Saadpakke wat bedoel is om arm gesinne te help om hulle eie groente te verbou as teenvoeter vir die stygende voedselpryse word nou onwettig vir kontant verkoopo, het die KwaZulu-Natalse departement van landbou Maandag gesê.
"Twee ou dames het Saterdag aan ons kom sê dat daar indiwidue is wat geld vra van die mense wat veronderstel is om voordeel te trek uit die voedselsekerheidskema."
"Die inisiatief was bedoel vir die arm publiek… nie die paar inhalige kriminele wat hulleself wil verryk ten koste van die arm mense nie," het woordvoerder Khulekani Ntshangase in 'n verklaring gesê.
Die departement het die R40-miljoenprojek verlede jaar ingestel ná die voedselpryse konstant gestyg het. Plaaslike munisipaliteite, stamleiers en kerkorganisasies is betrek om die kwesbare mense te identifiseer. Dié gesinne moes dan van saad en gereedskap voorsien word. Pleks daarvan dat die goedere verniet versprei is, het individue wat die taak moes verrig geld vir die saadpakke gevra.
Ntshangase het gesê dat die betrokke partye wat sulke misdade pleeg nog nie geïdentifiseer is nie.
