President Barack Obama lyk ingestel daarop om 'n streeksdiplomatieke strategie te volg, sowel as 'n militêre, om Afghanistan en Pakistan te verhoed om nuwe veilige hawens vir teen-Amerikaanse militante te word.
Ten spyte van sy planne om nog duisende soldate na Afghanistan te stuur om stabiliteit te probeer verseker, blyk dit dat die Obama-administrasie na die advies van kenners luister en daarvan bewus is dat 'n militêre oplossing op die lang termyn nie moontlik is nie.
Hillary Clinton, Obama se keuse vir minister van buitelandse sake, het verlede week nagelaat om 'n militêre oorwinning te noem.
Clinton, wat voor 'n senaatbevestigingsverhoor verskyn het, het in die plek daarvan gepraat van die "toepassing van 'n breë strategie in Afghanistan, wat bedreigings teen ons veiligheid verminder en die vooruitsigte op stabiliteit en vrede verhoog".
"Ons sal al die elemente in ons mag gebruik – diplomasie, ontwikkeling en verdediging – om saam met daardie mense in Afghanistan en Pakistan te werk wat Al Kaida, die Taliban en ander geweldaddige ekstremiste wil uitwis," het Clinton gesê.
Oorblyfsels van die Taliban-regering, wat in die Amerikaans geleide inval in 2001 omvergegooi is om Al Kaida-militante uit te dryf, voer nou 'n insurgensie teen die Amerikaans ondersteunde regering van die Afghaanse president Hamid Karzai.
Daar is omtrent 70 000 Amerikaanse en ander buitelandse soldate in die land wat sy aan sy veg met Afghaanse veiligheidsmagte om die Taliban te onderdruk.
Clinton het die nodigheid van breër ondersteuning erken, en het ook gesê dat sy bemoedig is deur die feit dat die nuwe Pakistanse regering verstaan dat die ekstremiste binnelande stabiliteit bedreig, en dat "dit hulle eie geveg is, en nie net ons s'n nie".
Clinton het opmerkings van generaal David Petraeus, uitgaande president Bush se bevelvoerder vir die streek, sowel as senators en ander mense beaam met haar stelling dat lande in dié gebied aan boord gebring moet word vir 'n oplossing.
'n Oplossing vereis 'n streeksbenadering… wat insluit Pakistan, Indië, die sentraal-Asiese state en selfs Sjina en Rusland, dalk selfs saam met Iran op een punt vorentoe," het Petraeus gesê.


'n Universiteit in Taiwan het 'n kursus begin aanbied wat die studente leer hoe om pornografiese films te kan waardeer en te analiseer.
Twee aparte spanne wetenskaplikes het Woensdag die eerste berig gegee van die atmosfeer van planete buite ons sonnestelsel.