praag.co.za

Afrikaanse regter pleit vir Engels

Written by

in

‘n Afrikaanssprekende regter wil Engels as enigste hoftaal in Suid-Afrika hoor.

Regter Cynthia Pretorius, van die hooggeregshof in Pretoria, het gesê sy dink nie Afrikaans moet ‘n besondere plek hê nie.

“Ek dink die hoftaal moet Engels wees,” het sy gesê en bygevoeg dat die meeste hofgeskrifte in Engels is en die meeste mense Engels magtig is.

Pretorius hoop kennelik dat die Regterlike Dienskommissie (RDK) haar as een van drie kandidate vir die pos van adjunk-regter-president van Noord-Gauteng sal oorweeg as sy haarself teen Afrikaans uitspreek.

Madala Masuku, Mpumalanga se LUR vir finansies, het haar uitgevra oor ‘n versoek dat sy onttrek aan ‘n onlangse saak omdat sy Afrikaans is en aan die Universiteit van Pretoria gestudeer het.

“Ek dink nie die feit dat ek Afrikaanssprekend is, kan teen my gehou word nie. Dit is hoe ek gebore is. Ek dink nie dit kan teen my gehou word dat ek ‘n wit Afrikaanse vrou is nie,” het sy gesê.

Masuku het gevra hoe sy haar verbintenis tot Afrikaans gaan hanteer. Pretorius het dit baie duidelik gemaak dat sy ‘n hele minderheidsgemeenskap se reg om in hul taal verdedig te word, sal opoffer vir haar ambisie.

“Ek dink ‘n moeilike politieke besluit moet geneem word om Engels die hoftaal te maak,” het sy verklaar. Sy het ook gesê baie Afrikaanse mense hou nie van haar nie omdat sy “liberaal” is.

Regters Audrey Ledwaba en Lettie Molopa-Sethosa is saam met Pretorius kandidate vir die pos.

Pretorius se gunstige uitspraak in die dronkbestuursaak teen Robert McBride, het onlangs wenkbroue laat lig.

Comments

Leave a Reply