Die skorsing van ‘n skoolhoof wat daarvan beskuldig is dat hy pornografie aan ‘n leerder gewys het, is opgehef, het die departement van onderwys in Gauteng gesê.
Charles Phahlane, woordvoerder van die departement, het gesê daar was geen gronde om ‘n interne tugproses te begin nie, omdat die bewerings nie gestaaf kon word nie.
Die prinsipaal is Woensdag terug na die Mandisa Shiceka Sekondêre Skool in Kagiso nadat Boy Ngobeni, die departementshoof, sy skorsing opgehef het.
Die Sowetan het verlede maand berig dat ‘n gr.10-leerder beweer haar skoolhoof het pornografie aan haar gewys. Die prinsipaal het die bewerings ontken.
Die meisie se familie het toe ‘n klag by die departement van onderwys se distrikkantoor ingedien. ‘n Onderwyser by dieselfde skool het na bewering leerders oorreed om inligting teen die skoolhoof te vervals.
Die onderwyseres is hangende ‘n ondersoek geskors.
