Etniese geweld in die noorde van Ghana het weer opgevlam hierdie week waarin vyf mense gedood is. Die polisie het om en by 70 mense in hegtenis geneem wat betrokke was by gevegte. 'n Aandklokreël is van toepassing in Bawku en die minister van Binnelandse Sake sê die polsie het mense so te sê onder huisarres in hul eie huis geplaas. Vrye beweging word slegs gedurende die dag toegelaat.
Die noorde van Ghana gaan swaar gebuk onder etniese konflik.

Spanning is stadig maar seker besig om op te laai nadat Georgië Rusland daarvan beskuldig het dat hulle 'n onbemande vliegtuig oor Abkhasië, 'n wegbreekgebied van Georgië, afgeskiet het verlede maand. 'n Georgiese minister het gister aan die media in Brussel gesê dat hulle nou defnitief 'n oorlog moet verhoed.
Vyf mense is deur veiligheidsmagte gedood in die hoofstad van Somalië, Mogadisjoe, tydens 'n hongeropstand. Die opstand het uitgebreek as gevolg van stygende voedselpryse en rekordinflasie.