatenskap van slawerny” te verwyder. Monumente wat die Konfederasie eer, word uitgesonder.

“Jy sê ons beskerm geskiedenis. Ons beskerm nie geskiedenis nie. Ons beskerm monumente wat onderdrukking van ‘n groot deel van die mense in die staat van Alabama verteenwoordig,” het Hank Sanders, ‘n Afro-Amerikaanse demokraat van Selma, gesê.

New Orleans, ‘n meerderheid swart stad, breek tans nie minder nie as vier Konfederale monumente af. Die swart griewebedryf en verlinkse wit liberale het verklaar dat sulke monumente “aanstootlik aan swart mense” is.

Dieselfde aktiviste wil monumente vir Andrew Jackson, George Washington, en Johanna van Arkel ook verwyder.

Die stadsraad van New Orleans bestaan ​​uit sewe lede, waarvan vyf swart en twee is wit. Al vyf swart lede en een van die blanke lede het ten gunste van die afbreek van die monumente gestem.

Ná die stemming van ‘n “pro-monument” wetsontwerp, het die vier-en-twintig-lid swart koukus uit protes uitgestap.

Die wetsontwerp staan ​​bekend as LA HB71 en word die Wet op die Bewaring van Militêre Gedenktekens genoem.

Aanvanklik het die wetsontwerp enige munisipale of gemeente-owerheid verbied om enige gedenktekens wat met enige militêre veterane verband hou, te verwyder.

Maar voordat dit gestem is, is dit heeltemal geneutraliseer. Die wetsontwerp is verander om te sê dat enige munisipaliteit of gemeente ‘n openbare referendum kon hou om enige monument te verwyder.

Leon Lemmer: Oor verdraaide geskiedenis

Waarom is Harper Lee (1926-2016) se roman, To kill a mockingbird, so bekend en gewild dat selfs ‘n rolprent (1962) daaroor vervaardig is? Na Lee se dood is met hernude ywer oor die boek en die outeur geskryf, bv deur Joan Hambidge (Die Burger, 5 deser, p 6). Die jaar waarin die werk gepubliseer is, 1960, gee ‘n aanduiding van waar die antwoord op daardie vraag gesoek kan word. Die jare vyftig en sestig is in Amerika gekenmerk deur die (ekstra) gewelddadigheid van swartes. Eufemisties word dit die burgerregtebeweging genoem. Wat na bewering regte en reg is, word in hierdie benaming beklemtoon en nie wat swartes verkeerd gedoen het nie.

Lee se boek handel oor ‘n swarte wat in Alabama* valslik van verkragting beskuldig is. Die benadeling van swartes deur wittes was by uitnemendheid dié onderwerp in Amerika in die 1960’s. Sedertdien het hierdie tema en hierdie boek gewild gebly en albei het ‘n vastrapplek in ander lande, insluitende Suid-Afrika, gekryf. (In 2015 is Lee se “tweede” roman, Go set a watchman, op ‘n myns insiens onetiese wyse publiseer deur voor te gee dat dit ‘n vervolg op haar 1960-roman was, terwyl dit in werklikheid die eerste flou weergawe van Mockingbird is. ‘n Lee wat by haar sinne was, sou nooit toestemming tot die publikasie gegee het nie. Die manuskrip is blykbaar na ‘n gekonkel gepubliseer.) [* Die insektekundige Edward O Wilson, wat met sy werk oor bv sosiobiologie en biodiversiteit bekendheid verwerf het, is in Alabama gebore. Hy vind dit nodig om keer op keer te beklemtoon dat al is hy in die Amerikaanse Suide gebore hy polities buitengewoon verlig is.]

Mockingbird is nie die eerste roman wat hierdie politieke doel gedien het nie. Daar is ook bv Harriet Beecher Stowe (1811-1896) se Uncle Tom’s cabin (1852). As ‘n swarte hom onderdanig of selfs net ordentlik teenoor blankes gedra (“non-assertive”/nie-hardegat, bv iets vra pleks van eis), word hy gou deur aktiviste ‘n Uncle Tom genoem. Die ironie is dat Stowe aanvanklik glad nie teen slawerny gekant was nie: “Stowe was not at first even an Abolitionist” (Martin Seymour-Smith, Novels and novelists, London: Windward, 1980, p 223). Anders as die meeste mense, wat neig om meer konserwatief te word namate hulle ouer word (dus terugverlang na die goeie ou dae), het Stowe al hoe meer verlig geword en later beter boeke geskryf. Maar hierdie boeke is nie so bekend soos die Tom-boek nie omdat hulle nie so (mis)bruikbaar vir die swart saak is nie. Stowe het lewenslank haar aktivistiese streep behou, bv My wife and I (1871) handel oor vroueregte.

Wanneer ‘n mens Amerika nie bloot as ‘n toeris besoek nie maar ‘n tyd lank daar woon, kom jy agter dat daar steeds ‘n gevoel van onbehae tussen die noordelike (Yankee) en suidelike state (Dixie) is. (“Deep South”, nooit “Deep North” nie; soortgelyk aan “leliewit”, nooit “steenkoolswart” nie.) In die noorde word daar dikwels beweer dat die Burgeroorlog (1861-1865) tot op hede in die suide voortgesit word. Suiderlinge se grief is nie net oor wat voor, tydens en na daardie oorlog gebeur het nie, maar ook die manier waarop daardie geskiedenis ingeklee en propagandisties, bv in skoolhandboeke en via die massamedia, aan almal opgedring word. Dit is ‘n sprekende voorbeeld van die oorwinnaar wat die geskiedenis skryf soos dit hom pas.

Op ‘n soortgelyke skandalige wyse word Suid-Afrika se geskiedenis ook die afgelope kwarteeu herskryf en wel soos dit die swartes pas. Maar plaaslik was daar geen sprake dat diegene vir (die swartes) of teen (die blankes) geweld/terreur die (militêre) oorwinning behaal het nie. Die waarheid is dat die weerstand teen swart politieke magsoorgawe teen 1990 verkrummel het. Hierdie ruggraatloosheid kan nie aan die blanke kiesers toegeskryf word nie. Selfaangestelde en hoogs onbekwame grondwetlike onderhandelaars het nie ooreenkomstig die mandaat oor magsdeling onderhandel nie, maar mandaatloos algehele politieke mag aan die swart meerderheid oorgedra; selfs sonder ‘n greintjie beskerming van minderheidsregte.

Hoe hierdie mense se koppe gewerk het, word deur Willie Esterhuyse verwoord. Reeds in 1987 het hy hom “ten gunste van ‘n een-mens-een-stem-verkiesing in ‘n eenheidstaat uitgespreek” (Eindstryd, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 27) en oor 1993 skryf hy: “Ek het toe al lankal weggestap van die NP [Nasionale Party] se idee van groepregte en minderheidsveto’s” (p 299). Algehele politieke magsoorgawe en absolute dwaasheid kan myns insiens nie duideliker verwoord word nie. So ‘n mens het nie in die belang van die land gedink nie, nog minder ter behoud van Europese beskawing. Hy het hom klaarblyklik ook glad nie oor die voortbestaan van Afrikaans en Afrikanerkultuur bekommer nie. Hy beywer hom eerder vir hulle vernietiging.

Esterhuyse was in 1995 van die eerstes wat Afrikaans as ‘n struikelblok vir swart studente geëtiketteer het (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 63); dus dat Afrikaans swartes uitsluit. Hy het ook geïmpliseer dat net Engels as universitêre onderrigtaal deur die ANC-regering befonds (moet) word; dus dat die voortgesette gebruik van Afrikaans van die goedertierenheid van donateurs afhanklik is (p 158). Erger, hy het gekla dat vyf Afrikaanse universiteite te baie was; dat die meeste van hulle moet verengels (p 63)*. Noudat Afrikaans as onderrigtaal besig is om aan al die eens Afrikaanse universiteite te verdwyn, kan Esterhuyse gerus sê of hy nou tevrede is. [* Lees gerus Esterhuyse se artikel in The Times Higher Education Supplement, 24.02.1995, en vergelyk dit met wat die afgelope twee dekades gebeur het. Kyk bv ook met watter doel Waardestudie as vak aan die US aangebied is, asook sy opmerkings oor die verhouding orde/vryheid.]

Daar het nog geen inkeer by Esterhuyse gekom nie. Pas het hy by die Woordfees op Stellenbosch (onder meer ‘n fees vir aandagsoekers) die skuld vir mense, eintlik Afrikaners, gegee omdat Afrikaans glo ‘n verdrukkerstaal is. Hy sluk sonder meer hierdie ANC-propaganda. Dat Afrikaans bv ‘n beskawingstaal is en Xhosa as ‘n terroristaal geëtiketteer kan word, het seker nog nie by hom opgekom nie. Hy het eintlik die vernietiging van bv standbeelde goedgepraat, want hulle is glo “snellers vir woede” (Die Burger, 8 deser, p 6). ‘n Ander spreker, Arnold Smit, het probeer om etniese gelykmaking met verwysing na liggaamlike ooreenkomste te regverdig en daarmee die deurslaggewende belang van kulturele verskille geïgnoreer: “As ons huil, is die kleur van ons trane dieselfde”; ‘n variasie op die Amerikaners se: As ons bloei, is almal se bloed rooi.

Die oorgee-kornuite skryf voor dat ons tog altyd verdraagsaam moet wees. Mense soos bv Max du Preez beklemtoon graag dat blankes terug moet staan en in De Klerk-toegeemodus moet gaan. Ons moet nie konfrontasie soek nie en ons mag ook nie kragdadig optree nie. Teen die skoorsoekers spreek die Maxiste geen fundamentele kritiek uit nie; hoogstens dat dit darem nie mooi is as so baie skade aangerig word nie. As belhamels in uitsonderlike gevalle aangekeer word, soos by die Universiteit Vrystaat (UV), betaal die UV waaragtig die borggeld (Praag 10 deser). Die voorsitter van die UV se studenteraad (en blykbaar die hoofopstoker), Lindokuhle Ntuli, word selfs toegelaat om die UV-senaat toe te spreek (Netwerk24, 11 deser). Die UV het ‘n gepeupelkrasie geword. Dit geld ook vir sommige van die ander universiteite. In wat veronderstel is om hoë intellektuele kringe te wees, is daar ‘n oormaat van onnoselheid aanwesig. In belang van die akademie is dit eintlik vanselfsprekend dat daardie booswigte so lank moontlik (verkieslik vir altyd) weg van die kampusse gehou moet word.

Dit bevestig weereens dat dit vir die universiteitsbesture in die eerste plek nie om die akademie gaan nie maar om voor swart mag en gewelddadigheid te swig. Elemente wat onder die dekmantel van studentwees op kampusse rondhang, rig groot skade aan en verhoed dat universiteite akademies funksioneer. Universiteite is veronderstel om opvoedkundige inrigtings te wees, maar skadevergoeding, bv in die vorm van (lewenslange) dwangarbeid, word nooit van die misdadigers geëis nie. Eers wanneer standbeelde vernietig, geboue beskadig en die terrein vol rommel en erger bestrooi is, voel hierdie mense daar tuis. Wat die Maxiste nooit oor besin nie, is of die egte studente tuis op so ‘n rommel- en puinhoop voel. Deel van hierdie absurde teater is die minister van hoër onderwys, wat in die ou Suid-Afrika eiehandig meer skade by die Universiteit Zoeloeland aangerig het as wat hy ooit kan vergoed. In die nuwe Suid-Afrika besluit hy, sonder beduidende weerstand, wat aan ons universiteite mag gebeur en wat nie mag gebeur nie.

In sy klassieke werk, The structure of scientific revolutions (1962/1970), vertel Thomas S Kuhn (1922-1996) hoe die (natuur-)wetenskappe hulleself uiteraard periodiek (grondig) moet vernuwe wanneer ‘n vorige benadering/paradigma op grond van nuwe feite/ontdekkings/uitvindings/vertolkings agtergelaat en ‘n ander/nuwe benadering (voorlopig) aangehang word. Op ‘n soortgelyke wyse voel egte historici deurlopend verplig om die geskiedenis opnuut na te vors, nogeens te bedink en dan te herskryf. Wat tans as Suid-Afrika se onlangse geskiedenis aangebied word, sal mettertyd (hopelik) herskryf word om die werklikheid van weleer beter/meer waarheidsgetrou te weerspieël. Dit gebeur reeds en in toenemende mate met die Amerikaanse Burgeroorlog.

Dit is veral Amerikaanse suiderlinge wat hierdie geskiedenis graag hersien. Goeie voorbeelde is die boeke van Thomas Dilorenzo, bv dié oor Abraham Lincoln (kyk hier onder). Hier bepaal ek my aandag hoofsaaklik by Clyde N Wilson se Lies my teacher told me: The true history of the war for Southern independence and other essays (Columbia: Shotwell Publishing, 2016, 35p; Amazon Kindle $1,13). Wilson is ‘n afgetrede professor in geskiedenis. In Amazon se katalogus word hierdie publikasie soos volg geadverteer: [“Confederate” verwys na sewe (later elf of veertien) suidelike state. Let op die ooreenkomste met Suid-Afrika. Hou in gedagte dat apartheid dikwels met Amerikaanse rassesegregasie, veral in die suidelike state, vergelyk word (Praag 20 Februarie).]

“You were lied to about the nature, character, and cause of the American ‘Civil War’, but that is just the start. The entire South – its people, culture, history, customs, both past and present – has been and continues to be lied about and demonized by the unholy trinity of the American establishment: Academia, Hollywood, and the Media. In the midst of the anti-South hysteria currently infecting the American psyche – the banning of flags, charges of hate and ‘racism’, the removal and attempted removal of Confederate monuments, the renaming of schools, vandalism of monuments and property displaying the Confederate Battle Flag, and even physical assaults … on people who display the symbols of the South – Shotwell Publishing offers this unapologetic, unreconstructed, pro-South book with the hope that it will reach those who are left that are not afraid to question the sanity of this cultural purge and the veracity of its narrative concerning the South.” [Dink aan die vorige Suid-Afrikaanse vlag wat nie meer in die openbaar mag wapper nie en die pragtige vorige Suid-Afrikaanse volkslied, Die Stem, wat eintlik nie meer in die openbaar gesing mag word nie, bv “In ons roem op ons verlede, in ons hoop op wat sal wees.”]

Die sewe suidelike Amerikaanse state het in 1861 hulle konstitusionele federale reg verdedig om van die unie van state weg te breek, terwyl Abraham Lincoln as Amerikaanse staatshoof ten alle koste die eenheid wou bewaar. In 1862 het Lincoln gesê: “My paramount object in this struggle is to save the Union, and is not either to save or to destroy slavery” (Encyclopaedia Britannica, 1961, vol 14, p 143). Met die uitbreek van die burgeroorlog het nog vier state hulle by die wegbreekstate geskaar. In die suidelike state is landbou beoefen wat arbeidsintensief is en destyds van slawe-arbeid afhanklik was. Die noordelike state was nywerheidsintensief en veel minder op ongesofistikeerde arbeid aangewese. “The War was a war of conquest … The purpose of the war was fundamentally to protect the prosperity of the ruling elements of the Northern states by keeping the South captive as a market and a source of raw materials and exports” (Wilson, Kindle 304).

Sedert die burgeroorlog is daar al hoe meer sentralisering van mag in Washington DC omdat die outonomie van indiwiduele state in groot mate misken word. (In die nuwe Suid-Afrika is die situasie soortgelyk. Daar is selfs sprake dat met die provinsies weggedoen gaan word.) “Lincoln announced that the legitimate governments of the seven seceded States were not States at all but are merely what he called ‘combinations of lawbreakers'” (189). Sedertdien word die noordelike state tot oorlopends toe regverdig beskou: “Southerners are intrinsically evil and Northerners intrinsically good” (257); dus die suidelike state word voorgestel as”the source of all evil in an otherwise pure and righteous country” (216).

Geregtigheid word aan die noordelike state toegedig, maar Lincoln het in 1863 net die slawe in tien onverowerde suidelike state vrygestel (Collins world encyclopedia, 2003, p 311). Hierin is hy nie primêr deur menslikheidsoorwegings gelei nie maar omdat hy die swartes militêr teen die suide wou aanwend en gesag en orde in die suide met behulp van opstandige slawe wou ondermyn. Geen wonder dat Karl Marx sy entoesiastiese steun aan Lincoln toegesê het nie (Wilson 339). Tydens die oorlog het Lincoln hom dermate in ‘n hoek vasgeverf dat hy in 1865 geen ander keuse gehad het as om alle slawe vry te stel nie (Wikipedia, “Emancipation proclamation”).

In werklikheid het Lincoln tot die einde van sy lewe swartes as vreemdelinge beskou. Daarom was hy ten gunste van hulle repatriasie, bv na Liberië, gewees, soos Dilorenzo in sy boeke duidelik maak. Lincoln het iemand anders soos volg goedkeurend aangehaal: “There is a moral fitness in the idea of returning to Africa her children” (Thomas Dilorenzo, Lincoln unmasked, New York: Three Rivers Press, 2006, 224p; Amazon Kindle $12,53, 558; lees Johannes Comestor se boekbespreking, LitNet 21.02.2013). “Emancipation of the slaves was not a purpose but a by-product of the conquest of the South” (Wilson 311).