Vertrapping van Afrikaans

Die afgelope week het die vertrapping van Afrikaans verdere momentum gekry toe Michael le Cordeur, die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), standpunt teen Standaardafrikaans ingeneem het. Hy gee Standaardafrikaans die skuld vir die swak leesprestasie van bruin skoliere. “Taal is kritiek [hy bedoel: van deurslaggewende belang] vir basiese opvoeding. Hulle word benadeel as hulle nie getoets word in die taal [Kaaps] waarin hulle aanbid, sing en emosioneel leef nie.” Dit is om etniese en politieke redes dat Le Cordeur emosionele snare soos benadeling en aanbidding aanroer. Hy verduidelik nie waarom bruin skoolkinders naas swak leesprestasie ook in bv wiskunde swak vaar nie. Le Cordeur maak van Standaardafrikaans ‘n slaansak.

“Volgens Le Cordeur moet kinders op skool toegelaat word om hulself uit te druk in die taal wat hulle praat.” Maar is skoolonderrig nie juis daar om, onder andere, reg te stel wat kinders verkeerd doen nie? As Le Cordeur, ‘n opvoedkundige, konsekwent wil wees, moet hy ook pleit dat skoliere voort moet kan gaan met die geradbraakte Engels wat hulle praat. Klaarblyklik heg die huidige voorsitter van die ATR meer waarde aan korrekte Engels as korrekte (dus Standaard-) Afrikaans. “Hy het gesê Kaaps moet erkenning kry as ‘n variëteit van Afrikaans. Volgens hom moet daar meer debatte gevoer word om dié taal te bevorder” (Die Burger, 4 deser, p 8).

Kaaps is ‘n mengeltaal bestaande uit Afrikaanse, Engelse en eiesoortige woorde, uitdrukkings en sinskonstruksies. Kaaps kan nie sonder kennis van sowel Afrikaans as Engels verstaan word nie. In hierdie sin is Kaaps ‘n variëteit van sowel Afrikaans as Engels. Die bestaan van hierdie mengeltaal word nie ontken nie. Wat wel bevraagteken moet word, is die wysheid van Le Cordeur se oproep dat Kaaps as ‘n taal uit eie reg erken moet word, bv as ‘n twaalfde amptelike taal. Hy verlang egter nie net erkenning vir die bestaan van hierdie taalverskynsel nie, maar ook dat hierdie mengeltaal bevorder moet word.

Moet daar nie veel eerder energie aan die bevordering van Standaardafrikaans bestee word nie? Taalstandaardisering word dwarsoor die wêreld as wenslik beskou. Dit druis in teen Le Cordeur se sentimentele pleidooi vir ‘n nistaal soos Kaaps. Die kern van my beswaar is dat die koestering van Kaaps die oordondering van alle variëteite van Afrikaans deur Engels bevorder. Daar is geen moontlikheid dat Kaaps die voortbestaan van respektabele (of soos ons voorheen toegelaat is om te sê: algemeen-beskaafde) Afrikaans kan bevorder nie. Die bestaan van talle variëteite van Afrikaans kan maar erken en as spreektale geduld en selfs aanvaar word. Maar slegs in die vorm van die grootste moontlike eenheid is ‘n taal kragtig en het dit op die langtermyn ‘n toekoms. In die konteks van Afrikaans is Standaardafrikaans daardie verlangde eenheid.

Standaardafrikaans moet daarom as sowel spreek- as skryftaal bevorder word. Dit is voor die hand liggend dat dit is wat die ATR, insluitende sy voorsitter, behoort te doen. Die probleem is dat ‘n tradisie in die ATR geskep is waarvolgens dit eerder ‘n versoeningsraad, dus ‘n politieke liggaam, en ‘n meertaligheidsraad, as ‘n taalraad ten bate van Afrikaans is. Dit is die nalatenskap van die vorige ATR-voorsitter, Wannie Carstens (Praag 17 Maart). Deur te pleit vir die bevordering van ‘n mengeltaal ten koste van ‘n blink toekoms vir respektabele (dus Standaard-) Afrikaans, bevestig Le Cordeur dat die ATR nie daarop ingestel is om ‘n doeltreffende Afrikaanse Taalraad te wees nie.

As die ATR hom vorentoe wil laat geld as ‘n pleitsbesorger vir Afrikaans sal die meerderheid raadslede die moed van hulle oortuiging moet hê om ondubbelsinnig kant teen Kaaps en vir Standaardafrikaans te kies. Eers dan sal die ATR kan begin om leiding teen die huidige mode van taalverbastering (die gebruik van onnodige Engelse woorde in Afrikaanse spreek- en skryftaal) te gee. Die talle Afrikaanse en Afrikaner-organisasies wat tot dusver die ATR gesteun het, behoort in hierdie verband druk uit te oefen en, indien nodig, hulle steun te onttrek en dan die ATR met ‘n doeltreffende liggaam te vervang.

Stellenbosch: Verraad teen wittes en Afrikaans

Dit is ‘n Bybelse waarheid dat wanneer verraad gepleeg word, die haan drie keer kraai. Ek het op 7 (Wit Afikaanse Stellenbosch in sy swernoot) en 23 deser (Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch) op Praag geskryf oor die raadsbesluit van 29 April waarvolgens die Universiteit Stellenbosch (US) by sy eeuwording in 2018 nie meer hoofsaaklik ‘n wit en ook nie meer hoofsaaklik ‘n Afrikaanse universiteit mag wees nie. Engels vervang Afrikaans as die hoofonderrigtaal. Hiermee my derde skrywe of haangekraai oor hierdie verraad. Die Rubicon van Afrikaner- en Afrikaans-vertrapping is op 29 laaslede oorgesteek. Die Judas in hierdie verhaal, die rektor Russel Botman, het soos ‘n wafferse ANC-minister na die buiteland verkas.

In ons Orwelliaanse werklikheid plaas Die Burger min maar positiewe berigte oor die US-gebeure. Op 25 deser (p 12) het ‘n briefskrywer dit tereg eienaardig gevind dat so weinig kommentaar oor hierdie “prysenswaardige ‘reddingsboei'” gepubliseer word. Weereens veroorloof Die Burger hom ‘n positiewe opskrif: US-taalboei behoort frustrasie te besweer. Die koerantlesers wat net die opskrifte bo berigte lees, moet ‘n hoogs positiewe indruk van die gebeure aan die US hê. Die briefskrywer herhaal Leopold Scholtz se vertolking (Praag 23 deser), maar is darem ook skepties: “Ons sal maar moet sien wanneer die Kaap weer Hollands is.”

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) is stil. Met sy naïewe toegeeflikheid het Wannie Carstens as US-raadslid en as voorsitter van die ATR hierdie Rubicon-brug help bou. Hy is te oorverlig om ‘n taalbul te wees. Carstens sit nou in Leiden, Nederland, en het ‘n rubriek onder hierdie opskrif geskryf: Help die verlede só wegwerk … in Afrikaans (Die Burger, 6 Mei, p 10), bv deur, as jy wit is, verskoning vir apartheid te vra. As voorsitter het hy die ATR ‘n versoenings- en meertaligheidsraad pleks van die Afrikaanse taalraad gemaak (Praag 17 Maart).

Carstens se opvolger as voorsitter van die ATR, ‘n US-dosent Michael le Cordeur, is stil. As die US-raad besluit het dat bruines voortaan nie meer die hoofbevoordeeldes van die US-transformasieproses sou wees nie, sou hy lankal ‘n lawaai opgeskop het. Dit is hy wat anti-blanke sentiment probeer opwek deur die valsheid te verkondig dat die slawe aan die Kaap net een dag per jaar, Tweede Nuwejaar, vry gehad het. As ondervoorsitter van die ATR was daar destyds die belaglikheid dat hierdie US-personeellid ‘n ATR-afvaardiging na die rektor gelei het om van Botman versekeringe oor sy “bestuur” van Afrikaans te kry. Botman het die ATR oortuig dat hy as die stroper van Afrikaans eintlik die wildbewaarder is.

Waar is die reaksie van Henry Jeffreys, wat heel onlangs, soos Le Cordeur, Nederlandse politici verseker het dat Afrikaans ‘n blink toekoms het (Praag 18 Desember); dus dat Afrikaans niks te vrees het van hulle geliefde ANC en ‘n bevrydingsteoloog en ANC-aktivis soos Botman nie? Waar is die reaksie van die uitvoerende hoof van die AHi, Christo van der Rheede, ‘n ATR-direksielid, wat graag poste beklee waarin hy seggenskap oor die lot van Afrikaans het en wat net so graag negatiewe ideologiese eiertjies oor wittes en veral Afrikaners te lê het? (Praag 21 deser).

In die huidige Orwelliaanse stilte word daar geen woord oor Afrikaans deur die US-taalbulle van weleer gerep nie. Die dosente in die US se departement Afrikaans en die direkteur van die US-taalsentrum, Leon de Stadler, geniet hulle voortgesette stilte. Waar is die geluide van denkende US-filosowe soos Johan Hattingh en Anton van Niekerk? Waar is die beswaar van die voorsitter van die konvokasie? Die Afrikaner- en Afrikaanse kultuurorganisasies swyg ook.

Daar is bv geen moontlikheid dat die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se kultuurhoof, Danny Titus, ‘n ATR-direksielid, ‘n onverligte vinger ten behoewe van Afrikaans sou lig nie. Nadat hy, danksy Hollandse goedertierenheid, ses jaar lank in die Lae Lande studeer het, sou ‘n mens verwag dat hy vir die saak van Afrikaans gewen sou wees. Pleks daarvan praat hy Engels met sy kind. As menseregtekommissaris verfoei hy Afrikaners se strewe na die vrye uitlewing van hulle kultuur. Maar dit alles word gelate deur die transformerende ATKV aanvaar. Net so min as wat die ATR ‘n Afrikaanse taalraad is, is die ATKV ‘n Afrikaanse taalvereniging. Red nou Afrikaans met sulke mense.

Dit gaan by die US nie net om die versnelde afskaling van Afrikaans as onderrigtaal nie. Dit gaan ook om verskerpte rassediskriminasie teen blankes. Dit is nie deel van die US-visie dat die studentetal vermeerder moet word ten einde die verlangde toestroming van swart studente te akkommodeer en die ideaal van ‘n nie-wit meerderheid teen 2018 moontlik te maak nie. Die US-raadsbesluit noodsaak dus blatante verskerpte rassediskriminasie teen wittes ten gunste van nie-wittes. Die getal wittes op die kampus gaan op ‘n suiwer rassistiese grondslag drasties ingekort word.

Dít is wat lede van die US-studenteraad met hulle naïewe pleidooie vir versnelde transformasie bereik het. Van sommige US-koshuise het daar darem gesonde besware teen die nuwe rasgebaseerde koshuisplasingsbeleid gekom en op die webwerf Bonfiire Stellenbosch is daar ‘n paar voorbeelde van studente wat insig het en hulle teen die anglofilie en neo-rassediskriminasie verset.

‘n Mens sou dink dat besware teen blatante rassediskriminasie van politieke partye sou opklink, bv van die KP en die DA; laasgenoemde omdat, wanneer dit hom pas, hy graag voorgee dat hy ‘n huis met baie wonings is. Maar daar is net dawerende stilte. Waar is die steun van die politiek-bewuste UWK-klipgooiers wat destyds beweer het dat hulle hulle tot misdadigheid wend om alle rassediskriminasie te beëindig, maar nou genoeë daarmee neem dat op suiwer rassistiese gronde blatant teen wittes gediskrimineer word?

Vanwaar sou Afrikaners se hulp kom? Net ‘n enkele US-raadslid, Piet le Roux, het die onverkwiklike waarheid oor die gewraakte US-raadsbesluit op 5 deser in Rapport wêreldkundig gemaak (Praag 7 deser). ‘n Ander insigvolle ligpunt het ek op LitNet (Menings, Taal, Taaldebat, 14.11.2012) opgespoor. Koos du Toit is op Stellenbosch woonagtig en beywer hom reeds jare lank omvermoeid vir die heil van Afrikaans. Hy is ‘n oud-US-dosent en afgetrede UWK-hoogleraar in sosiologie. Sedert hy die sekretaris van die Erika Theron-kommissie was, is hy wyd om sy nie-verkrampheid bekend. Op sy ewewigtige insig in akademiese sake kan peilgetrek word.

Op ‘n vernuftige manier ontbloot Du Toit die Botman-psige. “Dit wil voorkom asof die groei en toekoms van US intiem gekoppel word aan die aantal niewit studente. Wat is met die oog op die toekoms van US die belangrikste, die kwessie van sy taalmedium van onderrig en navorsing, of die ras/kleur van sy studente? In dié verband is daar ‘n aantal basiese faktore wat bepalend is vir die US se toekoms: (1) uitnemendheid van onderrig, navorsing en gemeenskapsdienslewering; (2) onderrigtaal en bevordering van Afrikaans op inklusiewe wyse; (3) koppetelling van studente op grond van ras. Dit sal egter jammer wees as die maatstaf waaraan die sukses van US gemeet sal word, fokus op die rassesamestelling van sy studentekorps.”

“Tans het ons oënskynlik, soos op alle vlakke in ons samelewing, te make met ‘n afskaling van Afrikaans. In ‘n ideologie van rasgebaseerde transformasie trek Afrikaans aan die kortste end. Vandaar die standpunt dat die ‘idee’ waarvoor US in 1918 as Afrikaans-Hollandse universiteit tot stand gekom het, weer met redelikheid oorweeg kan word.”

Jacques van der Elst, die hoofuitvoerende beampte van die ATR, word soos volg aangehaal: “Afrikaans is op die agtervoet – ‘n mens besef nie hoe haar [!] fondamente wegkalwe nie. Ons het ‘n sterk literatuur en ‘n Afrikaanse pers, maar die Afrikaans in ons howe, in regeringskringe en by universiteite kry swaar. Die druk op Standaardafrikaans neem toe. Die gevaar van ‘Eng-frikaans’ is groot – die media beweer dat mense dit so verkies, maar soms wonder ek of dit Afrikaans is wat ek hoor en lees.” Ongelukkig is dit my indruk dat Van der Elst hom nie sterk verset teen die elemente in die ATR wat Standaardafrikaans minag nie.

Du Toit: “Sedert 1994 is in die proses van transformasie besondere druk geplaas op slegs die histories Afrikaansmedium-universiteite om te transformeer na meertalige (selfs eentalige) en veelrassige inrigtings. Afrikaans as onderrigtaal was die slagoffer. Dit is veral US as die bakermat van die Afrikaanse taal, kultuur en hoër onderwys wat in die mags- en rasbehepte ideologie van die ANC skerp in fokus gekom het en steeds is.”

“Die agteruitgang van Afrikaans aan US sedert 2004 tot 2010 [Botman het in 2007 die rektor geword] is duidelik … In fakulteite soos teologie, lettere en sosiale wetenskappe, regsgeleerdheid en gesondheidswetenskappe is die voorgraadse Afrikaanse aanbod inderdaad onder dié peil en moet voornemende studente in hierdie fakulteite nie verwag om 60% van hul lesingsaanbod in Afrikaans te ontvang nie; dit is veel minder. Ten tweede geld dit slegs vir vier jaar (2010 tot 2013), en is dit nie ‘n langtermynwaarborg nie … Afrikaans het verloor.”

“Verengelsing is geen voorvereiste vir sinvolle transformasie nie. Ook nie met betrekking tot US nie. Inteendeel, wêreldwyd word moderne ontwikkelde minderheidstale in ‘n demokrasie met ‘n bepaalde universiteit geassosieer. In die geval van US bestaan dit reeds sinvol vir byna 100 jaar … enige planne van aksie ivm US en Afrikaans se toekoms setel egter in die hart van die universiteit … die ‘spiraal van stilte’ moet verbreek word.”

In hierdie hart van die US is Botman in 2007 as rektor toegelaat. In 2012 is hy vir ‘n verdere termyn van vyf jaar aangestel. Hy het geskryf: “My aanstelling vir ‘n tweede permyn deur die US-raad het die uitbou van transformasie as ‘n uitdruklike mandaat, wat ek gewis van plan is om te volbring.” Hy verwys na sy ideaal van “totale transformasie” (Praag 7 September). Hy beoog die vernietiging van die wit, Afrikaanse US. Op 29 April het die US-raad sy plan goedgekeur.

Soos verwag kon word, is Botman sedertdien selfs meer rammetjie-uitnek. In Rapport (12 deser) het hy ‘n berig onder die opskrif, “Kom ons verenig”, gepubliseer. Waarteen hy dit het, is dat bruines ‘n eie koers inslaan, bv ‘n politieke party stig. Botman wil bruines in die kudde van die ANC hou. ‘n Onderskeid tussen “ons” (bruines) en “hulle” (swartes) sou volgens hom ‘n fout wees. Dít is die “ons” (bruin en swart) waarna in die opskrif verwys word. Dit gaan vir Botman om anti-blanke solidariteit by alle nie-wittes. In daardie sin bepleit hy “saamstaan eerder as om te verdeel.”

Maar let op hoe Botman met twee mate meet: een vir bruines/nie-wittes en ‘n ander vir wittes. (1) “Bruin identiteit het bestaansreg soos enige ander.” Blanke identiteit word egter nie voortgesette bestaansreg aan die Botman-US gegun nie. (2) “Die probleem is nie regstellende aksie as sodanig nie.” Regstellende aksie word met oorgawe ten koste van blankes aan die Botman-US gepleeg. (3) “Ons moet ons vir nie-rassigheid en gelykheid beywer.” Daar is geen sprake van die onbevooroordeelde nie-rassige aanvaarding van blankes as gelyke vennote aan die Botman-US nie, bv by studentetoelating en personeelaanstellings. (4) “Hoe kan ons nou etniese en raspolitiek wil bedryf?” Etniese en raspolitiek word openlik teen blankes aan die Botman-US bedryf. (5) “Ons moet juis verder van ras en etnisiteit wegbeweeg.” Daar is geen sprake van die verdere wegbeweeg van ras en etnisiteit nie. Die US-visie vir 2018 en 2030 noodsaak rasseklassifikasie en verskerpte rassediskriminasie teen blankes.

Hierbo is ‘n ontleding van die kanker van die US se wit- en taalverraad gedoen. Wat nou nodig is, is die vervanging van die dawerende stilte met daadwerklike optrede. Dit is lankal tyd dat ‘n streep in die sand getrek word.

Wenke aan ‘n volksmoeder

In Rapport (10.03.13) begin Sonja Loots haar rubriek deur na ID du Plessis se “sogenaamde” Maleierverhale te verwys. Hoewel Du Plessis werklik ‘n kenner van die Kaapse Maleiers was en sekerlik meer kontak as Loots met hulle gehad het, word sy skryfwerk verdag gemaak.

Loots vertel vervolgens hoe sy as goeie moeder haar kinders inlei in die wonderwêreld van die Moslems. Toe een van hulle beweer dat daar duiwelsheid skuilgaan, neem sy haar kinders na ‘n Moslem sodat hulle kan sien watter goeie mense Moslems is; dus, een swaeltjie maak ‘n somer.

By die Woordfees gaan Loots na ‘n gesprek luister waaraan Shaka Sisulu en Carel Boshoff deelneem. Heel voorspelbaar hou sy van wat Sisulu te sê het, maar Boshoff irriteer haar en sy wil nie na hom luister nie.

Dit lyk asof die fout nie soseer by Loots se kind lê nie, maar by haar as ouer. In opvoeding is ewewig noodsaaklik. Dit is waar dat daar goeie Moslems is, maar kinders behoort daarvan bewus gemaak te word dat daar ook slegte Moslems is, dat daar in die verlede en ook in die hede baie onheile deur sommige van hulle gepleeg is.

Wanneer ‘n ouer sy kinders oor bv Nelson Mandela inlig, moet daar nie vasgesteek word by die getal jare wat hy in die tronk deurgebring het en dat dit sogenaamde bose wittes is wat hom sy vryheid ontneem het nie. Daar moet ook vir hulle vertel word van bv die bomplantveldtog wat Mandela aangevoer het, dus hoekom hy in die tronk was, en dat hy baie korter in die tronk sou gewees het as hy bereid was om geweld af te sweer. Dan sal Loots se kinders besef dat Mandela nie sonder meer ‘n vredesikoon is nie, dat hy hierdie beeld verwerf het eers nadat hy in sy doel geslaag het om die politieke mag oor te neem en hy dit raadsaam geag het om die wittes oor hulle magsverlies te paai.

As Loots ‘n goeie ouer wil wees, sal sy haar kinders leer dat daar onder die spreekwoordelike wit omies met grys skoene uit die apartheidsera, soos ID du Plessis, ook goeie mense is. Sy sal haar kinders dan ter illustrasie na sommige van hierdie omies neem wat taalbulle genoem word omdat hulle veg vir die behoud van Afrikaans as voertaal aan die Universiteit Stellenbosch. Die kinders sal dan besef dat om vir jou moedertaal te veg, eerbaar is, dat nie net Engels ‘n reg op voortbestaan het nie.

Vir ‘n ewewigtige uitkyk op sake sal Loots haar kinders na bv Orania neem en uitwys dat dit oorwegend ordentlike mense is wat in ‘n grootliks misdaadvrye omgewing arbei en dat hulle nie bakhand staan vir gratis huise en dienste nie. As hulle “Neanderdalmense” is, kan dit nie net sleg wees om so te wees nie.