Swart en Latyns-Amerikaanse studente wat in Amerikaanse skole opgevoed word, word al hoe meer gesegregeer opgevoed, het 'n verslag gelui wat verlede Woensdag bekendgemaak is. Die verslag het enige optimisme omtrent rasse-aangeleenthede wat Barack Obama se presidentskap omring, uit die weg geruim.
Swartes en Hispaniese studente word meer dikwels van wittes geskei as op enige tydstip sedert die burgerregtebewegings en baie van die skole wat hulle bywoon sukkel om voort te bestaan, het die verslag deur die Burgerregteprojek van die universiteit van Kalifornië gelui.
'n 2007-uitspraak van die Hooggeregshof aangaande vrywillige segregasie sal waarskynlik die neiging aanhelp omdat dit druk op plaaslike owerhede verminder om "desegregasie" oftewel gedwonge integrasie in skole te bevorder, het die verslag gesê, wat ook 'n beroep gedoen het op Obama om die saak aan te spreek.
Obama wat Dinsdag ingesweer gaan word, sal die land se eerste swart president wees.
"Dit sal 'n tragedie wees as die land aanvaar het vanweë Obama se verkiesing dat die rasseprobleme opgelos is, wanneer vele ongelykhede eintlik verdiep het," het Gary Orfield, die mededirekteur van die Burgerregteprojek gesê.
Orfield het gesê die neigings was die "gevolg van 'n sistematiese verslapping van die burgerregtebeleid en verwante opvoeding en gemeenskapshervorming oor dekades heen".
Deels kan groter segregasie in skole aan demografie toegeskryf word. Soos die persentasie wit studente verminder – hulle maak nou 56% op van die skoolbevolking uit, tenoor 90% in 1960 – word hulle meer geïntegreer met studente wat nie wit is nie.
Nog 'n faktor is die residensiële segregasie wat toeneem in baie dele van die land. Dit bepaal al hoe meer die rassesamestelling van die skole in die afwesigheid van beheermaatreëls deur onderwysowerhede om nie-gesegregeerde skole te skep en te kan ondersteun, het Orfield gesê.
