Boston-verdagte geïdentifiseer

‘n Verdagte is naby die toneel van die tweede bomontploffing by die Boston-marathon geïdentifiseer, het die plaaslike media berig.

Volgens die Boston Globe het die persoon ‘n swart sak naby die toneel gedra.

CNN het ook berig dat die verdagte geïdentifiseer is op ‘n kringtelevisiekamera van ‘n winkel, wat geleë is naby die toneel van die ontploffing.

Intussen het owerhede mediaberigte ontken dat ‘n persoon in hegtenis geneem is in verband met die ontploffings.

Honderde ondersoekbeamptes het beeldmateriaal en foto’s nagegaan wat Maandag ten tye van die ontploffings geneem is. Drie mense het in die ontploffings gesterf en 180 ander mense is gewond.

CNN het berig dat ‘n verdagte in hegtenis geneem is, maar die FBI en die polisie in Boston het dit ontken.

Ondersoekbeamptes het aan die Amerikaanse media gesê sommige foto’s wat naby die toneel geneem is, wys ‘n man wat dalk die bomme geplant het.

Talle draai hul rûe op Thatcher se kis

Tienduisende roubeklaers het Woensdag in Sentraal-Londen saamgekom om te kyk hoe die voormalige premier, Margaret Thatcher, se kis tydens ‘n prosessie na die St. Paulus-katedraal geneem word.

As ‘n teken van die bitterheid wat haar nalatenskap steeds uitlok, het groepies in die skare hul rug gedraai toe die begrafnisstoet verby beweeg het. Hulle het slagspreuke soos “Maggie, Maggie Maggie! Dood, dood, dood!” geskree.

Hul gebaar is om hul afkeur in die skade te toon waartoe haar radikale vrye mark ekonomiese hervormings gelei het. Dit het grootskaalse werkloosheid in Brittanje se industriële hartland veroorsaak.

Sommige mense is ook gebelgd oor die groot hoeveelheid geld wat op Thatcher se begrafnis spandeer is.

“Ons spandeer £10 miljoen (R140 miljoen) daarop en dis ‘n skande en onaanvaarbaar in ‘n tyd van besnoeiings,” het Casper Winslow, ‘n 22-jarige student met ‘n plakkaat wat lees “Die res van ons in armoede,” gesê.

Die regering moet nog die koste van die begrafnis bekendmaak, maar hou vol dit sal minder wees as die £10 miljoen waaroor berig is.

Die land se premier, David Cameron, het volgehou dat dit reg is om vir Thatcher ‘n behoorlike afskeid te gee.

“Dit is ‘n gepaste wyse om hulde te bring aan ‘n wonderlike premier wat oor die wêreld heen gerespekteer is,” het hy aan BBC-radio gesê.

“En ek dink ander lande in die wêreld sal dink Brittanje het die bus verpas as ons dit nie op die regte wyse herdenk nie.”

Thatcher se oorskot sal tydens ‘n privaatseremonie, wat deur haar 59-jarige tweeling, Mark en Carol, en ander familielede bygewoon sal word, veras word.

Sy is nege dae gelede aan ‘n beroerte oorlede. Sy was 87 jaar oud.

ANC noem Boston terreur, VSA nie

Die ANC het Maandag se Boston-marathonbomme as ‘n daad van “terrorisme” beskryf, ‘n woord wat die Amerikaanse president Barack Obama nie wou gebruik nie nadat die twee bomme die lewens van drie mense geëis het en talle beseer is.

Obama se administrasie het eers later toegegee dat dit ‘n “daad van terreur” was.

ANC-woordvoerder Jackson Mthembu het in ‘n verklaring namens die party Dinsdag gesê die VSA moet alles in sy vermoë doen om diegene wat verantwoordelik is vir die “terreurdaad” vas te trek.

“Ons het ook ‘n beroep gedoen op die internasionale gemeenskap onder die vaandel van die Verenigde Nasies om hande te vat in die stryd teen terrorisme,” het Mthembu gesê. Maar ontleders is dit eens, meen die Mail & Guardian, dat Obama se versigtige retoriek meer gepas is.

In ‘n verklaring by die Withuis in die nasleep van die aanvalle, het Obama die wêreld verseker dat die oortreders van die misdade die volle gewig van die Amerikaanse reg sal voel. Hy het die podium egter verlaat met verslaggewers wat agterna roep “terrorisme?”.

Later in die dag, het ‘n Withuisamptenaar verwys na die aanvalle as “dade van terreur”. Maar selfs hierdie opmerking was baie versigtig.

‘n Woordvoerder van die Amerikaanse ambassade in Pretoria, Jack Hillmeyer, het gesê die ambassade staan ​​agter Obama se hantering van die situasie.

Die Taliban het enige betrokkenheid by die aanvalle ontken, alhoewel hulle die VSA steeds as vyand beskou.

In die afwesigheid van ‘n verdagte, sal die toekoms van die War on Terror dus afhang van watter vordering ondersoekbeamptes maak in die komende dae. Indien die bedreiging gekoppel kan word aan buitelandse ekstremisme, sal die Amerikaanse regering waarskynlik militêr reageer.

Amerikaanse aandele tuimel na Bostonbom, 3 dood

Amerikaanse aandele het na gister se bomontploffings in Boston dramaties met 266 punte gedaal. Dit is een van die mark se ergste dalings tot dusver.

Die dalings volg op twee bomme wat by die eindpunt van die Boston Marathon ontplof het. Drie mense is in die ontploffings dood en meer as 170 beseer. ‘n Derde bom het later by die JFK-biblioteek in die stad ontplof.

Slegs twee bomme is in Boston gevind na gister se ontploffings. Daar is aanvanklik berig dat meer bomme gevind is wat nog nie ontplof het nie.

Die Amerikaanse FBI sê die ander pakkies was egter nie bomme nie. Die FBI sê hulle volg verskeie leidrade op.

Intussen wil die FBI nie kommentaar lewer oor verdagtes in die Boston Marathon-bomontploffings nie. Op ‘n vraag tydens ‘n mediakonferensie wou hulle nie ontken of erken dat ‘n verdagte in aanhouding is nie.

Die polisiekommissaris van Boston Ed Davis het ook ontken dat een van die beseerdes ‘n verdagte kan wees. Volgens Davis volg hulle alle leidrade op. Hy het die inwoners van Boston aangemoedig om met hulle normale lewe aan te gaan.

Twee Suid-Afrikaners beseer in Bostonbom

Twee Suid-Afrikaanse atlete is beseer in die ontploffing wat tydens die Boston-marathon in die Verenigde State plaasgevind het.

“Tot dusver is ons in kennis gestel van twee Suid-Afrikaners wat beseer is. Volgens ons inligting word hulle behandel en ons bied konsulêre diens aan hulle,” het Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, aan SABC gesê.

Altesaam 28 Suid-Afrikaners was geregistreer vir die marathon.

Minstens drie mense is Maandag dood en meer as 100 ander beseer in twee ontploffings naby die eindstreep van die Boston-marathon.

Bomontploffings by Boston-marathon eis 2

Minstens twee mense is dood en tot soveel as 100 ander beseer toe twee bomme Maandag naby die wenstreep van die Boston-marathon ontplof het, het die polisie gesê.

Bronne het aan die media gesê dat ‘n derde bom naby die John F. Kennedy Presidensiële Biblioteek ontplof het, maar die polisie het later gesê dié voorval het met ‘n brand verband gehou, en was nie ‘n aanval nie.

Paramedici het kort na die ontploffings op die toneel aangekom.

“Daar was twee bomme wat ontplof het naby die wenstreep in vandag se Boston-marathon,” het die wedloop se organiseerders kort na die aanvalle op Facebook gesê.

“Ons werk saam met wetstoepassers om uit te vind wat presies gebeur het,” het die organisasie gesê.

NBC News het later berig dat die polisie “verskeie ploftoestelle” in Boston gevind het.

“Ons het iemand gesien wie se bene afgeruk is,” het Mark Hagopian, eienaar van die Charlesmark-hotel, aan die nuusagentskap AFP gesê. Hy het in ‘n restaurant skuiling gevind.

“Iemand langs my se bene was afgeruk by die knieë – hy het steeds gelewe.”

“Dit was erg, dit was vinnig” het hy gesê. “Daar was ‘n groot ontploffing… ons het ‘n windvlaag in ons gesigte gevoel… Die polisie het gesê: ‘Kom uit, kom uit, loop, kom weg, daar kan meer bomme wees.'”

Zara Bielkus, ‘n 30-jarige toeskouer van Boston, het gesê sy het twee bomme enkele sekondes uitmekaar gehoor.

“Toe ons dit hoor, het almal na mekaar gekyk en alles het baie stil geword, en die polisie was binne ‘n minuut daar,” het sy gesê.

Thatcher-begrafnis ‘n openbare betrekkinge oefening

Die eerste van meer as 2 000 uitnodigings vir die begrafnis van die ontslape oudpremier van Brittanje, Margaret Thatcher, sal Vrydag uitgestuur word.

Dié uitnodigings sal onder andere gestuur word aan verskeie wêreldleiers, insluitend al die lewende Amerikaanse oudpresidente en voormalige Britse premiers, sowel as aan Britse vermaaklikheidsterre soos die Top Gear-aanbieder Jeremy Clarkson.

Belangrike figure uit die Thatcher-era, soos die voormalige Sowjetleier Mikhail Gorbachev, die voormalige Duitse kansellier Helmut Kohl en die weduwee van die Amerikaanse oudpresident Ronald Reagan, Nancy, sal egter weens gesondheidsredes nie die verrigtinge kan bywoon nie.

Koningin Elizabeth II en haar man, Prins Philip, het reeds bevestig dat hulle die seremonie volgende Woensdag in die St. Paulus-katedraal sal bywoon. Dit sal die eerste keer sedert 1965 wees wat ‘n Britse monarg die begrafnis van ‘n Britse premier bywoon.

Thatcher is Maandag in die ouderdom van 87 in Londen se Ritz Hotel oorlede weens ‘n beroerte. Sy was van 1979 tot 1990 Brittanje se eerste vroulike premier.

“Die gastelys is saamgestel deur Lady Thatcher se familie en verteenwoordigers met die hulp van die regering en die Konserwatiewe Party. Meer as 2 000 uitnodigings sal na verwagting uitgestuur word,” het die kantoor van die premier gesê.

SA-wapensmous in SAR vasgekeer

Dit is onthul dat die Suid-Afrikaanse wapensmous Paramount die Sentraal-Afrikaanse Republikeinse hoofstad, Bangui, besoek het om ‘n wapentransaksie met François Bozizé op die vooraand van die staatsgreep te bespreek.

Paramount se werknemers, Miles Chambers en Clement Salanga, het in die land se hoofstad aangekom op Vrydag 22 Maart om die Fransman Emmanuel Rutman uit Parys te ontmoet, het timeslive.co.za berig.

Op 23 Maart, oppad om die president te ontmoet, is die Paramount-span egter naby Bozizé se paleis vir vyf uur lank aangehou.

Terwyl rebelle in ‘n geveg met Suid-Afrikaanse troepe op die buitewyke van die stad die middag gewikkel was, het Bozizé se soldate gevlug. Die Paramount-span het na ‘n diplomaat se huis gehardloop en weggekruip vir twee dae lank voordat hulle deur Franse troepe gered is en terug na Suid-Afrika gevlieg is in ‘n Paramount-jet.

“Ons het hul Suid-Afrikaanse paspoorte in die tuin weggesteek,” het die diplomaat gesê. “Ons was bang die Seleka ouens sou kom en ons doodmaak.”

Paramount behoort aan Ivor Ichikowitz, uitvoerende hoof, en hy is ‘n goeie vriend van die oud-NP-minister Pik Botha. Hy het sy fortuin gemaak daaruit om die vorige bedeling se weermagtoerusting in Afrika en die Midde-Ooste te gaan verkoop deur Botha se bemiddeling, het die M&G vroeër berig.

Dieselfde Ichikowitz is ook daarvoor verantwoordelik dat Suid-Afrikaanse verbruikers hopeloos te veel vir Apple-produkte betaal.

“Daar was geen [wapen]handelsooreenkoms nie. Daar was ‘n formele brief van uitnodiging van die president om ‘n aanbieding te maak, maar dit was so ver onder in die voedselketting, ek was nie eens daarvan bewus nie.” het Ichikowitz by navraag gesê.

Gerugte dat die Franse verantwoordelik was vir die snelle opmars van die Seleka-rebelle na die hoofstad Bangui, is intussen bevestig deur die militêre kenner Helmut Römer-Heitmann in sy boek The Battle of Bangui: The untold inside story.

Die VN se top-amptenaar in die Sentraal Afrikaanse Republiek sê sy is nie in ‘n posisie om te verduidelik watter rol Suid-Afrikaanse soldate in die land gespeel het nie.

Margaret Vogt sê sy kan ook nie lig werp op hoekom hulle in die kruisvuur beland het toe Seleka-rebelle verlede maand die hoofstad Bangui oorgeneem het nie. Sy het met joernaliste gepraat na ‘n geslote inligtingsessie van die VN Veiligheidsraad.

Sy sê sy kan nie bevestig hoeveel Suid-Afrikaners dood is nie. Volgens Vogt het sy nooit Suid-Afrikaanse soldate raakgeloop op besoeke aan die presidensiële paleis van die voormalige president Francois Bozize nie en daarmee gerugte dat Suid-Afrika die president opgepas het, die nek ingeslaan.

Vogt sê die veiligheid situasie in die SAR is baie gespanne, en die onttrekking van die Suid-Afrikaanse soldate los ‘n verdere leemte.

Dit sal waarskynlik verdere menseregteskendings – soos die werwing van kindersoldate deur die Seleka-rebelle – lei.

 

‘Die heks is dood’ topverkoper op Amazon

“Ding Dong! The Witch is Dead,” soos vertolk deur Judy Garland in The Wizard of Oz, was Dinsdag die gewildste liedjie op Amazon se aanlynverkope in Brittanje.

Dié lied het op topverkopers gehaal ‘n dag na die dood van die voormalige premier, Margaret Thatcher.

‘n Ander weergawe van die liedjie, gesing deur die jazz-legende Ella Fitzgerald, is die vierde meeste afgelaai, en is ook die meeste op iTunes in Brittanje afgelaai.

Dié lied word as ‘n draakstekery oor die afsterwe van die 87-jarige Thatcher gesien.

Thatcher, die eerste vroulike premier van Brittanje, wat destyds ‘n hoogs omstrede figuur was, is Maandag aan ‘n beroerte oorlede.

Polisie beseer tydens ‘blydskap’ oor Thatcher-afsterwe

Ses Britse polisiebeamptes is beseer toe hulle probeer het om mense by ‘n straatbyeenkoms uitmekaar te jaag wat die dood van die voormalige premier, Margaret Thatcher, “gevier” het.

Een van die beamptes is ernstig beseer.

Die voorval in Bristol in die suidweste van Engeland het by een van verskeie sulke geleenthede in die land gebeur wat deur teenstanders van die sogenaamde Ystervrou gehou is.

Sowat 200 partytjiegangers in Bristol het volgens die polisie geweier om ‘n partytjie te verlaat en oproerig geraak.

“Bottels en blikkies is na die beamptes gegooi en ses van hulle het beserings opgedoen,” het hoofinsp. Mark Jackson gesê.

“‘n Polisievoertuig is beskadig en een persoon is vir openbare geweld in hegtenis geneem. ‘n Paar klein brande is in asblikke gestig en die brandweer is ontbied.”

Een van die beamptes is steeds in die hospitaal met ‘n besering wat nie “lewensgevaarlik is nie, maar nietemin ernstig,” het ‘n woordvoerder vir die polisie gesê.

Straatpartytjies is ook in Glasgow in Skotland en in die Londense woonbuurt Brixton gehou.

Pallo Jordan, oud-kabinetsminister en lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, was blykbaar ook verheug oor die nuus dat die voormalige Britse premier Margaret Thatcher oorlede is.

Jordan het gesê hy gaan nie ‘n “traan oor haar stort nie,” berig Eyewitness News.

Jordan het gesê sy was deel van ‘n regse alliansie met die voormalige Amerikaanse president Ronald Reagan wat voorheen na die ANC verwys het as ‘n terroriste-organisasie.

“Margaret Thatcher sal natuurlik onthou word as ‘n figuur in die Britse geskiedenis, maar sy sal ook onthou word as ‘n stoere bondgenoot van die apartheidsregime. Ek gaan nie trane stort oor haar nie.”

Dit is nie bekend of Jordan wel trane stort oor die maatskaplike ongeregtigheid in Indië nie, waar ‘n kastestelsel steeds daagliks teen miljoene mense diskrimineer.