In Duitsland, een van die enkele lande waar prostitusie wettig is en buitengewoon deursigtig, het die bedryf nou maatreëls aangekondig om sake op te kikker met moderne bemarkingstegnieke, afslag en allerlei ander foefies wat die dalende aanvraag kan tem.
Sommige bordele het hulle pryse verlaag en bied gratis promosies aan terwyl ander weer 'n inklusiewe minimumprys daargestel het. Gratis buspendelvervoer, afslag vir senior burgers en dagpasse is van die planne wat tans in werking is.
'n Eienares van 'n bordeel in Hanover sê haar inkomste het met 30% gedaal en by ander klubs met soveel as 50%. "Ons beleef beslis 'n krisis. Kliënte is suinig. Hulle is bang. 'n Mens kan nie meer vir ekstras vra nie en daar is druk om die pryse te verlaag. Almal soek 'n winskopie. Spesiale aanbiedinge is deesdae noodsaaklik,"sê sy.
Daar is 400 000 profesionele prostitute in Duitsland. Amptelike syfers dui nie die verskil tussen manlik en vroulik aan nie, maar dit word algemeen aanvaar dat vroue die bedryf oorheers. Albei geslagte word gelyk onder die wet behandel.
In 2002 het nuwe wetgewing dit moontlik gemaak om te adverteer en 'n werkskontrak aan te gaan. Dus kan sekswerkers mediese versekering uitneem wat hulle voorheen nie beskore was nie.
Die jaarlikse inkomste van die bedryf beloop 14 miljard euros volgens die Verdidienstevakbond. Belastings wat die staat danksy sekswerk in, is 'n belangrike bron van inkomste vir sekere stede.
