Verdere vuurwapenlisensies kan nie geweier word

Die Vryheidsfront Plus het ‘n skrywe aan die minister van Veiligheid en Sekuriteit, mnr. Nathi Mthethwa, gestuur waarin hy, ingevolge die Gelykheidswet (Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillikke Diskriminasie, Wet 4 van 2000), versoek word om verdere herregistrasie van vuurwapens toe te laat.

“Dit is uiters onbillik om vuurwapeneienaars wat nie die spertyd van 31 Maart gehaal het nie, nou te verbied om steeds aansoek te doen vir herregistrasie. Eienaars wat nie die vorige spertye, volgens hulle geboortemaande gehaal het nie, kon daarna nog steeds aansoek gedoen het. Daar is nou ongelyke behandeling teenoor die laaste groep wat in Oktober tot Desember verjaar het. Dit is ook nie eienaars se skuld indien die polisie nie oor die administratiewe vermoë beskik het om die stormloop te kon hanteer nie. Indien ‘n persoon by die polisiestasie was op 31 Maart, maar nie gehelp kon word nie, is daar skuld aan die kant van die Minister”, sê mnr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van Veiligheid en Sekuriteit vir die Vryheidsfront Plus.    

“Ten einde gelyke behandeling te verseker in terme van die Gelykheidswet, kan en behoort die minister herregistrasie tot middel Junie 2009 toe te laat. Dit is steeds binne die bepalings van die Vuurwapenwet, want klousule 11 van Bylae 1 van die Vuurwapenwet (Wet 60 van 2000) gee die Minister kans tot voor 30 Junie 2009”, het Groenewald gesê.

siteлобановский политик

Maak 'n opvolg-bydrae