Julius Malema
Die voorsitter van die ANC-jeugliga, Julius Malema, het gister weer sy omstrede uitlating verdedig dat die liga ter ondersteuning van ANC-president Jacob Zuma sou moor.
“Ons het niks verkeerds gesê nie. Moontlik het ons sterk taal gebruik… Ons is bereid om die hoogste pryse te betaal ter verdediging van Zuma en die revolusie,” het hy voor honderde mense, sommige so jonk soos 11, by ‘n vergadering van die Jong Kommunisteliga in die Claremont Sugar Ray Xulu-stadion in Durban gesê.
“As die tyd kom, sal ons die revolusie verdedig en ons sal nie huiwer nie,” het hy gesê.
Gedurende ‘n Jeugdagbyeenkoms in die Vrystaat Maandag, het Malema gesweer dat die jeug van Suid-Afrika sou sterf in hul steun vir Zuma en gesê die ANC-jeugliga het die potensiaal om diegene te verslaan wat hul oorwinning sou kompromitteer.
Malema het weereens beklemtoon dat die liga Zuma sal verdedig en het nie om verskoning gevra nie.
“Alles wat ons nou sê, het hulle (die vorige geslagte) reeds voorheen gesê. As enigiemand te blameer is, is die geslag voor ons te blameer want ons sit net ‘n tradisie voort,” het hy gesê. “Ons word vandag vertel dat jy irrelevant is as jy revolusionêre taal gebruik. Ons s’n is die oorwinning en die oorwinning is vir altyd.”
Hy het ook gesê: “Ons is vandag hier om die erfenis van die 1944-, 1956- en 1976-revolusie te gedenk… Ons word deur die Nelson Mandela-geslag, die Peter Mokaba-geslag en die Oliver Tambo-geslag geïnspireer.”
Malema het gesê die enigste regering wat aan die verwagtinge van die jeug van Suid-Afrika kon voldoen, ‘n Zuma-regering is. “Ons raak ongeduldig. Ons wil vir ons ‘n groot toekoms bou… Die Suid-Afrikaanse jeug het gehaltewerksgeleenthede nodig. Ons wil nie kassieres en petroljoggies wees nie, en net die Zuma-regering kan hierin voorsien.”
Malema se verklaring, wat Maandag in die Vrystaat gemaak is, het ‘n groot mate van kritiek ontlok en het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie genoop om ‘n ultimatum uit te reik waarin hy gevra word om sy stellings terug te trek.
Malema sê diegene in die ANC wat Zuma teenstaan moet die party verlaat. “Hulle moet nou padgee as hulle nie Zuma aanvaar nie… Die ANC het geen tekort aan leierskap nie. As jy wil padgee, beskik ons oor ander om jou te vervang.”
Hy het ‘n beroep op die SAMRK gedoen om Zuma se regte te verdedig. “Ek doen ‘n beroep op die MRK om die regte van Zuma te verdedig. Hulle moet aan die Skerpioene skryf en hulle aansê om Zuma se verhoor te bespoedig, want indien enigeen te na gekom is, is dit Zuma.”
Die sekretaris-generaal van die Jong Kommunistiese Liga, Buti Manamela, het gesê dat indien Zuma nie in 2009 president word nie, “alle hel sal losbars”.
He het gevra vir gehaltewerksgeleenthede vir die jeug en die Suid-Afrikaanse Reserwebank se inflasieteikenbeleid as onsin afgemaak.
“Tito Mboweni, as jy brood kan bekostig, beteken dit nie almal kan dit bekostig nie. Ons wil hê jy moet dié beleid hersien.”
Oor die SAMRK se ultimatum aan Malema, het Manamela gesê: “Ons wil nie van julle hoor nie.”
Ook teenwoordig by die byeenkoms was Blade Mzimande van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP), die provinsiale SAKP-sekretaris Themba Mtembu en die president van Cosatu S’dumo Dlamini. Die minister van vervoer, Jeff Radebe, het na ‘n uur die vergadering verlaat.
Zuma was veronderstel om die vergadering by te woon, maar het nie opgedaag nie.
полиграфтопкарго отзывы