Israel waarsku teen ‘giftige anti-Israeli propaganda’

Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het op die vooraand van die herdenking van die slagting van Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog “giftige” anti-Israeli propaganda in die Weste, wat hy gelykgestel het met nazisme, gekritiseer.

“Wat tot die slagting tydens die Tweede Wêreldoorlog gelei het, is die aanhitsing tot haat, wat vandag nog teen Israel voortduur,” het Netanyahu gesê.

“Anti-Semitisme het nie verdwyn met Hitler se dood nie. Propaganda in die Westerse wêreld teen Israel is nie minder giftig as ekstremistiese Islam en die Arabiese wêreld nie,” het hy gesê.

Tydens ’n kort seremonie aan die begin van die menseslagting dag van herinnering in Israel, het ses oor­lewendes van konsentrasiekampe kerse aangesteek ter nagedagtenis aan die ses miljoen Jode wat deur die Nazi’s vermoor is, het AFP berig.

Israel het Donderdag om 07:00 GMT tot stilstand gekom met sirenes wat afgegaan het om die Joodse slag­offers van die Tweede Wêreldoorlog te onthou.

‘n Studie wat in 2015 gedoen is, het bevind dat nagenoeg 45 000 van Israel se beraamde 190 000 oor­lewendes van die menseslagting nou in armoede lewe ten spyte van die reuse bedrae vergoeding wat hulle ontvang het.

Hy het nie kommentaar gelewer op die stygende aantal aanvalle op Christene in Israel nie.

COSAS: Jode skenk varkkoppe vir anti-Israelveldtog

COSAS het in ‘n verklaring gesê hulle is baie teleurgesteld dat die media misluk het om gebalanseerde dekking te verskaf oor hul militante en radikale optrede in die Wes-Kaap om varkkoppe in Woolworths te laat.

Die organisasie het nog drie varkkoppe wat deur Jode geskenk is, in winkels gelaat.

Hulle sê hulle sal voortgaan met die veldtog as ‘n duidelike oproep van Suid-Afrikaanse verbruikers vir Woolworths om alle bande met die Apartheidstaat Israel te verbreek.

Hulle het die media aangeval en gesê Woolworths moet verantwoordelik gehou word vir sy “skokkende meedoënlose rassistiese ondersteuning van die Israeliese Apartheidstaat en moord op Palestynse kinders”.

COSAS het dit betreur dat ‘n elite groep rassistiese mans wat die winkel besit, nie erkenning gee aan Suid-Afrika se weersin vir hul ondersteuning aan die misdade in Gasa nie.

Volgens die organisasie het Woolworths selfs hul aandeelhouers verraai met die keuse om Israel ten spyte van hul winsverlies en handelmerkskade te ondersteun.

COSAS het ontken dat hulle anti-Joods is. Die varkkoppe en die hulpbronne vir die veldtog is deur Jode self geskenk, lui die verklaring.