Inspekteur Kay Mkahubela het gesê dat die werknemer van die Engen-garage in Zola-noord vanoggend vier keer geskiet en met ʼn mes gesteek is.
Klante in ʼn rooi motor het die vulstasie vroeër besoek en petrol gekoop maar het vertrek sonder om te betaal, ná ʼn woordewisseling met die joggie.
Toe die joggie na werk huis toe gaan, het die insittendes van die rooi motor vir hom gewag. Hulle het op hom geskiet en hom met ʼn mes gesteek.
Makhubela het ook gesê dat die polisie Saterdag 137 mense by padblokkades in verskeie dele van Soweto in hegtenis geneem het.
In Moroka is 42 mense gearresteer en in Protea Glen 34. In Naledi en Jabulani is 61 mense in hegtenis geneem vir misdade wat wissel vanaf moord tot kwaadwillige saakbeskadiging, aanranding en die besit van ongelisensieerde wapens.
ʼn Man wat te Moroka vir moord aangekeer is, was ook ʼn gesoekte verdagte in ʼn Krugersdorpse moordsaak, het Makhubela gesê.
