Taalgestremde SA-reg op eerste dag van Oscar-verhoor

Die mag van vertaling...
Die mag van vertaling…

Suid-Afrika spog met 11 landstale wat blykbaar daagliks in geen hof tot hul reg kom nie en regspleging benadeel. Dié opspraakwekkende leemte in Maandag tydens die Oscar Pistorius-moordverhoor aan die wêreldmedia ontbloot.

Die gehalte van tolkwerk in howe is van kardinale belang, aangesien stemming en inhoud wat oorgedra word hoogsgespesialiseerde taalvaardige tolke vereis en hul rol om getuienis vas te lê mag selfs die verskil tussen lewenslange tronkstraf en kwytskelding beteken.

Die gehalte van die tolk op die eerste dag van die Oscar Pistorius-moordverhoor was “skandalig” het ‘n regsgeleerde aan Beeld gesê.

Die tolkwerk van Afrikaans na Engels in die hooggeregshof in Pretoria is as “pateties” beskryf.

Die getuienis van die staat se eerste getuie, Michelle Burger, ‘n buurvrou van die moordaangeklaagde paralimpiese atleet was in Afrikaans.

Volgens Jacques Steenkamp, ervare misdaadverslaggewer, het die eerste tolk nie kans gesien om voort te gaan met al die internasionale media-aandag wat op die verhoor gefokus is nie.

Die tolk wat Burger se getuienis van Afrikaans na Engels moes vertaal, het ‘n paar keer Burger se woorde verdraai, en veral ‘n beskrywing van die tye tussen die vier skote, verkeerd weergegee.

Dit het die getuie Burger, wat gelukkig Engels magtig is, ‘n paar keer genoop om self in Engels aan regter Thokozile Matilda Masipa te probeer verduidelik wat sy eintlik gesê het.

Dit is ook nie duidelik waarom ‘n regter gekies is wat nie Afrikaans verstaan nie, terwyl daar talle sulke regters is.

Die regsgeleerde het aan Beeld gesê die gehalte van tolke in diens van die departement van justisie wat van Afrikaans na Engels moet tolk is ‘n skande en regslui word daagliks in howe gekonfronteer met dié bedenklike kwaliteit van diens.

Met die oë van die wêreld op Suid-Afrika se regstelsel gerig, sou ‘n mens ten minste verwag dat die tolk gekwalifiseer is vir die belangrike taak om geregtigheid te laat geskied.

Veral ook in die lig van die vorige gebaretolkfiasko by Mandela se gedenkdiens, toe ‘n skisofreen allerlei bobbejaanstreke voor internasionale staatshoofde en media uitgehaal het, is die versuim onverstaanbaar.

Woorde wat verkeerd getolk word plaas onregverdige druk op die getuie, die regspan en die regter en kan ‘n regverdige verhoor kelder, het die regsgeleerde, ‘n strafregdeskundige, aan Beeld gesê.

“Wanneer jou woorde verkeerd in die hof getolk word, ontstaan daar onmiddellik ‘n onreëlmatigheid wat gronde gee vir ‘n hersieningsaansoek teen die billikheid van die verhoor. In wese veroorsaak dit dat die regter ‘n verkeerde afleiding maak van dit wat die getuie sê en dit kan tot ‘n verkeerde bevinding lui,” het hy verduidelik.​

Nog ‘n regsgeleerde het aan Praag gesê die agteruitgang van die ander landstale duur al die afgelope twintig jaar deurdat openlike voorkeur aan Engels gegee word en Suid-Afrikaners wat nie Engels magtig is nie, word ontsettend daardeur benadeel.

Dit is uiters kommerwekkend dat dit daagliks in Suid-Afrikaanse howe afspeel sonder dat die kwessie hoegenaamd aandag geniet.

Oscar onderhandel skikking met vermoorde se ouers

Reeva Steenkamp
Reeva Steenkamp

Oscar Pistorius, die paralimpiese atleet wat van moord aangekla word,  se prokureurs onderhandel met Reeva Steenkamp se ouers in ’n poging om ’n skikking buite die hof te bereik.

Pistorius se prokureurs het Steenkamp se ouers genader, berig The Times. Die prokureurs vir albei partye wou nie kommentaar lewer oor die bedrag wat onderhandel word nie.

Die Steenkamps het R3 miljoen siviele eis vir die verlies van inkomste teen Pistorius gebring.

Steenkamp en haar halfbroer, Adam, het hul ouers finansiël ondersteun en ook die huur betaal vir hul huis in Port Elizabeth.

Adv. Dup de Bruyn SC, die Steenkamps se regsverteenwoordiger, en Kenny Oldwage, Pistorius se prokureur, het bevestig dat hulle in gesprek is

Reeva is op Valentynsdag vanjaar in Pistorius se huis in die ooste van Pretoria doodgeskiet. Die atleet staan tereg op aanklag van moord met voorbedagte rade en die oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer.

Die saak is Maandag uitgestel tot die verhoor op 3 Maart 2014 begin.

 

Oscar-moordverhoor tot volgende jaar uitgestel

oscarDie moordverhoor van die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius sal van 3 tot 20 Maart aanstaande jaar in die hooggeregshof in Pretoria plaasvind.

Die staat het amptelik die klagstaat teen hom bekendgemaak. Daar is glo bewyse dat Pistorius op 14 Februarie vanjaar sy vriendin Reeva Steenkamp met voorbedagte rade doodgeskiet het, is vroeër berig.

Hy het vanoggend vlugtig in die landdroshof in Pretoria verskyn waar hy wel van moord met voorbedagte rade op Steenkamp, die onwettige besit van ammunisie en die oortreding van die Vuurwapenwet aangekla is.

Volgens berigte beoog die staat om ten minste 107 getuies te roep. Pistorius hou vol dat hy Steenkamp vir ‘n inbreker aangesien het.

Die hofverrigtinge in die Pretoriase landdroshof in die saak teen Oscar Pistorius het Maandagoggend begin en daar is wêreldwyd daaroor berig.

Pistorius het kort voor negeuur by die hof aangekom. Hy is vergesel deur sy broer, Carl en suster Aimee. Sy gesin moes die huilende atleet troos.

Die hofsaal was stampvol met tientalle plaaslike en buitelandse joernaliste teenwoordig.

Die polisie het die Pretoriase landdroshof, voor Oscar Pistorius se hofverskynin met snuffelhonde deursoek .

Die groot groep joernaliste was sedert vyfuur vanoggend by die hof saamgetrek.

Die verbeelde swart inbreker in Oscar se huis

Suid-Afrika is ‘n gewelddadige plek. Ons verkragting en huishoudelike geweld maak dit een van die mees gevaarlike lande ter wêreld, veral om ‘n wit vrou te wees.

Verlede jaar alleen is daar 15 609 moorde gepleeg, maar die sensasionele gebeure rondom die moordaanklagte teen Oscar Pistorius het hierdie ongelukkige toedrag van sake eerder onder sensasie toegegooi as om die nodige soeklig daarop te skyn. Die antagonis in hierdie geval, is nie ‘n swart inbreker nie, maar het die seldsame onderskeid om ook die groot protagonis te wees.

Dus is die protagonis se verweer dat sy optrede voortspruit uit die verbeelde teenwoordigheid van ‘n “inbreker”, waarskynlik swart, baie nader aan die werklikheid waarin Suid-Afrikaners leef.

Ten minste kan ons uitsien na ‘n skouspelagtige, sensasionele moordverhoor, waar Valentynsdag, krieketkolwe, geweld en verbeelde swart inbrekers sal aansny by kritiek teen ons regstelsel, wit skuld, vroueregte, rasvooroordele, wapenbeheer en les bes, apartheid. Wat Oscar Pistorius ook al in sy huis aangevang het, het hy ten minste die ondergang van die gedrukte media vertraag.

In die Oscarverhaal wat internasionaal ontvou, is ras natuurlik totaal afwesig soos per afspraak in die gedrukte pers, behalwe waar enige boosheid verbind aan Afrikaners kan word. En met daardie van is hy blykbaar Afrikaans, al is hy Engels. Sy vermoorde meisie, ten spyte van haar Afrikaanse van, is heeltemal Engels, vreemd genoeg.

Vir buitelandse koerante is dit opnuut weer die geleentheid om hul gestereotipeerde en oningeligte indrukke te gee van hoe die land se psige inmekaar pas. Die lustelose dik ousies van die ANC se Vroueliga was gelukkig teenwoordig om die prentjie van rasseharmonie te voltooi met hul besware oor geweld teen raslose vroue.

Een onwelkome newe-effek hier ter plaatse is dat die DA en Britsgesindes se verwarde reaksies op Ramphele se Agang en haar strooistooisel minder sotlik lyk, maar dit sal seker nie vir ewig duur nie, aangesien kiesers een of ander tyd sal moet gaan toustaan om te stem.

Van die ander interessante kwessies oor die Pistorius-saak is hoe die sosiale media reageer. Joernaliste by die borgverhoor kon via Twitter laat weet as die aangeklaagde sy oë knip. “Gevestigde nuusbronne”, maw koerante, kon dus opvolg met die ietwat meer gedetailleerde analise om die diskoers van “Ons is almal kleurloos” met ‘n dik toepaslike laag politoer te bedek. Die menslike drama wat sekonde per sekonde uitgetwiet word, is uitsonderlik goed hiervoor.

Dit blyk ‘n ideale simbiotiese verhouding te wees om alles binne 140 karakters en minder sekondes te weet, gevolg deur die uitgebreide “verklaring” op ‘n webwerf en in ‘n koerant. Hoe sneller hoe beter, aangesien allerlei onwaarhede ewe gemaklik neffens die feite staan.

Afgesien van die onversadigbare vraag na meer inligting, bied Twitter ook ‘n skrikwekkend akkurate termometer van die openbare mening se koors. Donderdagoggend was daar groot simpatie vir Pistorius wat binne ‘n paar uur verdamp het toe die polisie aangekondig het dat hulle ‘n moord ondersoek.

Tans lyk dit asof die openbare mening in die guns van die vermoorde meisie swaai, teen die gestremde atleet, danksy die negatiewe en foutiewe berigte in Britse dagblaaie.

As Oscar daarin slaag om uit die tronk te bly, ongeag of hy skuldig is of nie, sal dit te wyte aan die denkbeeldige swart inbreker by sy toilet wees. Daardie einste inbreker wat ons almal vrees, en wat alte dikwels ongenooid en met funeste gevolge aanmeld.

As hy tronk toe gaan, sal sy atletiekprestasies vergete wees. Hy sal net nog ‘n mislukte Afrikaner word, al was hy Engels. Die Britse koerante sal hom met oorgawe in hul ou gunstelingstereotipe toespit. Die werklikheid maak nie meer saak nie. Oscar se verhoor is reeds die bewys dat die leuen sal seëvier.