Die voorvereiste vir die suksesvolle werking van die land se grondwet en dus die staatsmasjienerie, asook die beskerming van die belange van die land se mense, is dat die middelpuntsoekende kragte die middelpuntvliedende kragte in die skadu moet stel.
Normaalweg maak grondwette van lande met heterogene gemeenskappe hiervoor voorsiening, onder meer om dit in pas met die volkereg te bring. ‘n Interessante voorbeeld is die manifes (charter) van die Afrika-Kommissie vir Mense- en Volksregte. Artikel 21 en sy subartikels is byvoorbeeld uitsluitlik gerig op die regte wat groepe binne lande geniet. Suid-Afrika is ‘n lidorganisasie van hierdie liggaam en het in ‘n stadium selfs die voorsitterstoel beklee. Ingevolge ons eie grondwet is ons veronderstel om akkoord te gaan met hierdie instelling se bepalings.
Grondwetlike demokrasie vestig hom egter skynbaar met moeite in Suid-Afrika. Op die oomblik loop die regering hom in hofsaak op hofsaak bloedneus.
Feit is dat heterogeniteit in Suid-Afrika baie lomp hanteer word. In die proses om rasgedrewe regstellende aksie toe te pas het die land nou volgens sommige waarnemers meer raswette op die wetboek as tydens apartheid, en voortdurend is daar sprake dat nog gaan bykom.
In die aanhef van die grondwet word idealisties verklaar dat die land aan almal wat daarin woon behoort, verenig in ons diversiteit. Die aanhef is veronderstel om die gees van die grondwet uit te spel.
Peilings toon dat polarisasie in Suid-Afrika nou besonder hoogty vier. Met Julius Malema wat ongebreideld sy mond in rasseterme uitspoel, met die ANC-jeugliga skynbaar bankvas agter hom, en boonop deur die president self tot kroonprins gekroon word, is die tafel gedek vir polarisasie.
Boonop help dit ook nie “verenig in diversiteit” aan as ‘n rits plaasmoorde volg op Julius se liedjie dat die boere geskiet moet word omdat hulle verkragters is nie. Die ANC se halsstarrige verdediging hiervan jaag die temperature hoog op.
Die internet het die afpakplek van mense geword wat voet dwars neersit. Sommiges maak dit duidelik dat hulle Malema as held beskou, want elke keer as dié genie (volgens sommige akademici) sy mond oopmaak, word nog ‘n duisend mense tot die volkstaatidee bekeer.
Nou het Malema se losbekkigheid hom, aldus prof. Marinus Wiechers, ‘n kriminele rekord op die lyf laat loop. Die swaarste straf wat die hof Malema opgelê het is waarskynlik nie die R50 000 boete of die kriminele rekord nie, maar dat hy die land onvoorwaardelik om verskoning moet vra. Versuim hiervan sal hom nog ‘n kriminele rekord, minagting van die hof, op die bas haal en het die potensiaal om hom agter tralies te laat beland.
Ongelukkig duur die polarisasie voort. Die ANC-jeugliga het sy teleurstelling met die uitspraak uitgespreek, en sy verenigde steun aan Malema, wat wil appelleer, toegesê.
Nou sleep nog instansies hom gelykheidshof en selfs strafhof toe oor sy onlangse liedjie.
Dit beteken op sigwaarde dat Julius se sangtalent, wat so sterk is dat hy met een liedjie die hele land in beroering bring, nog lank erg verdelend op die land sal inwerk en, geoordeel aan die oplewing in plaasmoorde, ‘n uiters bloedige potensiaal het. Dit is uiteraard te vroeg om ‘n regstreekse verband objektief te bewys, maar soortgelyke regeringsuitsprake is in die verlede al dikwels deur ‘n vlaag plaasmoorde gevolg.
Gesindhede word egter nie deur hofsake gebou nie. Sterk, verantwoordelike leierskap is al wat op die kort termyn die potensiaal het die plofbare situasie te ontlont, en dit ontbreek kennelik. Die redakteur van die Financial Mail, Barney Mthombothi, skryf egter in ‘n onlangse uitgawe soos volg oor Zuma se leierskap: “Jacob Zuma is, frankly, not worth our breath. He’s best left alone. He’s digging his own grave. Potholes – and the general decline of our infrastructure – are another matter, however. They are a serious matter, but only the tip of the iceberg.
Trouens, om Julius se uitsprake in effek te kondoneer het soveel ooreenkomste met Saddam se beleid jeens die Koerde dat die regering reeds op ‘n baie warm plaat sal staan as die regering by ‘n internasionale geregsinstansie verkla sal word.
Terselfdertyd verskaf die regering pasella die volkeregtelike voorwaardes waaronder minderhede selfregering en selfs onafhanklikheid kan opeis aan die volkstaters.
для воздухаФильчаков прокурор харькова