Die nuwe president van Kenia, Uhuru Kenyatta, het duisende ondersteuners toegespreek na sy inhuldiging in Nairobi. Kenyatta is deur die Internasionale Misdaadhof uitgewys vir misdade teen die mensdom.
Hy ontken dat hy etniese geweld vyf jaar gelede aangemoedig het. In sy toespraak het Kenyatta onderneem om eenheid in Kenia te bewerkstellig.
President Jacob Zuma, Goodluck Jonathan van Nigerië en Robert Mugabe van Zimbabwe was van die staatshoofde wat die inhuldiging bygewoon het.
Suid-Afrika sal sy samewerking aan Kenia se president Uhuru Kenyatta en sy adjunk William Ruto bied in weerwil van die aanklagte teen hulle. Albei leiers word tans in die Internasionale Strafhof in Den Haag aangekla van misdade teen die mensdom.
Volgens die aanklagte het hulle vyf jaar gelede verkiesingsgeweld in Kenia aangemoedig. President Jacob Zuma sê hulle is onskuldig tot hulle skuldig bevind word en boonop is hulle demokraties deur die Keniane verkies.
Aanklaers in Zimbabwe het intussen nuwe aanklagte gelê teen die prominente menseregte-prokureur, Beatrice Mtetwa. Sy is verlede maand in hegtenis geneem vir regsverydeling ‘n dag ná die referendum oor Zimbabwe se grondwet.
Sy is tydens ‘n klopjag by die eerste minister, Morgan Tsvangirai se kantore in hegtenis geneem.
Sy het die polisie na bewering kokkerotte genoem en word nou van die mishandeling van die polisie aangekla. Haar aanvanklike saak word op 27 Mei aangehoor.
