Die top verdagte in die Parys-aanvalle, Salah Abdeslam, is Woensdag aan Franse owerhede oorhandig, het Belgiese aanklaers bekendgemaak.
Abdeslam, ‘n Franse burger van Marokkaanse oorsprong, is sover bekend die laaste oorlewende lid van die terreur-groep wat in November die dood van 130 mense in die Franse hoofstad veroorsaak het.
“Binne die raamwerk van die Parys-aanvalle van 13 November 2015, is Salah Abdeslam vanoggend aan die Franse owerhede oorhandig,” het ‘n verklaring gelui.
Geen verdere inligting oor die presiese tyd en omstandighede van die uitlewering is bekendgemaak nie.
Belgiese polisie het probeer om hom te ondervra oor sy verbintenis met drie selfmoordbomaanvallers wat Brussel se lughawe en moltreinstasie op 22 Maart aangeval het en waarin 32 mense dood en honderde beseer is.
