Verkragting is ‘n ‘oorlogswapen’

Melanne Verveer, die VSA se reisende ambassadeur vir vrouekwessies wêreldwyd, het Woensdag aan Amerikaanse senatore van die senaatskomittee vir buitelandse verhoudinge vertel dat verkragting 'n oorlogswapen is in Afrika, Asië en Europa.

Gedurende die 12 jaar van konflik in die DRK is honderde vroue, dogters en babas verkrag en die daders het min of meer skotvry daarvan afgekom. In Darfoer heers soortgelyke toestande. Verkragting word gebruik omdat dit effektief is, volgens Verveer. Dit vernietig die gesinne, families en uiteindelik die gemeenskap beter as wat gewere of bomme dit kan doen, het sy gesê.

In die DRK word 1 100 verkragtings per maand aangemeld, wat beteken dat 36 vroue per dag verkrag word. Die slagoffer word dikwels vermink sodat sy 'n sigbare teken van haar skande dra.

Verveer het ook uit 'n menseregteverslag aangehaal waarin daar op die "ooglopende gebrek aan erns" oor die kwessie gewys word. Mans wat daarvan aangekla word, kry gewoonlik ligte strawwe of word op borgtog vrygelaat. Van die 14 000 verkragtings wat by gesondheidsentra in die Kongo aangemeld is tussen 2005 en 2007, het net 287 in 'n hof geëindig.

Verveer het gesê Susan Rice, die VSA se ambassdeur by die VN, beplan om Afrika tesame met verteenwoordigers van die Veilgheidsraad te besoek, en sal spesifiek by 'n hospitaal in die ooste van die Kongo aandoen. Slegs twee dokters wat in chirurgie spesialiseer om verminkte vroue te help, is werksaam by dié inrigting.

Senator Barbara Boxer het gesê die situasie is 'n "skande vir die menslike ras".
play free onlineФильчаков Александр Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae