Israel waarsku teen ‘giftige anti-Israeli propaganda’

Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het op die vooraand van die herdenking van die slagting van Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog “giftige” anti-Israeli propaganda in die Weste, wat hy gelykgestel het met nazisme, gekritiseer.

“Wat tot die slagting tydens die Tweede Wêreldoorlog gelei het, is die aanhitsing tot haat, wat vandag nog teen Israel voortduur,” het Netanyahu gesê.

“Anti-Semitisme het nie verdwyn met Hitler se dood nie. Propaganda in die Westerse wêreld teen Israel is nie minder giftig as ekstremistiese Islam en die Arabiese wêreld nie,” het hy gesê.

Tydens ’n kort seremonie aan die begin van die menseslagting dag van herinnering in Israel, het ses oor­lewendes van konsentrasiekampe kerse aangesteek ter nagedagtenis aan die ses miljoen Jode wat deur die Nazi’s vermoor is, het AFP berig.

Israel het Donderdag om 07:00 GMT tot stilstand gekom met sirenes wat afgegaan het om die Joodse slag­offers van die Tweede Wêreldoorlog te onthou.

‘n Studie wat in 2015 gedoen is, het bevind dat nagenoeg 45 000 van Israel se beraamde 190 000 oor­lewendes van die menseslagting nou in armoede lewe ten spyte van die reuse bedrae vergoeding wat hulle ontvang het.

Hy het nie kommentaar gelewer op die stygende aantal aanvalle op Christene in Israel nie.

Slegte week vir meerverdiepinggeboue in Afrika en Indië

Dit was ‘n slegte week vir meerverdiepinggeboue in die Derde Wêreld.

Reddingswerkers was die naweek nog besig om na oorlewendes in die Huruma-woonbuurt van Nairobi te soek nadat ‘n sesverdiepinggebou vroeër in duie gestort het.

Die dodetal het tot 49 gestyg.

‘n Baba is Dinsdag lewend uit die puin gered, 80 ure ná die ramp.

Die oorsaak van die ses-verdieping gebou in Nairobi wat ineengestort het, word toegeskryf aan “swaar reën” asof dit wettig sou wees vir swaar reën om die ineenstorting van geboue te veroorsaak.

Dié naweek het nog ‘n drie-verdieping gebou in Moembaai, Indië in duie gestort. Die meeste van die slagoffers is vermoedelik konstruksiewerkers wat betrokke was by die bou.

Ses mense is dood en twee ander beseer nadat die gebou in Kamathipura Saterdag ineengetuimel het.

Die gebou, met die naam Gulmohar, was meer as ‘n honderd jaar oud en was vir herstelwerk gesluit.

Omstanders het gesê dat die gebou heeltemal verkrummel het in ‘n kwessie van minute.

In Nairobi, Kenia, het die Rooi Kruis gesê 150 geboue en aangrensende huise word geraak deur swak bouwerk.

Die twee Nigeriese ingenieurs, wat verantwoordelik was vir die ineenstorting van die sewe-verdiepinggebou wat op 12 September 2014 die lewens van 116 mense, waaronder 85 Suid-Afrikaners, geëis het, het intussen borg gekry in Lagos.

Die News Agency of Nigeria (NAN) berig dat die ingenieurs sedert 19 April in die Kirikiri Maksimum Gevangenis aangehou word op aanklagte van growwe nalatigheid en kriminele manslag.

‘Londonistan’: Britse hoofstad kry Moslemburgemeester ná bittere stryd

Die Britse Konserwatiewe Party is besig met interne verwyte nadat hulle waarskynlik die plaaslike verkiesing in Londen ver verloor het. Hoewel stemme in gister se plaaslike verkiesings eers vanaf vanoggend om 9-uur Suid-Afrikaanse tyd (8-uur in Engeland) getel gaan word, is dit feitlik ‘n uitgemaakte saak dat die Moslemkandidaat van die Arbeidersparty, Sadiq Khan, teen Zac Goldsmith van die Konserwatiewes gaan wen. Dus gaan Londen, die rykste stad in Europa wat ook as nie-amptelike finansiële hoofstad optree, vir die eerste keer in die geskiedenis oor ‘n Moslemburgemeester beskik. Hy vervang mnr. Boris Johnson, wat in ‘n leierskapstryd met die eerste minister David Cameron gewikkel is.

Zadiq Khan met 'n plakkaat waarin vlugtelinge in Londen verwelkom word
Zadiq Khan met ‘n plakkaat waarin vlugtelinge in Londen verwelkom word

Die mees onlangse meningspeiling deur die Evening Standard het aangetoon dat Khan met 14% teenoor Goldsmith voorloop. Laasgenoemde het gedurende die verkiesing gepoog om Khan verdag te maak deur hom met radikale Moslems te verbind. Maar volgens Andrew Boff, die Konserwatiewe leier van die Groter Londense stadsraad, was dit ‘n “verregaande” fout om Khan vir sy bande met “ekstremistiese” Moslems aan te val. Volgens hom “kan dit skade aan die party se verhouding met Moslems berokken”.

Enkele minute nadat die stembusse gisteraand gesluit het, het mnr. Boff Goldsmith se strategie om op Khan se oënskynlike bande met radikale Moslems te fokus, skerp gekritiseer. Hy het aan die BBC gesê: “Dit kom eintlik daarop neer dat mense met konserwatiewe godsdienstige sienings nie vertrou kan word nie en dat jy nie ‘n platform met hulle kan deel nie. Dis verregaande.”

Boff het bygevoeg dat Zac Goldsmith “regte skade gedoen het” en “brûe opgeblaas het” wat die Konserwatiewe Party met Londen se Moslemgemeenskappe gebou het. Volgens hom is dit ‘n fout om “mense met konserwatiewe godsdienstige menings aan ondersteuners van terrorisme gelyk te stel. Ek het genoem dat dit ‘n fout is sover dit die toekomstige integrasie van Londen (met Moslems) betref. As jy ‘n politikus in Londen is, is dit ‘n baie vreemde ding om te doen. Ek meen dat dit die Konserwatiewes skerp gaan benadeel, veral in daardie dele van Londen met ‘n hoë Moslembevolking.”

Die persentasie Moslems in Londen is reeds vyftig persent en sal na verwagting toeneem soos wat immigrasie, asook die hoë bevolkingsaanwas van Moslems, sy tol eis.

Londen beskik oor ‘n reuse- stedelike ekonomie, die tweede grootste in Europa, naas Parys wat net ‘n kortkop voor die Britse hoofstad is. Die tien grootste stedelike gebiede in Europa is die volgende:

  1. Paryse stedelike gebied, Frankryk €623 miljard
  2. Groter Londen, Verenigde Koninkryk €622 miljard
  3. Duitse Ryn-Ruhrgebied, Duitsland €362 miljard
  4. Nederlandse Randstad, Nederland €263 miljard
  5. Madrid-stedelikegebied, Spanje €199 miljard
  6. Milanese stedelike gebied, Italië €190 miljard
  7. Frankfurt-aan-die-Main, Duitsland €173 miljard
  8. Rome: stedelike gebied, Italië €154 miljard
  9. München-streek, Duitsland €147 miljard
  10. Berlynse stedelike gebied, Duitsland €146 miljard

Vergeleke hiermee, beskik die hele Suid-Afrika oor ‘n BNP van €284 miljard, oftewel effens groter as die Nederlandse Randstad wat uit Amsterdam, Rotterdam, Den Haag en Utrecht bestaan. Drie stedelike gebiede in Europa, waaronder Parys en Londen, se ekonomieë is dus meer as twee keer so groot soos die totale Suid-Afrikaanse ekonomie! En dit is juis een van hulle wat van vandag af onder ‘n Moslemleier staan.

Die gevolge vir Engelse en Britse identiteit is ook legio, want voortaan sal Britse politici toenemend hul Islamitiese kiesers moet pamperlang, soos inderdaad reeds in Londen gebeur.

Kanadese brand laat olieprys styg

Die verwoestende brand in die Kanadese oliestad Fort McMurray is tien keer groter as wat voorheen berig is.

Inwoners moes hul wonings ontruim wat daartoe gelei het dat al 88 000 inwoners ‘n ander heenkome moes soek.

Die brand, wat Sondag ontstaan het, het teen Donderdag tot sowat 85 000 ha verwoes, het Reuters berig.

Die oorsaak van die brand is nog onbekend.

Fort McMurray se woongebiede is heeltemal in puin gelê en bedreig nou kampe van oliewerkers noord van die stad bly, asook gemeenskappe suid van dié gebied.

Olieproduksie wat weens veiligheidsoorwegings opgeskort is, het die wêreldolieprys laat styg.

Brandbestryders werp alles in die stryd om onbeskadigde wonings, sakeondernemings en ander geboue teen die vlamme te beskerm.

Anzac en Gregoire Lake Estates, sowat 50 km suid van Fort McMurray, word ook deur die brand bedreig.

Die brand het Donderdag suidoos begin beweeg en die enigste pad suidwaarts onbegaanbaar gemaak en inwoners moes noord vlug.

Die brand het tot dusver nie lewens geëis nie, maar sterftes is weens minstens een ongeluk tydens die ontruiming aangemeld.

Inwoners wat deur die brand verhoed is om na die noorde uit te wyk, is op rgeringskoste per vliegtuig na die stede Edmonton en Calgary geneem.

Dié vliegtuie gebruik aanloopbane wat deur die oliebedryf gebruik word.

Teen laat Donderdag is 4 000 mense reeds so uit die gebied ontruim.

Visumvrye Turkse reise na EU ‘n nagmerrie

Die Europese Kommissie gaan volgens berigte vandag voorwaardelike toestemming gee aan Turke vir visumvrye reise in die EU se Schengen-lande.

Europese diplomate het die wetlike proses as ‘n nagmerrie beskryf.

Turkye probeer reeds dekades lank om visumvrye reise in EU-lande te beding. Die Moslem-migrante reis nie na konflikvrye Moslemlande nie.

Dit is volgens berigte deel van ‘n ooreenkoms met Turkye ingevolge waarvan dié land help om die invloei van migrante na Griekeland te keer.

Turkye pers die EU af met die invloei van sogenaamde jong manlike asielsoekers wat vanaf hulle grondgebied die EU binnestroom vanuit Afrika en die Midde-Ooste. Hulle het reeds miljarde ontvang om die mensestroom te beperk.

Hulle dreig om nog meer immigrante deur te laat as die EU aandring dat al 72 voorwaardes vir visumvrye reise nagekom moet word.

Daar heers groot onsekerheid of die EU-burokraat Frans Timmermans sy beloftes sal nakom om Turkye te dwing om die voorwaardes na te kom.

Volgens die EU-voorwaardes, sal premier Erdogan egter sekere toegewings moet maak ten opsigte van vryheid van spraak en die beskerming van minderheidsregte.

Dit hou verband met onlangse voorvalle waar die land se grootste opposisiekoerant deur die regering oorgeneem is, en akademici en joernaliste in hegtenis geneem is.

Kritici sê Brussel ignoreer die kwessies in ‘n desperate poging om die migrantekrisis te stuit.

Angela Merkel hou vol dat Islam deel is van Duitsland, maar die AfD-leier, Frauke Petry het Sondag by ‘n vergadering in Stuttgart gesê it is nie waar nie.

‘n Onlangse opname (in Frans), wat deur die gesiene IFOP-maatskappy vir die Franse dagblad Le Figaro gepubliseer is, het bevind dat 63 persent van die respondente in Frankryk en 48 persent in Duitsland Islam as te sigbaar en te invloedryk in hul gemeenskappe beskou.

Dit is te wyte aan die feit dat daar nog geen aanvalle deur ISIS op Duitse grondgebied was nie.

Twee en vyftig persent van die Franse en 49 persent van Duitse respondente het gesê hulle is gekant teen die bou van moskees.

Die dra van kopdoeke in staatskole is met totale afkeur begroet met 88 persent in Frankryk en 75 persent in Duitsland wat dit nie duld nie.

Nog ‘n bevinding in die peiling is dat 67 persent van die Franse en 60 persent van die Duitse respondente die Moslems blameer dat hulle weier om aan te pas by plaaslike gebruike en waardes.

Frankryk en Duitsland het die grootste Moslembevolkings in die Europese Unie – 4,8 miljoen in Duitsland wat ​​5.8 persent van die totale bevolking uitmaak, en 4,7 miljoen in Frankryk, of 7,5 persent van die bevolking, volgens die Pew Research Center.

VN sien sy Moses in Marokko

Die Afrika-Unie se spesiale gesant vir die betwiste Wes-Sahara het gewaarsku dat dit ‘n “uiters gevaarlik presedent” vir alle VN-sendings skep as Marokko burgerlike personeel van die VN-vredesending uit Wes-Sahara skop.

Dit skep ook gevare vir Noord-­Afrika en die Sahel, waar ­ekstremistiese groepe bedrywig is.

Die voormalige president van Mosambiek, Joaquim Chissano, wie in 2014 aangestel is, maar deur Marokko verwerp is, het ’n inligtingsvergadering van die VN se veiligheidsraad meegedeel dat die VN-sending herstel moet word en die mense van Wes-Sahara “die ­geleentheid moes kry om vrylik oor hul eie lot te beskik,” aangesien dit die enigste werkbare oplossing is.

“Die Wes-Sahara-probleem mag as ’n klein probleem beskou word,” het Chissano gesê, “maar ons moenie vergeet dat ’n vonk ’n woud aan die brand kan steek nie en ons moet verhoed dat dit gebeur.”

Morokko het Wes-Sahara, ’n voormalige Spaanse kolonie, in 1975 geannekseer en veg teen die plaas­like bevrydingsbewing, die ­Polisario Front.

Die VN het in 1991 ’n ­skietstilstandooreenkoms onderhandel en ’n sending vredebewaarders, Minurso, ontplooi om die omstandighede te monitor en te help om ’n referendum te organiseer oor die gebied se toekoms, maar dit het nog steeds nie plaasgevind nie.

Morokko beskou die mineraal-ryke gebied as die land se “suidelike ­provinsies” en het verreikende ­outonomie voorgestel, wat deur die Polisario Front verwerp is.

Dié Front dring op selfbeskikking deur ’n referendum aan.

Verlede maand het Morokko die meeste VN-burgerlikes uit die land gegooi nadat die sekretaris-generaal van die wêreldliggaam, Ban Ki-moon, die woord “besetting” in gesprekke oor Wes-Sahara gebruik het nadat hy ’n kamp vir vlugtelinge van die streek in Algerië besoek het.

Die VN sê die waarnemers se vertrek maak dit onmoontlik vir Minurso om sy mandaat uit te voer. Ban, ­Chissano en ander het gewaar­sku dat die ­uitsetting omgekeer moet word omdat dit ’n internasionale ­presedent kan skep.

Die vrees bestaan dat ander lande, waar vredesbewaarders en ander VN-personeel ontplooi is, hulle ook nou kan uitskop.

Die Polisario Front se sekretaris-generaal, Mohammad Abdulaziz, het gewaarsku dat tensy druk op Marokko geplaas word om die VN-sending te herstel, dit as ’n groen lig vir militêre aggressie beskou sal word.

Webwerf gradeer flieks volgens kleur

Vergeet van die besprekings oor ‘n lokfilm met stoere helde, skreeusnaakse komedies en fotogeniese skoonhede, want ‘n webwerf het die gaping vir ‘n nuwe soort fliekgids raakgesien.

CNTRST gradeer Hollywoodproduksies volgens kleur… of meer presies: Velkleur.

Uitgedruk in persentasies word die rolverdeling gemeet in ‘n aanlynhuidskleurkaart van hoe blank of wit die fliek is.

Swart of gekleurde akteurs kan beteken dat die fliek minder as 100% kry. Volpunte is vir flieks waarin daar geen swart akteurs speel nie.

Noord-Korea se missieltoets misluk

Noord-Korea het verlede week ‘n tweede poging in twee weke aangewend om ‘n kragtige middelafstand ballistiese missiel te toets.

Suid-Korea se ministerie van verdediging sê die toets het egter misluk.

Die Musudan-missiel is sover bekend van Wonsan aan die ooskus van die land afgevuur, maar het sekondes na lansering neergestort.

Die mislukte toets het plaasgevind terwyl die land voorberei vir die kongres van die regerende party, waar die leier, Kim Jong-Un, geloof sal word vir die “nuwe hoogtes” wat die land se kernwapenprogram bereik het.

Toenemende kommer heers dat Pjongjang besig is met voorbereidings van ‘n vyfde kerntoets.

Bestaande resolusies van die Verenigde Nasies verbied Noord-Korea om enige ballistiese missielverwante tegnologie te gebruik.

Parysaanval-verdagte aan Franse oorhandig

Die top verdagte in die Parys-aanvalle, Salah Abdeslam, is Woensdag aan Franse owerhede oorhandig, het Belgiese aanklaers bekendgemaak.

Abdeslam, ‘n Franse burger van Marokkaanse oorsprong, is sover bekend die laaste oorlewende lid van die terreur-groep wat in November die dood van 130 mense in die Franse hoofstad veroorsaak het.

“Binne die raamwerk van die Parys-aanvalle van 13 November 2015, is Salah Abdeslam vanoggend aan die Franse owerhede oorhandig,” het ‘n verklaring gelui.

Geen verdere inligting oor die presiese tyd en omstandighede van die uitlewering is bekendgemaak nie.

Belgiese polisie het probeer om hom te ondervra oor sy verbintenis met drie selfmoordbomaanvallers wat Brussel se lughawe en moltreinstasie op 22 Maart aangeval het en waarin 32 mense dood en honderde beseer is.

Al-Sjabaab dood vyf Somaliese weermagsoldate

Al Sjabaab insurgente het die week ‘n militêre basis van die Somaliese weermag aangeval en vyf soldate om die lewe gebring in twee ure se hewige gevegte naby die noordwestelike dorp, Baidoa, het ’n militêre woordvoerder gesê.

Die voorval het in die vroeë oggend­ure plaasgevind. Twaalf soldate is in die aanval gewond. Ses Al Sjabaab-vegters is in die aanval dood.

Abdiasis Abu Musab, Al Sjabaab se woordvoerder vir militêre operasies, het gesê die groep het ’n vragmotor met troepe onderweg na die basis in ’n lokval gelei en elf soldate doodgeskiet en beslag op sewe vuurwapens gelê.

Dit was nie moontlik om die dodetal onafhanklik te bevestig nie. In die verlede het Al Sjabaab die dodetal in hul aanvalle ver oordryf.

Die Islamitiese groep, wat hoop om Somalië se Westers-gesteunde ­regering om ver te werp, voer gereeld aanvalle op militêre teikens asook burgerlike instansies soos hotelle en restaurante, meestal in die hoofstad, Mogadisjoe uit.

Al Sjabaab, het bande met al-Kaïda en was in Januarie verantwoordelik vir ’n aanval op ’n basis vir Keniaanse soldate van die Afrika-unie se vrede­sending in Somalië.

Die militante voer aan dat hulle 100 Keniaanse soldate doodgeskiet het. Keniaanse owerhede het nog nie die amp­telike dodetal bekend gemaak nie.

Intussen het Daesh (ISIS) ‘n video uitgesaai van ‘n oefenkamp in Puntland, vernoem na Sheikh Abu Nouman, die naam van ‘n voormalige offisier van die Sjabaab wat vermoor is deur hulle nadat hy oorgeloop het na Daesh.

Sonder aanspraak op volwaardige staatskap, het Puntland – ‘n provinsie van Somalië – afgestig met ‘n onafhanklike regering.

Dit was voorheen ‘n seerowernes wat Chinese en Russiese skepe in die Straat van Bab el-Mandeb aangeval het, tot hulle die idee laat vaar het want China en Rusland het hul vragskepe van militêre begeleiding voorsien.

Die seerowers het nou uitgewyk na die Islamitiese Emiraat van Mukalla, in Jemen.