Dit is onthul dat die Suid-Afrikaanse wapensmous Paramount die Sentraal-Afrikaanse Republikeinse hoofstad, Bangui, besoek het om ‘n wapentransaksie met François Bozizé op die vooraand van die staatsgreep te bespreek.
Paramount se werknemers, Miles Chambers en Clement Salanga, het in die land se hoofstad aangekom op Vrydag 22 Maart om die Fransman Emmanuel Rutman uit Parys te ontmoet, het timeslive.co.za berig.
Op 23 Maart, oppad om die president te ontmoet, is die Paramount-span egter naby Bozizé se paleis vir vyf uur lank aangehou.
Terwyl rebelle in ‘n geveg met Suid-Afrikaanse troepe op die buitewyke van die stad die middag gewikkel was, het Bozizé se soldate gevlug. Die Paramount-span het na ‘n diplomaat se huis gehardloop en weggekruip vir twee dae lank voordat hulle deur Franse troepe gered is en terug na Suid-Afrika gevlieg is in ‘n Paramount-jet.
“Ons het hul Suid-Afrikaanse paspoorte in die tuin weggesteek,” het die diplomaat gesê. “Ons was bang die Seleka ouens sou kom en ons doodmaak.”
Paramount behoort aan Ivor Ichikowitz, uitvoerende hoof, en hy is ‘n goeie vriend van die oud-NP-minister Pik Botha. Hy het sy fortuin gemaak daaruit om die vorige bedeling se weermagtoerusting in Afrika en die Midde-Ooste te gaan verkoop deur Botha se bemiddeling, het die M&G vroeër berig.
Dieselfde Ichikowitz is ook daarvoor verantwoordelik dat Suid-Afrikaanse verbruikers hopeloos te veel vir Apple-produkte betaal.
“Daar was geen [wapen]handelsooreenkoms nie. Daar was ‘n formele brief van uitnodiging van die president om ‘n aanbieding te maak, maar dit was so ver onder in die voedselketting, ek was nie eens daarvan bewus nie.” het Ichikowitz by navraag gesê.
Gerugte dat die Franse verantwoordelik was vir die snelle opmars van die Seleka-rebelle na die hoofstad Bangui, is intussen bevestig deur die militêre kenner Helmut Römer-Heitmann in sy boek The Battle of Bangui: The untold inside story.
Die VN se top-amptenaar in die Sentraal Afrikaanse Republiek sê sy is nie in ‘n posisie om te verduidelik watter rol Suid-Afrikaanse soldate in die land gespeel het nie.
Margaret Vogt sê sy kan ook nie lig werp op hoekom hulle in die kruisvuur beland het toe Seleka-rebelle verlede maand die hoofstad Bangui oorgeneem het nie. Sy het met joernaliste gepraat na ‘n geslote inligtingsessie van die VN Veiligheidsraad.
Sy sê sy kan nie bevestig hoeveel Suid-Afrikaners dood is nie. Volgens Vogt het sy nooit Suid-Afrikaanse soldate raakgeloop op besoeke aan die presidensiële paleis van die voormalige president Francois Bozize nie en daarmee gerugte dat Suid-Afrika die president opgepas het, die nek ingeslaan.
Vogt sê die veiligheid situasie in die SAR is baie gespanne, en die onttrekking van die Suid-Afrikaanse soldate los ‘n verdere leemte.
Dit sal waarskynlik verdere menseregteskendings – soos die werwing van kindersoldate deur die Seleka-rebelle – lei.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.