Omstreeks 17:30 die aand het 'n groep van sowat vyftien betogers by die kafee op Kerkplein in Pretoria opgedaag. Hulle het uit 'n munisipale bus geklim, wat voor Kerkplein se wesfasade stilgehou het. Die betogers het plakkate gedra wat die eienaar van Café Riche, Lamé Ebersöhn, as 'n rassis bestempel het. Van die slagspreuke het gelui: "She must go now" en "To hell with Lame". Sommige van die betogers het Zuma T-hemde gedra.
Die betogers het getoitoi en gesing. Doodsdreigemente is in beide Zoeloe en Engels teen Lamé Ebersöhn gerig.
Dit wou voorkom of Joe Mkhize, ANC-raadslid vir wyk 60 en een van die prominente betogers, die aanvoerder van die groep was. Hy het gedreig dat sy groep vir die volgende twee weke elke dag by Café Riche sal betoog totdat me Ebersöhn die kafee verlaat en sluit.
Volgens me Ebersöhn het die voorval haar hewig ontstel. "Ek staan bekend as iemand wat die belange van Kerkplein en die burgerlike gemeenskap op die hart dra. Die afstel van die filosofiekafee is 'n hartseer dag vir die oop gesprek, waarop ons ons nog altyd geroem het. Sprekers van oor die hele politieke spektrum het al hier opgetree. Ek verstaan eenvoudig nie hierdie onverdraagsaamheid nie. My verhouding met my personeel, gaste en die gemeenskap rondom Kerkplein was nog altyd deursigtig en goed. Die gasvryheid en gulle ontvangs teenoor alle individue en by Café Riche is wyd bekend."
Daar word vermoed dat die aantygings van rassisme deel vorm van 'n georkestreerde veldtog om me Ebersöhn te dwing om die kafee te sluit of die besigheid te verkoop. Verskeie onlangse insidente van sabotasie, diefstal, personeellede wat dros, asook vroeëre dreigemente, dra tot hierdie vermoede by.
Intussen het me Ebersöhn 'n beroep op kalmte gedoen. "Die verkiesing is om die draai en politici probeer punte aanteken; ook op plaaslike vlak. Ek gaan my nie laat intimideer nie. Hierdie verdagmaking is onaanvaarbaar. Uiteindelik is dit ook vryheid van spraak en die fundamentele reg om handel te dryf wat hier op die spel is. Ek is van plan om 'n klag van haatspraak by die polisie in te dien teenoor die persone wat my met die dood gedreig het."
Sedert 1994 is die middestad van Pretoria territoriaal verower en die ANC-stadsraad het ook by verskeie geleenthede gepoog om die naam van die stad te verander. Een moontlike rede vir die optrede teen me. Ebersöhn is dat sy gesien word as die laaste blanke en Afrikaner wat nog 'n onderneming in die middestad op die historiese Kerkplein bedryf.
