Tienduisende roubeklaers het Woensdag in Sentraal-Londen saamgekom om te kyk hoe die voormalige premier, Margaret Thatcher, se kis tydens ‘n prosessie na die St. Paulus-katedraal geneem word.
As ‘n teken van die bitterheid wat haar nalatenskap steeds uitlok, het groepies in die skare hul rug gedraai toe die begrafnisstoet verby beweeg het. Hulle het slagspreuke soos “Maggie, Maggie Maggie! Dood, dood, dood!” geskree.
Hul gebaar is om hul afkeur in die skade te toon waartoe haar radikale vrye mark ekonomiese hervormings gelei het. Dit het grootskaalse werkloosheid in Brittanje se industriële hartland veroorsaak.
Sommige mense is ook gebelgd oor die groot hoeveelheid geld wat op Thatcher se begrafnis spandeer is.
“Ons spandeer £10 miljoen (R140 miljoen) daarop en dis ‘n skande en onaanvaarbaar in ‘n tyd van besnoeiings,” het Casper Winslow, ‘n 22-jarige student met ‘n plakkaat wat lees “Die res van ons in armoede,” gesê.
Die regering moet nog die koste van die begrafnis bekendmaak, maar hou vol dit sal minder wees as die £10 miljoen waaroor berig is.
Die land se premier, David Cameron, het volgehou dat dit reg is om vir Thatcher ‘n behoorlike afskeid te gee.
“Dit is ‘n gepaste wyse om hulde te bring aan ‘n wonderlike premier wat oor die wêreld heen gerespekteer is,” het hy aan BBC-radio gesê.
“En ek dink ander lande in die wêreld sal dink Brittanje het die bus verpas as ons dit nie op die regte wyse herdenk nie.”
Thatcher se oorskot sal tydens ‘n privaatseremonie, wat deur haar 59-jarige tweeling, Mark en Carol, en ander familielede bygewoon sal word, veras word.
Sy is nege dae gelede aan ‘n beroerte oorlede. Sy was 87 jaar oud.
