Die Oegandese weermag het Maandag gesê dat Oegandese rebelle verdink word daarvan dat hulle 'n Katolieke kerk wat vol mense was aan die brand gesteek het in die ooste van die Kongo, en dat mense in die voorval dood is.
'n Weermagwoordvoerder, kaptein Ronald Kakurungo, het gesê Oegandese soldate in die naburige Kongo het beweer dat LRA-rebelle Saterdagaand 'n kerk in die dorpie Tora aan die brand gesteek het. Die Oegandese soldate is deel van 'n multinasionale mag wat verlede Desember saamgestel is om die brutale rebellegroep te stuit.
Kakurungo het gesê dit is nie duidelik hoeveel mense dood is nie. Die VN –beheerde Radio Okapi wat in die oostelike Kongo uitsaai het ook nuus aangaande die aanval op die kerk en verdere aanvalle op burgerlike huise in die dorpie Libombi uitgesaai.
Come Mbolingana, die hoof van die Katolieke welsynsorganisasie, Caritas Congo, het gesê werknemers het met inwoners van die dorpie gepraat, wat bevestig het dat daar 'n aanval was, maar hulle het geen inligting gehad oor hoeveel mense dood en gewond is nie.
"Hulle het mense wat in die kerk gebid het verbrand," het hy gesê.
VN-amptenare het oproepe waarin vir kommentaar gevra is nie beantwoord nie.
'n Woordvoerder vir die rebelle, Dawid Matsanga, het die bewerings verwerp en gesê die rebelle was nie in die omgewing nie en het nie die gruweldade gepleeg nie.
