Die adjunk-president, Kgalema Motlanthe, is by die Menseregtekommissie verkla na aanleiding van sy uitspraak dat talle plaasaanvalle die gevolg is van gebelgde buitelandse werkers wat nie deur boere betaal word nie en dat die wetstoepassers kort voor betaaldag ingeroep word om die werkers te arresteer.
Die klag van TLU SA by die Menseregtekommissie volg nadat die media Motlanthe (Sibusiso Ngalwa, IOL 30 November 2009) as volg aangehaal het:
“Sommige van die mees brutale plaasmoorde word deur buitelanders gepleeg, wat brutaal uitgebuit word en gedwing word om te swoeg sonder enige vergoeding. Die dag as hulle betaling vra, dan word hulle [deur die boere] by die wetstoepassers gerapporteer waarna hulle aangekla word en teruggestuur word na hulle lande van oorsprong.
“Natuurlik kom hulle terug en gaan pleeg hulle die mees grusame moorde. Dis hoekom ons diegene wat buitelanders op dié manier uitbuit moet veroordeel,” het hy gesê.
Die president van TLU SA, Ben Marais sê dat die adjunk-president se standpunt nie op bewese feite gegrond is nie en dat dit die klimaat skep vir toenemende aanvalle op boere en hul gesinne en werknemers.
Die databasis tot TLU SA se beskikking dui daarop dat die gearresteerdes selde bekend is aan die slagoffers en dat vreemdelinge talle onskuldige slagoffers aanval.
