Leon Lemmer: Rassisme: ‘n kritiese ontleding

Deel op

Rassisme is ‘n gewilde tema in die openbare diskoers, bv in die inligtingsmedia. Nathi Mthethwa, die minister van kuns en kultuur, wil blykbaar aan die voorpunt van die stryd teen rassisme wees. Kennelik dink hy dit is hoofsaaklik (indien nie uitsluitlik nie) blankes wat hulle aan rassisme skuldig maak. Rassisme gaan sekerlik ‘n slaansak in die komende verkiesings wees. Die grondwetlike opset en die beleidstoepassings van die ANC-regering is sodanig dat rassediskriminasie gekoester en rassisme gevolglik bevorder word. Rassediskriminasie was glo die groot fout van die blanke bewind. Desnieteenstaande is rassediskriminasie nie in die nuwe Suid-Afrika verbode nie. Pleks daarvan is rassediskriminasie in die grondwet verskans, mits dit teen blankes gepleeg word. My teks begin met verwysing na ‘n enkele boek, maar daar is so baie aspekte waaroor duidelikheid verkry moet word dat verskeie ander bronne bygehaal word.

George M Frederickson (1934-2008) was ‘n hoogleraar in geskiedenis aan die Stanford-universiteit. Hy het in die konteks van rassisme bekendheid verwerf met sy boek, White supremacy: A comparative study of American and South African history (1981). Daarmee betrek hy twee van die drie lande wat by uitstek met rassisme geassosieer word: Amerika (tydens slawerny en rasse-segregasie) en Suid-Afrika (tydens apartheid). Die ander land is Duitsland (tydens die Nazi-bewind). Uit die boektitel blyk dat die outeur blanke meerderwaardigheid die sluitsteen van rassisme wil maak. Ek gaan egter aandag skenk aan die boek wat Frederickson nader aan die einde van sy lewe gepubliseer het, waarin die onderwerp oorsiglik en saaklik behandel word: Racism: A short history (Princeton University Press, 2002/2015, 232p; Amazon Kindle $11,39).

Albert M Camarillo, van Meksikaanse oorsprong en ‘n oudkollega van Frederickson, vertel in die voorwoord hoe Frederickson en ander wit studente in die jare sestig na die suidelike state gereis het om aan die swartes se stryd om burgerregte deel te neem. As jong dosent aan North Western University het Frederickson verset teen Amerikaanse deelname aan die Viëtnamese oorlog aangehits en hom ook beywer vir die instelling van Black Studies as vak. Sy benadering tot rassegelykheid was passievol. By hom was daar ‘n “personal abhorrence for racism” (Kindle 82). Nie sonder oordrywing nie, noem Frederickson rassisme “demoting other people from the ranks of humanity on grounds of race or ethnicity” (87). In werklikheid verontmenslik rassisme nie letterlik nie. Dit is eerder ‘n geval dat mense se gevoelens nie altyd na behore in ag geneem is nie. Rassisme bevat volgens Frederickson drie kernelemente: “ideas of racial purity, cultural essentialism or particularism, and a ‘them’ vs ‘us'” (121). Rassisme is glo meer as “mere ethnocentric dislike and distrust of the Other” (204). Kortweg karakteriseer hy rassisme as “group-centered prejudice and snobbery” (155). As ‘n mens anders hierna kyk, kan gesê word: Hoe meer prestasie-arm ‘n groep is, hoe meer geneig/bereid sal sy lede wees om hulle identiteit in ‘n ander of groter groep te laat verwater.

Biologiese rassisme plaas die klem op ras- of bloedsuiwerheid, vandaar die verbod op inter-etniese geslagsverkeer en huwelike, want dit sal die groep se suiwerheid besoedel, dus die voortreflikheid van die ras verminder. Sedert die Tweede Wêreldoorlog het biologiese rassisme in onguns verval. Verskille in bloed is deur verwysings na die genetiese samestelling (DNS) van mense vervang. Deesdae word daar geredeneer dat mense eerder kultureel as biologies verskil, dus dat mense groepsgewys verskillend dink en doen, oftewel in leefwyse verskil. Maar die algemene, populêre of polities korrekte neiging is om verskille te ontken. Selfs geslagsverskille word deesdae toenemend ontken. Terselfdertyd word die verdoeseling van daardie verskille (bv tweeslagtigheid en selfdegeslaghuwelike) vir spesiale verering of simpatie uitgesonder.

Die rede waarom wesenlike verskille by mense ontken word, is omdat uitgegaan word van die veronderstelling dat daar ‘n enkele oeroorsprong vir die mensdom is. Toe was ‘n ons/hulle-onderskeid nie moontlik nie. Hierdie uitgangspunt vind ook uitdrukking in die slagspreuk dat almal gelyk gebore word. As daar in die praktyk ongelykheid (indiwidueel en veral groepsgewys) is, moet die (blanke) sondebokke geïdentifiseer word. In werklikheid het groepsverskille tussen mense oor eeue groot afmetings aangeneem; ook indiwiduele ongelykheid (bv verskille in talent) wat bv by kinders in dieselfde gesin waargeneem kan word. EO Wilson het tereg geskryf: “Given that humankind is a biological species, it should come as no shock to find that populations are to some extent genetically diverse in the physical and mental properties underlying social behavior … We are not compelled to believe in biological uniformity in order to affirm freedom and dignity” (On human nature, Cambridge: Harvard University Press, 1978, p 52).

Frederickson “poignantly states that ‘deterministic cultural particularism can do the work of biological racism quite effectively’, and in using this framework, he shows how American, German, and South African nationalism* produced regimes that segregated and annihilated populations deemed culturally and/or inherently racially different” (121). Frederickson poog om nie net wesenlike biologiese verskille te ontken nie, maar ook wesenlike kulturele verskille. Dit is egter vals om te impliseer dat swartes op grond van ras in Amerika en Suid-Afrika uitgeroei is. In albei lande het die swartes tydens die blanke bewind baie vinniger as die blankes toegeneem. Voorheen was daar wel pogings om die Indiane in Amerika uit te roei en veral Jode in Nazi-Duitsland. Rassisme kan enersyds die vorm van insluiting aanneem, bv dominansie en uitbuiting soos in slawerny en die huidige posisie van blankes in Suid-Afrika. Andersyds kan rassisme die vorm van uitsluiting aanneem, bv uitroeiing (soos by die Jode in Nazi-Duitsland) en uitdrywing (soos by die Asiate in Oos-Afrika en die blankes in Suidelike Afrika – Thabo Mbeki en ander ANC-kornuite het al herhaaldelik gesê blankes is vry om te emigreer; wittes word klaarblyklik nie deur die ANC na waarde geskat en gekoester nie).

[* Wanneer nasionalisme by blankes aangetref word, word dit verdag gemaak en dikwels verdoem. Swart (bv Afrika-) nasionalisme word egter aangeprys terwyl dit in verskeie lande (bv Kenia en Zimbabwe) misbruik is om minderheidsgroepe (bv blankes en Asiate) landuit te dryf of in ander opsigte te benadeel. Swartes wat vir blankes in die bres tree, word plaaslik as kokosneute (swart buite, wit binne) en in Amerika as Oreo-koekies geëtiketteer. Die beeld van die Oreo-koekie kan veel eerder gebruik word om die verswelging van blankes deur swartes te simboliseer: die wit lagie in die middel word deur die natuurlike aanwas van swartes asook (onwettige) immigrasie al hoe dunner gedruk.]

Ek onderskryf die onontkenbaarheid van kulturele verskille. Frederickson beweer dit was ook die standpunt van (sommige) voorstanders van apartheid: “The climate of world opinion in the wake of the Holocaust induced some apologists for apartheid to avoid straightforward biological racism and to rest their case for ‘separate development’ mainly on cultural rather than physical differences” (181). “No better example can be found of how a ‘cultural essentialism’ based on nationality [Afrikaner nationalism] can do the work of a racism based squarely on skin color or other physical characteristics” (187). Volgens Frederickson was apartheid dus “cultural racism” (198). Dit is ‘n skewe voorstelling van die saak. Velkleur (pigmentasie, melanien) kan ‘n biologiese aanduiding van kulturele verskille wees. As blankes en swartes kultureel (grootliks) identies was, sou ‘n onderskeid tussen ‘ons’ en ‘hulle’ gegrond op velkleur kwalik geregverdig kon word.

Histories was die religieus-kulturele vervolging van die Jode in die Middeleeue die begin van rassisme. Die term “rassisme” het eers met die opkoms van naziisme in die 1930’s in gebruik gekom. Maar reeds in antieke tye is stamgebondenheid en ‘n afkeer van vreemdelinge aangetref. Dit kan teruggevoer word na mense se natuurlike voorkeur vir eie familie, geloof/religie en kultuur, wat nie (noodwendig) bevooroordeeld of afkeuringswaardig hoef te wees nie. Waarteen Frederickson dit veral het, is as etniese groepe hiërargies georden word. Een etniese groep (bv jou eie) mag nie hoër, dus beter, as ‘n ander geag word nie. Rassemeerderwaardigheid is “mainly, if not exclusively, a product of the West” (215). Dit is moontlik dat die historiese meerderwaardige ingesteldheid van blankes op hulle wêreldwye bewese prestasie as etniese groep berus.

Daar bestaan verskillende rasse- of etniese groepe. Byvoorbeeld, die ANC-regering se beleid fokus daarop om sekere groepe (naamlik nie-wittes: bruines en Asiate, maar veral swartes) te bevoordeel en ‘n ander groep (naamlik wittes) te benadeel. Die toepassing van hierdie beleid geskied nie sonder (openlike) vyandigheid teenoor blankes nie. Blankes is plaaslik die verteenwoordigers van Westerse beskawing, in die vorm van veral Britse en Afrikanerkultuur. Westerse beskawing is gebaseer op en het ontwikkel uit vorige beskawings. Volgens George Reisman (Praag 21 November) is Westerse beskawing daarom nie (eksklusief) rasgegrond nie. Die aanvaarding en aanwending/ontginning en uitbouing/ontwikkeling van Westerse beskawing is potensieel aan enigeen beskikbaar. Volgens Reisman is Westerse beskawing die beste waartoe die mensdom tot op hede in staat is. Daar is aanduidings dat Asiate hierdie beskawing toenemend oorneem en verder ontwikkel. Vorentoe kan die beste beskawing (soos voorheen) in die Verre Ooste gesetel wees.

Die vraag is dus: Op grond waarvan word daar (polities korrek) ‘n verbod op hiërargie by (etniese) groepe geplaas? (Anders as voorheen mag selfs indiwidue, bv skoliere, nie openlik in bv akademiese rangorde geplaas word nie.) Op die oomblik lyk dit asof blankes ingevolge Westerse beskawing die verste en beste ontwikkel is en as navolgenswaardige voorbeeld vir minder ontwikkelde/ontwikkelende etniese groepe kan dien. Om indiwidue en groepe mense sonder meer gelyk te verklaar, is ‘n onbewese aanname.* Die moontlikheid dat indiwidue en groepe kan ontwikkel en potensieel gelyk kan word, word nie uitgesluit nie. Dat ‘n lang tydsverloop vir sodanige ontwikkeling nodig kan wees, is in die geval van sommige groepe waarskynlik. [* Wiskunde word op onbewese aannames (aksiomas) gebou, maar dit is omdat dit ‘n teoreties-idealistiese dissipline is wat op ons sintuiglike ervaringswêreld toegepas kan word, sonder om self ‘n empiriese wetenskap te wees. Daar is nie ‘n ander geldige manier om hierdie dissipline staan te maak nie.]

In die geval van die bepaling van rangorde by mense (indiwidue en groepe) is dit wel moontlik om dit empiries-wetenskaplik te doen. Byvoorbeeld, in die sielkunde is daar IK- (intelligensiekwosiënt) bepaling waarvolgens groepe in die Amerikaanse vakliteratuur* in die volgende rangorde (van hoog tot laag) geplaas word: Asiate, blankes, Latynse Amerikaners en swartes. Vir ander sake as intelligensie kan ‘n ander rangorde geld. In Jan van Riebeeck se tyd aan die Kaap het die San bo die ander etniese groepe uitgetoring vanweë hulle bekwaamheid as jagters. Dalk het die Khoi-Khoi die ander etniese groepe ore aangesit as dit kom by die vermoë om vuurmaakhout te versamel. Die blankes was in Van Riebeeck se tyd ongetwyfeld die beste seevaarders en huisbouers. Die punt is dat iedere etniese groepe in sekere opsigte beter as ander kan wees. As tot ‘n veralgemenende gevolgtrekking gekom wil word, sal gewigte/waardes aan al daardie opsigte toegeken moet word. Dan sal gesê kan word groep A is tans in hierdie geografiese gebied oor die algemeen beter as groep B en C. Op ‘n ander tyd en plek kan ‘n ander hiërargie geld. Maar dit gaan deurgaans om gemiddeldes (die klokkurwe). [* Bv Byron M Roth, The perils of diversity: Immigration and human nature (2011). Die IK-rangorde vir hierdie vier groepe bly deurgaans dieselfde maar die presiese getalle wissel ietwat van bron tot bron. Roth verstrek die volgende IK-toedeling: Asiate 105-107, blankes 102, Latynse Amerikaners 87-90 en swartes 85 – Kindle 1201.]

As die Amerikaners bevind die IK-hiërargie is Asiate, blankes, Latynse Amerikaners en swartes, beteken dit dat daar indiwiduele swartes kan wees wat ‘n hoër IK as die gemiddelde blanke of Asiaat het. Die IK van Asiate in Asië verskil van dié in Amerika. Insgelyks is die IK van swartes nie presies dieselfde in Afrika en Amerika nie. Ek as blanke maak vrede daarmee dat Asiate en Jode* se gemiddelde IK tans hoër as dié van nie-Joodse blankes is. Wetenskaplike navorsing oor intelligensie (ras- en geslagsgewys) behoort aangemoedig te word sodat ons objektiewe inligting kan hê oor bv of die ANC-regering (ook Naspers, die Universiteit Stellenbosch, ens) wys handel deur voorkeur aan swartes en vroue by aanstelling en bevordering te gee. In skool- en naskoolse onderwys sal die wetenskaplik-objektiewe bepaling van intellektuele vermoë tot groot voordeel van leerders aangewend kan word. Voorheen was daar aparte klasse vir leergestremdes in skole. Deesdae word leerders in primêre, sekondêre en tersiêre onderwys in groter mate as ooit tevore in dieselfde klas saamgegooi. Intellektuele differensiasie in bv vertraag, normaal/gemiddeld en begaaf en die onderrig van hierdie leerders in aparte klasse behoort beter akademiese prestasie tot gevolg te hê. Tans is onderrig oorwegend op die laagste gemene deler ingestel, met katastrofiese gevolge. [* Bv Richard Lynn, The chosen people: A study of Jewish intelligence and achievement (2011).]

Veral twee strategieë word gebruik om beswaar teen IK-bepaling te maak. Die een is dat dit ‘n instrument is wat deur blankes ter benadeling van nie-blankes ontwikkel is. Die verweer is dat deesdae toegegee word dat die gemiddelde intelligensie van Asiate hoër as dié van blankes is. In daardie sin bevoordeel blankes nie (bloot) hulleself met IK-bepaling nie. Verder korreleer die resultate in groot/redelike mate met bv (ekonomiese) prestasie en uitvindings. Die ander groot beswaar teen IK-toedeling in die na-Nazi-era is dat ras ‘n onakkurate begrip is. In die geval van bv Turke en Arabiere is daar heelwat waarheid in hierdie beswaar. By die Turke speel veral afkoms en by die Arabiere veral religie ‘n groot rol, maar nie altyd in deurslaggewende mate nie. Blankes is dwarsoor die aardbol versprei. Wat as blank in Noord-Amerika aanvaar word, is nie (presies) dieselfde as in Sentraal- en Suid-Amerika nie. In Amerika was die blankes aanvanklik van Angel-Saksiese en Noord-Europese/Nordiese oorsprong. Dit was eers na verloop van tyd dat immigrante uit Suid- en Oos-Europa, asook die Jode, as blankes beskou is. Bruines in die Suidelik-Afrika-konteks kan kwalik ‘n (enkele) ras genoem word, want bruin is eintlik ‘n versamelterm vir almal wat nie (onmiskenbaar) swart, wit of Asiaat is nie, bv Kaapse Maleiers, Namas, Griekwas en Basters. In die praktyk is ras soms op afkoms, dus biologies/geneties, gegrondves maar andersins word dit ook deur die polities-sosiale opset (soos by bruines in Suid-Afrika) bepaal. (Ali Rattansi, bron hier onder, beweer: “Social scientists now regard the stabilization of ethnic categories as a political process”, Kindle 1377.)

Wanneer ‘n mens oor rassisme skryf, word jy eintlik verplig om die term “ras” te gebruik. Ras is dikwels soos ‘n tapyt: daar is geen twyfel oor die aard daarvan in sy kern nie; die probleme kom veral voor aan die rante waar dit uitrafel. Ek verkies om eerder die volkekundige term “etnisiteit” te gebruik. Daar is geen twyfel dat bv die gesonde kern van die Afrikaanssprekende blankes hulleself as ‘n volk beskou nie, onder meer omdat hulle (in groot mate) dieselfde afkoms en kultuur het. Suksesvolle selfidentifisering kan die lakmoestoets vir geldige etniese etikettering wees. Die ANC pas sy etnies-gebaseerde beleid sonder amptelike rasklassifikasie ingevolge self- en amptenaarklassifikasie toe. Dieselfde vier breë kategorieë van die NP-regering word deur die ANC-regering gebruik en misbruik: in die volgorde van afnemende empatie: swart, bruin, Asiaat en blank (dus in groot mate die teenoorgestelde van die IK-rangorde).

In die vorige paragraaf het ek na die vakgebied volkekunde/antropologie verwys. Die studievoorwerp is die mens. Veral twee studieterreine of -benaderings kan onderskei word: fisiese of biologiese en sosiale of kulturele antropologie. In fisiese antropologie word mense waargeneem en gemeet soos in die natuurwetenskappe, bv skedelvorm en -grootte, vel- en oogkleur, haarkleur en -tekstuur, ens. In die na-Nazi-era het hierdie soort studie in onguns verval, al is outentieke wetenskaplike werk op hierdie terrein gedoen. Toe Die Burger (25.04.2013, p 10) berig dat ‘n mensskedel, ‘n stel glasoë en ‘n haarkleurkaart aan die lig gekom het wat moontlik voorheen deur die Universiteit Stellenbosch (US) se departement volkekunde vir onderrigdoeleindes gebruik is, het Russel Botman, toe die US-rektor, sonder versuim ‘n artikel daaroor in Rapport (28 April) gepubliseer om die blanke universiteit van weleer te diskrediteer deur daardie US met Nazi-bedrywighede te assosieer (Praag 28.04.2013).

As ons betroubare kennis wil vermeerder behoort enige persoon die vryheid te hê om oor enige voorwerp/onderwerp wat wetenskaplik ondersoek kan word, navorsing te doen; ook oor die mens, mits dit aan etiese voorskrifte voldoen. Dit is die kern van akademiese vryheid. Oor die gebruik/toepassing van sodanige verworwe kennis kan daar meningsverskil ontstaan. Die onderliggende motief van die Nazi-rasverbeteringsleer was om die Duitsers, na hulle vernederende nederlaag in die Eerste Wêreldoorlog, beter vir die toekoms toe te rus. In beginsel kan ‘n strewe na positiewe verbetering (seker) nie verkeerd wees nie. Dit kan verkieslik bo selfvergenoegdheid wees.

Die begrip ras is na die Tweede Wêreldoorlog verdag gemaak en as onakkuraat voorgestel. Rassuiwerheid is tot mite verklaar omdat dit in mindere mate voorkom as wat voorheen veronderstel is. Voorkeur is aan die begrip etnisiteit gegee. Terselfdertyd het fisiese antropologie sy prominensie ten gunste van kulturele antropologie ingeboet. Fisiese antropologie het sy wortels in die natuurwetenskappe terwyl kulturele antropologie ‘n sosiale wetenskap is waarin resultate makliker in ooreenstemming met mode-ideologieë (bv -politiek) gebring/gemanipuleer kan word. In vergelyking met kulturele kenmerke is fisiese eienskappe meer durend. Dink maar aan hoe radikaal sommige blankes, veral Afrikaners, hulle leefwyse in die nuwe Suid-Afrika aangepas het; veral wat hulle sê/voorgee. Soos in kulturele antropologie is ek geneig om eerder kulturele (bv waardes, taal) as biologiese (bv velkleur) verskille by mense te beklemtoon. Die voor die hand liggende waarheid is egter dat iedere mens ‘n eenheid van gees (wat in kultuur vergestalt word) en liggaam (bv brein) is.

‘n Mens as eenheid ly nie aan ‘n gekompartementaliseerde Descartesiaanse tweeslagtigheid nie. Daarom is kulturele verskynsels soos prestasie (“accomplishment”, danksy talent, bekwaamheid, kundigheid, vaardigheid, vindingrykheid – dikwels verkeerdelik as “bevoordeling” geëtiketteer) nie los te maak van intellektuele vermoë wat in die brein gesetel is nie. Hoewel die brein deur bv afdoende korrekte voeding, sintuiglike waarneming, ondervinding en onderrig tot verbeterde funksionering gestimuleer kan word, is dit ‘n feit dat sowel afkoms (“nature”) as opvoeding (“nurture”) intelligensie beïnvloed. Die gewig wat wetenskaplikes aan afkoms toeken, wissel van 40 tot 80%. (Rattansi, bron hier onder, skryf:

“It is important to clarify what the critics of the hereditarian position are not claiming. They do not argue that there is no genetic element in the determination of various abilities. Thus, nor are they arguing that all individual abilities and performances are completely environmentally determined” – Kindle 1295.).

Daar is die sensitiewe kwessie van breingrootte wat intelligensie medebepaal. (Dit is bv waarom daar tans erns met die bestryding van die Zika-siekte gemaak word.) Daar is deur wetenskaplikes bevind dat by breingrootte dieselfde etniese rangorde as by IK aangetref word. Dit volg dat dit ‘n mite is dat sogenaamde gelyke geleenthede, bv op skool en universiteit, gelyke resultate sal oplewer omdat afkoms/voorgeslagte uitkomste medebepaal. In 2012 het ‘n span wetenskaplikes onder die leiding van Paul Thompson bevind dat variasies van die geen HMGA2 breingrootte en dus intelligensie beïnvloed. Na bewering is die onderskeie (Amerikaanse) gemiddelde breingroottes in kubieke sentimeter soos volg: Asiate 1364, blankes 1347 en swartes 1267. “Since every cubic centimeter of braintissue contains millions of brain cells and billions of synapses, the race differences in brain size help to explain the race differences in IQ” (Henry E Garrett, IQ and race: The complete overview, Ostara Publications, 2nd ed, 2013, 88p; Amazon Kindle $6,78; 1266; kyk ook inligting op die internet, bv die berig in The New Observer, wat soms woordeliks dieselfde as Garrett se teks is).

Die wesenlike eendersheid van mense word in navolging van die gelykverklaring van almal gepredik. By die bevoordeling van sommige en die benadeling van ander etniese groepe gee die ANC egter ruim erkenning aan etniese verskille. Die voorneme is ook om met hierdie strategie tot in die oneindige voort te gaan, terwyl ‘n kernbeginsel van nie-rassisme is dat aan geen onderskeid permanente status verleen mag word nie: “The core function of racism [is] its assigning of fixed or permanent differences among human descent groups and using this attribution to justify their differential treatment” (Frederickson 2000). As etniese groep A (bv die Khoi-San) op ‘n bepaalde tydstip minder ontwikkeld as groep B (Van Riebeeck se blankes) was, mag nie beweer word dat dit altyd die geval sal wees nie.

Wat nodig is, is om te bepaal in watter opsigte en in watter mate daar sprake van gelykheid en wesenlike eendersheid by mense kan wees. Sodanige bepaling sal noodwendig (in ‘n mate) tyd en plek gebonde wees. Wat duidelik uit enige objektiewe, rasionele, wetenskaplike ondersoek sal blyk, is dat daar by die nastrewing van die ideaal van gelykheid en wesenlike eendersheid ‘n groot skeut utopie, dus onwerklikheid/onmoontlikheid, aanwesig is.

Ek haal vervolgens twee definisies van rassisme aan:

  • “Belief in, or set of implicit assumptions about, the superiority of one’s own race or ethnic group, often accompanied by prejudice against members of an ethnic group different from one’s own. Racism may be used to justify discrimination, verbal or physical abuse, or even genocide, as in Nazi Germany, or as practiced by European settlers against American Indians in both North and South America” (Collins World Encyclopedia, 1995).
  • “Veronderstelling dat karakter en bekwaamheid bepaal word deur ras – ‘n denkrigting wat aanneem dat ‘n besondere ras meerderwaardig is en die reg het om ander rasse te oorheers” (HAT, 2000).

Onverdraagsaamheid en vooroordeel*, in die sin van die foutiewe taksering van mense op grond van etnisiteit, ag ek afkeuringswaardig. Ook as vooroordeel uitdrukking in kwetsende taal of gedrag vind. Rassediskriminasie en -uitwissing is vir my ook onaanvaarbaar, maar albei kom in die nuwe Suid-Afrika voor. Karakter, hetsy goed of sleg, word nie (uitsluitlik) deur etnisiteit bepaal nie. Oorheersing van een etniese groep oor ‘n ander is sekerlik ongewens. Wat in Suid-Afrika gebeur het, is dat een groep, die blankes, lank oor ander groepe geheers het, maar daadwerklike pogings is aangewend om sommige groepe in staat te stel om selfregerend te word. In die nuwe Suid-Afrika oorheers een groep, die swartes, in oortreffende mate alle ander groepe. Die huidige situasie word voorgehou as eties voortrefliker as die vorige bestel. Waarin ek ‘n wrewel het, is dat almal (bv geletterdes en ongeletterdes, ingeligtes en oningeligtes, suksesvolles en misluktes) ingevolge een mens, een stem gelyk verklaar is en in dieselfde mate politieke inspraak het. Die resultaat is dat die meerderheid tydens verkiesings besluit wie regeer, pleks daarvan dat kwalitatiewe norme (geletterdheid, ingeligtheid, insig) verseker dat diegene wat die beste in staat is om te regeer aan die stuur van sake geplaas word. [* Frederickson noem die volgende voorbeeld van vooroordeel:

“The heritage of slavery and beliefs about the savagery of Africa engendered a white supremacist myth that blacks were an inherently unprogressive race, incapable of joining the modern world as efficient and productive people” (1266).]

Maar die kernelement in die twee bostaande definisies van rassisme is meerderwaardigheid. As blankes hulle in die ou Suid-Afrika meerderwaardig geag het, is hulle status as tweederangse burgers in die nuwe Suid-Afrika die teenoorgestelde. Swartes word ongetwyfeld ingevolge die veelgeprese huidige grondwet meer gelyk, dus hiërargies hoër, as blankes geag. Byvoorbeeld, daar mag rasgebaseerd ten gunste van swartes gediskrimineer word. Dit word regstellende aksie, transformasie, ens, genoem. Ingelyks word blankes in hierdie proses benadeel. Na analogie van die gelykheid van een mens, een stem word egter voorgegee dat almal op voortreflike wyse gelyk geag en behandel word. Maar suiwer objektief beskou, is alle etniese groepe in die praktyk nie (noodwendig) gelyk nie. Dit is sekerlik (teoreties) moontlik dat die vier bogenoemde breë plaaslike etniese groepe, A, B, C en D, veralgemenend op wetenskaplike gronde hiërargies gerangskik kan word. (Veralgemening/induksie is standaard wetenskaplike praktryk: Op grond van ‘n verteenwoordigende monster word gevolgtrekkings oor die groep as geheel gemaak. Dit is nie dieselfde as stereotipering in ‘n negatiewe sin nie. In die praktyk word stereotipering eintlik net opgehaal as iets negatiefs oor nie-wittes geopper word.)

My oogmerk met moontlike etniese rangordening is nie om myself of my groep, die blankes, potensieel meerderwaardige status te gee nie. My beswaar teen die onbewese/aksiomatiese/dogmatiese gelykverklaring van etniese groepe is dat dit ‘n sluwe manier is om blankes te diskrediteer; dus wittes in die beskuldigdebank te plaas. Die mode-uitgangspunt is dat alle etniese groepe gelyk is. Empiriese waarneming maak dit onbetwisbaar duidelik dat alle groepe in die praktyk nie gelyk is nie, bv wat welvaart, ontwikkeling, prestasie, ens, betref. Daarom word daar na sondebokke vir hierdie onverkwiklike ongelykheid gesoek. Die blankes word dan sonder meer die skuld vir die ongelykheid van etniese groepe gegee. Die blankes word beskuldig dat hulle ‘n geskiedenis het van die benadeling, vertrapping, uitbuiting, veronregting, verontmensliking, ens, van nie-wittes. ‘n Geldige verklaring vir al die hede se ongelykhede kan glo in die verlede gevind word. Pleks van in hierdie strik van selfveroordeling te trap, verkies ek om die opsie van die moontlike ongelykheid van etniese groepe oop te hou en om vir verdere wetenskaplike navorsing hieroor te pleit.

Wanneer oor rassisme gelees word, moet in gedagte gehou word wie die meeste van hierdie leesstof produseer: “Scholars who were hostile to what they were writing about have produced virtually all such examinations of racism” (Frederickson 2016). Die oorverligte Frederickson is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Dieselfde geld Ali Rattansi, Racism: A very short introduction (Oxford University Press, 2007, 209p; Amazon Kindle $5,92). Soos Frederickson gaan Rattansi uit van die eenheid van die mensdom: “Humanity cannot be divided into races” (1326). Soos ek verkies Rattansi om eerder van etnisiteit as ras te praat: “Ethnicity … is culturally defined and is not the same as the idea of biologically distinct races” (1288). Hy verkies “primarily cultural criteria to define a racial group” (1350). Dit word dan moontlik om aan verskynsels soos “belonging” en “identity” meer reg te laat geskied (1363).

Tereg onderskei Rattansi soorte en grade van rassisme. “Strong racism can be defined as the belief that separate, distinct, biologically defined races exist; that they can be hierarchically ordered on the basis of innate, and thus unalterable superior and inferior characteristics and abilities; and that hostility is natural between these races” (1456). Aan die einde van sy boek verskaf Rattansi die volgende samevatting: “Racism is not an irrational aberration. It has emerged in historically specific circumstances and has been inserted into the frames of interpretation and senses of belonging that are intrinsic features of human cultures” (2618). Wat dikwels as rassisme geëtiketteer word, is dus niks anders nie as die (gesonde) natuurlike verskynsel van soort wat soort soek; dus kultureel-etniese lojaliteit/gesentreerdheid en nie aanstootlike rassisme nie. Enoch Powell het dit treffend geformuleer, op ‘n wyse wat tot Afrikaners spreek: “An instinct to preserve an identity and defend a territory is one of the deepest and strongest implanted in mankind” (1587). Vir blankes en seker veral vir Afrikaners in Afrika gaan dit om oorlewing. Dit verklaar in groot mate waarom rasseskeiding, apartheid en afsonderlike ontwikkeling voorheen regeringsbeleid was. “Moving beyond racial frames of interpretation is not a medical but a cultural and political project” (2618). Ja, dit is nie ‘n mediese aangeleentheid nie. Bevrydingsteoloë het dinge aan die stert beet as hulle blankes siek noem en genesing en heling bepleit. Myns insiens raak Rattansi daarna onrealisties met die utopie wat hy in die vooruitsig stel: “Ideally, we need to enter a post-national and post-ethnic era” (2618).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.