Polisie beseer tydens ‘blydskap’ oor Thatcher-afsterwe

Ses Britse polisiebeamptes is beseer toe hulle probeer het om mense by ‘n straatbyeenkoms uitmekaar te jaag wat die dood van die voormalige premier, Margaret Thatcher, “gevier” het.

Een van die beamptes is ernstig beseer.

Die voorval in Bristol in die suidweste van Engeland het by een van verskeie sulke geleenthede in die land gebeur wat deur teenstanders van die sogenaamde Ystervrou gehou is.

Sowat 200 partytjiegangers in Bristol het volgens die polisie geweier om ‘n partytjie te verlaat en oproerig geraak.

“Bottels en blikkies is na die beamptes gegooi en ses van hulle het beserings opgedoen,” het hoofinsp. Mark Jackson gesê.

“‘n Polisievoertuig is beskadig en een persoon is vir openbare geweld in hegtenis geneem. ‘n Paar klein brande is in asblikke gestig en die brandweer is ontbied.”

Een van die beamptes is steeds in die hospitaal met ‘n besering wat nie “lewensgevaarlik is nie, maar nietemin ernstig,” het ‘n woordvoerder vir die polisie gesê.

Straatpartytjies is ook in Glasgow in Skotland en in die Londense woonbuurt Brixton gehou.

Pallo Jordan, oud-kabinetsminister en lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, was blykbaar ook verheug oor die nuus dat die voormalige Britse premier Margaret Thatcher oorlede is.

Jordan het gesê hy gaan nie ‘n “traan oor haar stort nie,” berig Eyewitness News.

Jordan het gesê sy was deel van ‘n regse alliansie met die voormalige Amerikaanse president Ronald Reagan wat voorheen na die ANC verwys het as ‘n terroriste-organisasie.

“Margaret Thatcher sal natuurlik onthou word as ‘n figuur in die Britse geskiedenis, maar sy sal ook onthou word as ‘n stoere bondgenoot van die apartheidsregime. Ek gaan nie trane stort oor haar nie.”

Dit is nie bekend of Jordan wel trane stort oor die maatskaplike ongeregtigheid in Indië nie, waar ‘n kastestelsel steeds daagliks teen miljoene mense diskrimineer.

Maak 'n opvolg-bydrae