Taxi’s wat moor


‘n OTM is Woensdagoggend opgeblaas by ‘n vulstasie in Butterworth, het die Oos-Kaapse polisie gesê.
Kaptein Lingisile Magama het gesê die ontploffing het Woensdagoggend omtrent 5uur plaasgevind.
Die vulstasie was gesluit en daar was geen personeel of sekuriteitsbeamptes aan diens nie.
Polisie wat naby was het die ontploffing gehoor en hul na die toneel gehaas. Volgens hulle is daar geen geld uit die OTM geneem nie.
Daar was geen getuies nie en niemand is seker hoeveel mense by die misdaad betrokke was nie.
‘n Saak van opsetlike saakbeskadiging word ondersoek en geen arrestasies is tot dusver gemaak nie, het Magama gesê.
Die SAOG oorweeg die belegging van 2 miljard Amerikaanse dollar in Zimbabwe se rekonstruksie, het Suid-Afrika se minister van finansies Trevor Manuel Donderdag gesê.
Dit is baie minder as die 5 miljard Amerikaanse dollar wat Zimbabwe se eerste minister Morgan Tsvangirai meen nodig is om dié krisisverskeurde land weer op te bou.
“Ek was teenwoordig toe eerste minister Tsvangirai die syfer gegee het, maar dit was net ‘n syfer,” het Manuel aan SAUK-radio gesê in ‘n onderhoud oor die vergadering van die SAOG-ministers van finansies vandeesweek.
“Daar is ‘n dokument…wat die onmiddellike kostes oor die volgende 10 maande verdeel in twee bedrae van omtrent ‘n miljard dollar elk.”
Dit sluit in een miljard dollar om die handel en allerhande soort dinge te stimuleer… dit is een miljard waarna ons kyk, het Manuel gesê.
“Die ander is omtrent een miljard dollar vir noodsituasies in onderwys, gesondheid, munisipale dienste en sekere soorte infrastruktuur.”
Die laasgenoemde bedrag sluit in fondse vir watersuiwering.
“Dit sal nodig wees om so veel as moontlik te bekom om die verskriklike cholera te voorkom wat Zimbabwe ervaar het oor die laaste paar maande,” het Manuel gesê, met verwysing na die epidemie wat meer as 3 800 mense dood gelaat het en meer as 83 000 mense besmet het.
Soveel as 120 000 betogers het Saterdag Dublin se sentrale sakegedeelte tot stilstand gedwing oor die regering se streng maatreëls wat bedoel is om die eens welvarende ekonomie wat nou deur resessie bedreig word te stabiliseer.
Die betogings het gekom ‘n dag ná die globale ekonomiese krisis gelei het tot nog ‘n politieke ongeval elders in Europa, met Letland se eerste minister wat bedank het terwyl sy land sukkel met ‘n resessie wat verskerp.
Die betoging in Ierland, wat gereël is deur die Ierse kongres van vakunies en bygewoon is deur onderwysers, polisie, staatsamptenare en ander beroepe, was “die eerste stap in ‘n rollende veldtog van aksie” het ICTU algemene sekretaris David Begg gesê.
Polisie het die hoeveelheid betogers op sowat 120 000 geskat.
Meer onlangs het Letland se eerste minister Vrydag uit sy posisie bedank te midde van wydverspreide ongelukkigheid oor die feit dat die gordel stywer getrek moet word, asook politici se beweerde korrupsie en nepotisme.
Letland het die vinnigste ekonomiese groei in die Europese Unie getoon in 2006, maar sy ekonomie sal na verwagting vanjaar met 12% krimp, met werkloosheid wat styg tot 12,7% vanaf die huidige vlak van 8,3%.
Die Britse polisie maak reg vir ‘n “somer van woede” terwyl slagoffers van die ekonomiese afplatting hulle tot die strate wend om te betoog teen finansiële instellings, het die Guardian gehoor.
Brittanje se mees senior polisiebeampte, met die verantwoordelikheid vir openbare orde, vrees ‘n herhaling van die onluste van die tagtigerjare. Dié keer is dit mense wat hulle poste, huise en spaargeld verloor het wat die voetsoldate word in ‘n golf van potensiële gewelddadige optogte.
Superintendent David Hartshorn, wat hoof is van die metropolisie se openbare-orde-afdeling, het aan die Guardian gesê dat die middelkasburger, wat nooit voorheen dit sou oorweeg om deel te neem aan optogte nie, dalk hulle woede kan laat blyk deur vanjaar aan protesoptrede deel te neem.
Hy het gesê dat banke, veral dié wat nog groot bonusse betaal ten spyte daarvan dat hulle miljarde van belastingbetalers se geld kry, “heeltemal aanvaarbare teikens” geword het. Net so die hoofkwartiere van multinasionale maatskappye en ander finansiële instellings in die stad wat vir die finansiële krisis geblameer word.
Hartshorn, wat gereeld intelligensienuus kry omtrent potensiële oorsake van burgerlike onrus, het gesê die gemoed by sommige van die betogings het onlangs verander, met aktiviste wat “toenemend daarop uit is om in die strate in te kom met die doel om openbare onrus te saai".
Dié waarskuwing kom ná die onlangse vlaag van protesaksies in Europa, wat gereeld gewelddadig geraak het. In onlangse weke het Griekse boere paaie geblokkeer uit protes teen dalende landboupryse, ‘n miljoen werkers in Frankryk het betoog om groter beskerming te vra vir poste en salarisse en Yslandse betogers het slaags geraak met polisie in Reykjavik.
In Brittanje het honderde werkers in olieraffinaderye verlede maand protesoptrede geloods omtrent die gebruik van buitelandse werkers.
Polisie neem deesdae ‘n meer konfronterende houding aan teen betogers. Beamptes word daarvan beskuldig dat hulle die bedreiging van aktiviste oordryf om die bronne wat aan hulle bestee word te regverdig.
‘n Kommerwekkende verskynsels is die hervoorkoms van indiwidue wat betrokke is by die gewelddadige fascistiese organisasie Combat 18, het hy gesê.
“Hulle gebruik die feit dat daar baie gesê is oor die bedreiging van Oos-Europese mense wat inkom en poste afvat by die Olimpiese persele,” het hy gesê. “Hulle gebruik daardie argumente om ondersteuning te verkry.”
Die nuutste BBP-data van Dinsdag het bevestig dat Suid-Afrika se ekonomie gekrimp het vir die eerste keer in 10 jaar, wat die kanse vergroot dat die reserwebank die rentekoerse kan verlaag voor die volgende geskeduleerde vergadering in April.
Dinsdag het ekonome gewaarsku dat Suid-Afrika reeds in ‘n resessie mag wees, met vervaardigingsuitsette op die laagste vlakke seder 1969 en motorvervaardigers wat die regering nader met versoeke vir ‘n hulppakket ten waarde van R100 miljard.
{mosbanner:id=10}
“Ons is getref deur die globale situasie en enige iemand wat dink ons is nie in ‘n resessie nie is verkeerd. Ons verkeer nou in een,” het Mike Schussler, ‘n ekonoom gesê.
Ou Mutual-ekonoom, Rial le Roux, het gesê “afhangende van die week se Januarie-inflasiedata, (kan) die bank (‘n rentekoersverlaging aankondig) teen die einde van die week.”
Schussler het saamgestem dat “’n rentekoersverlaging heel moontlik is, maar die laer inflasiedata (wat Woensdag verwag word) kan sekerlik die deure oopmaak vir rentekoersverlagings".
Die lemnaeler, Oscar Pistorius, is in ‘n bevredigende toestand ná ‘n bootongeluk op die Vaalrivier verlede naweek, het Gautengse polisie Woensdag gesê.
Mazibuko het gesê polisie stel tans ondersoek in na ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur, maar kon nie sê of alkohol ‘n rol gespeel het in die ongeluk nie. Mazibuko het gesê ‘n besluit of Pistorius aangekla sal word of nie, sal later geneem word.
Beeld het aan verslaggewers gesê dat Pistorius die tweedehandse boot net 4 dae voor die ongeluk in ontvangs geneem het.
Die ongeluk het Saterdag gebeur en Pistorius het ernstige gesigbeserings opgedoen.
Goudproduksie in Suid-Afrika het in 2008 met 13,6% gedaal tot sy laagste vlak sedert 1922, het Suid-Afrika se kamer van mynwese Dinsdag gesê.
Die handelsgroep het gesê Suid-Afrika, ‘n globale leier in die goudnywerheid, het verlede jaar net 220 127 kilogram goud geproduseer.
Die kamer blameer die energiekrisis wat myne gedwing het om in Januarie vir ‘n week te sluit, die eerste keer wat myne gesluit het sedert die Anglo-Boereoorlog wat geduur het van 1900 tot 1902.
Die kamer het ook die myne wat tydelik gesluit word as gevolg van die dood van mynwerkers en die feit dat laergraaderts wat ontgin word as redes aangevoer vir die daling in produksie.
{mosbanner:id=10}
Sjina en Amerika het Suid-Afrika se status as die wêreld se grootste goudprodusent in 2007 en 2008 oorgeneem.
‘n NASA-satelliet wat koolstofdioksied in die aarde se atmosfeer moet opspoor het misluk om sy wentelbaan te bereik gedurende Dinsdag se lansering, en die $4 278 miljoen sending gekelder.
“Dit is ‘n groot teleurstelling vir die span wat jare se harde werk ingesit het om die projek deur te sien,” het Charles Dovale, die lanseerbestuurder gesê. “Die rede dat nie enige iemand dit kan doen nie, is omdat dit moeilik is. En selfs al doen mens jou beste kan dit steeds misluk. Dis ‘n harde bedryf.”
Die Wentelende Koolstof-observatorium het op skedule opgestyg teen 1:55 voormiddag Atlantiese tyd van Vandenberg-lugmagbasis in Kalifornië, op ‘n vier-fase-Taurus XL-vuurpyl.
{mosbanner:id=10}
Drie minute later, gedurende die derde fase se brandtyd, het die skerm van die vrag, ‘n neusstuk wat die satelliet beskerm, gedurende die opstyg deur die atmosfeer nie losgekom soos dit moes nie.
Die derde en vierde fases het behoorlik ontbrand, maar vanweë die ekstra gewig van die neusstuk het die satelliet nie die wentelbaan bereik nie.
Die satelliet het teruggeval na die aarde en net duskant Antarktika in die oseaan geval.
Die koolstofobservatorium moes presiese vlakke van koolstofdioksied – die hittebergende gas wat aardverwarming veroorsaak – in die lug meet. Wetenskaplikes het gehoop die nuwe data, wat die hele planeer sou dek, sou hulle help om klimaatsmodelle te verbeter en om koolstofbakke, wat baie koolstofdioksied absorbeer, soos oseane en woude beter te verstaan.
‘n Uitbraakreaksiespan het Dinsdag ‘n skool in Senaone in Soweto besoek ná ‘n leerling dood is aan virale breinvliesontsteking, het die Gautengse departement van gesondheid gesê.
'n Woordvoerder Phumelele Kaunda het gesê die 7-jarige seun van Emaweni-laerskool is Maandag in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal dood aan virale breinvliesontsteking.
Die uitbraakspan het Dinsdag die skool besoek.
Die span het die situasie by die skool geassesseer en inligting gegee aan lede van die gemeenskap wat bang is vir ‘n uitbraak van die siekte.
{mosbanner:id=10}
“Niemand is gevind wat tekens van die siekte het nie, en ook nie van die dodelike bakteriële breinvliesontsteking nie.”
“Die oorsaak van die dood en die implikasies is aan die ouers verduidelik en sal oorgedra word om vrese van ‘n uitbraak te besweer in die skool sowel as die gemeenskap,” het Kaunda gesê.
Simptome sluit in erge hoofpyn, koors, braking, irriteerbaarheid, verminderde bewustheid en uitslag op die liggaam.
Die siekte versprei deur druppels vloeistof vanuit die mond, neus en keel van mense wat die siekte onder lede het.
“Om breinvliesontsteking te voorkom, moet mens kontak vermy met enige iemand wat die siekte vermoedelik het, en ook hande was indien mens aan so 'n persoon geraak het.”
“Diegene wat enige van die simptome ervaar, of wat in kontak was met iemand wat breinvliesontsteking het, behoort onmiddellik aan te meld by ‘n gesondheidsorgfasiliteit, waar hulle ondersoek sal word en die nodige medikasie sal ontvang,” het Kaunda gesê.
Die Vryheidsfront Plus het die Direkteur van Nasionale Vervolgings se Pretoria-kantoor versoek om die klag van strafbare manslag teen die taxibestuurder wat vir Bernadine Kruger se dood verantwoordelik is, na ‘n klag van moord te verander.
Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid in die Tshwane-metroraad, kan die taxibestuurder op grond van die regsbeginsel van dolus eventualis van moord aangekla word, volgens regsadvies wat deur die party ingewin is.
Hiervolgens kan ‘n oortreder wat kon voorsien en hom daarmee versoen dat sy aksies tot iemand se dood (direk of indirek) sou lei, en steeds met daardie aksies voortgaan, aan moord skuldig wees.
{mosbannder:id=10}
“Alle inligting van ooggetuies dui daarop dat Bernadine se dood nie bloot die resultaat van roekelose bestuur is nie, maar dat daar ‘n element van opset was om haar raak te ry om haar uit die taxi se pad te dwing. Dit is moord en nie strafbare manslag nie”, het Beyers gesê.
Die VF Plus het ook gesê dat ondersoek ingestel moet word oor waarom die taxibestuurder nie op die toneel in hegtenis geneem is nie. “Dit is onaanvaarbaar dat taxibestuurders telkens die voordeel van die twyfel gegun word wanneer hulle oortree. Dit is een van die oorsake van taxibestuurders se roekelose en uitdagende houding jeens die reg en mede-padgebruikers. Hulle tree eenvoudig op asof hulle nie onderhewig aan die reg is nie.”
‘n 23-jarige ma van Soweto is gearresteer vir kinderverwaarlosing ná sy haar kinders gelos het om Johannesburg toe te gaan, het polisie Woensdag gesê.
Inspekteur Kay Makhubele het gesê die vrou het haar 7-jarige en 2-jarige kinders in haar huis in Zondi toegesluit en weggegaan om ‘n paar dae saam met haar kêrel te gaan deurbring.
{mosbanner:id=10}
Bure het agtergekom iets is fout en het die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum vir raad geskakel.
Hulle het probeer om die kinders te red, maar uiteindelik die polisie geskakel om te kom help. Die kinders is uit die huis verwyder en na ‘n plek van veiligheid geneem.
Die ma is uiteindelik opgespoor en Dinsdag gearresteer en sal haarself nou in die Protea-landdroshof moet verdedig.
‘n Vrystaatse boer wat ‘n paar geforseer het om hulle baba se oorskot op te grawe is gevonnis tot twee jaar gevangenisstraf, is Woensdag berig.
Landdros Deon van Rooyen het Fanie Hyman (52) van Koppies, in die landdroshof op Koppies Dinsdag gevonnis, het die Sowetan en Volksblad berig.
Hyman het Maria Mnisi en haar man, Phineas Johnson, gedwing om die orskot van hulle tweeweke oue baba op te grawe ná hy ‘n argument gehad het met Johnson.
{mosbanner:id=10}
Johnson het bedank, maar Hyman het Johnson beveel om sy baba se oorskot met hom saam te neem, waarna hy die twee gedwing het om die kis op te grawe.
Hy het hulle daarna Pretoria toe geneem en hulle moes in die reën agter op die bakkie sit met die kis wat in swart plastieksakke toegedraai was.
Hyman, wat aangedui het dat hy gaan appelleer teen die vonnis, is skuldig bevind aan grafskending.
Die VN-sekretarisgeneraal Ban Ki-Moen het ‘n negedaetoer van Afrika begin deur Dinsdag aan VN-personeel te vertel dat die wêreld se ekonomiese probleme nie hulle pogings om armoede te verlig, oorlog en die gevolge van klimaatsveranderinge in die wiele moet ry nie.
“Selfs te midde van die globale finansiële krisis, kan ons deur saam te werk steeds beter daaraan toe wees,” het hy gedurende ‘n dinee met 'n paar dosyn top-VN-personeel in Suid-Afrika gesê.
Ten spyte van meer as ‘n half triljoen dollar se hulp wat aan Afrika bestee is in die 50 jaar sedert die eerste Afrikalande onafhanklikheid verkry het, is baie Afrikane nou armer as ‘n kwarteeu terug.
Totale hulp aan Afrika, van die wêreld se rykste nasies, beloop minder as eenderde van 1% van hulle gekombineerde nasionale inkomste, baie minder as die VN-teiken van 0,7%.
Ban en sy vrou, Joe Soen-Taek het in Johannesburg aangekom vir sy eerste amptelike besoek aan Suid-Afrika sedert hy twee jaar terug die hoof van die VN geword het.
Ban beplan om die besoek aan Afrika af te sluit in Egipte, by die oord van Sharm el-Sheik, waar verteenwoordigers van omtrent 80 skenkerlande beoog om geld vir die herbou van Gasa te belowe.
{mosbanner:id=10}
Hy beplan ook om die anti-apartheidsikoon Nelson Mandela te ontmoet, asook voormalige president Thabo Mbeki en Jacb Zuma, die regerende party se presidensiële kandidaat.
Ban kyk na maniere vir die VN om te help in Zimbabwe, gegewe Suid-Afrika se belangrike streeksrol. Mbeki bly die SAOG-bemiddelaar in Zimbabwe, en die ANK sal na verwagting die verkiesing wen in Suid-Afrika se nasionale verkiesing op 22 April.
Ban se assistente sê hulle hoop sy Afrikatoer kan verhoudings tussen Kongo en die naburige Rwanda ook verbeter.