‘n Verdagte is naby die toneel van die tweede bomontploffing by die Boston-marathon geïdentifiseer, het die plaaslike media berig.
Volgens die Boston Globe het die persoon ‘n swart sak naby die toneel gedra.
CNN het ook berig dat die verdagte geïdentifiseer is op ‘n kringtelevisiekamera van ‘n winkel, wat geleë is naby die toneel van die ontploffing.
Intussen het owerhede mediaberigte ontken dat ‘n persoon in hegtenis geneem is in verband met die ontploffings.
Honderde ondersoekbeamptes het beeldmateriaal en foto’s nagegaan wat Maandag ten tye van die ontploffings geneem is. Drie mense het in die ontploffings gesterf en 180 ander mense is gewond.
CNN het berig dat ‘n verdagte in hegtenis geneem is, maar die FBI en die polisie in Boston het dit ontken.
Ondersoekbeamptes het aan die Amerikaanse media gesê sommige foto’s wat naby die toneel geneem is, wys ‘n man wat dalk die bomme geplant het.
