‘n Noorweegse uitruilstudent is die naweek op Seinheuwel in Kaapstad verkrag, het ‘n koerant Dinsdag berig.
“Dit was ongeveer eenuur [Saterdagoggend]. Die vrou en haar vriend was in hulle motor toe hulle deur twee gewapende mans oorval is wat die vrou se vriend vasgebind het,” het Andre Traut, woordvoerder van die polisie, aan die Cape Times gesê.
Hy het gesê die mans het hulle besittings afgeneem en toe die vrou, wat in haar twintigs is, verkrag.
Hulle het toe met die paartjie na Kampsbaai gery, waar hulle hulle in die motor agtergelaat het.
Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, en die paartjie help om identiteitsfoto’s van die mans saam te stel. ‘n Saak van roof en verkragting word ondersoek.
Andre van Zyl, woordvoerder van Table Mountain Watch, het aan die koerant gesê dis die eerste aanval van sy soort in twee jaar.
“Daar was ander aanvalle, maar op stappers… Dis ‘n ernstige geval en verskil heelwat van diefstal uit motors wat soms hier plaasvind,” het hy gesê.
‘n Poging van Stad Kaapstad om die straat om 22:00 te sluit was nie gewild onder inwoners nie, het hy gesê.
