Die DA het die minister van grondsake van onbevoegdheid beskuldig. Die party se parlementêre leier, Sandra Botha, het gevra dat die regering moet ingryp om te verhoed dat sy grondhervormingsplan tot stilstand kom.
Botha het gedurende die sitting gister gesê dat indien Thabo Mbeki vir sy nalatenskap omgee, hy sal erken dat me. Lulu Xingwana, minister van landbou, heeltemal onbevoeg is om die proses vorentoe te dryf.
Die DA steun die samestelling van 'n taakspan om die proses te bespoedig. Volgens Botha het dit geen sin vir die regering om voort te gaan met grondhervorming terwyl die mededingendheid en produktiwiteit van die landbousektor gekniehalter word, met erge armoede op die platteland en voedselpryse wat die hoogte inskiet nie.

Ongeveer 22 gevangenes is die afgelope vier maande in Mosambiek oorlede, meeste van hulle weens ‘n tekort aan mediese hulp. Mosambiek se staatsbeheerde koerant berig dat Francisco Mathe, bestuurder van die Tjimoio-gevangenis in die Manica-provinsie, sê meeste van die oorledenes is aangehoudenes wat nog nie skuldig bevind is aan enige misdaad nie.
ANC president Jacob Zuma het kerkleiers vies gemaak met sy stelling dat God sal toesien dat die ANC vir ewig regeer. Zuma het in Khayelitsha gesê dat selfs God verwag dat die ANC die land moet regeer omdat dit die enigste organisasie is wat deur kerkleiers geseën is toe dit tot stand gekom het.
'n Derde van antimalaria medisyne wat in Ghana, Kenia, Nigerië, Rwanda, Tanzanië en Oeganda verkoop word, slaag nie basiese kwaliteitstoetse nie. Substandaardantimalaria medisyne veroorsaak 200 000 sterftes wat vermy kon word elke jaar.
Spanning is stadig maar seker besig om op te laai nadat Georgië Rusland daarvan beskuldig het dat hulle 'n onbemande vliegtuig oor Abkhasië, 'n wegbreekgebied van Georgië, afgeskiet het verlede maand. 'n Georgiese minister het gister aan die media in Brussel gesê dat hulle nou defnitief 'n oorlog moet verhoed.