Wapens uit polisiekantoor gesteel

Sowat 18 vuurwapens – meestal bewysstukke in misdade – is uit die polisiekantoor in KwaMhlanga, Mpumalanga, gesteel, het Beeld berig.

Die diefstal is Maandag ontdek toe die polisie se logistieke afdeling inspeksie daar gedoen het.

Meer as 12 pistole, verskeie rewolwers en selfs ‘n R5-geweer is uit die bewysstukstoor gesteel.

Kol. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die diefstal ondersoek word.

Volgens die koerant was daar soortgelyke oortredings in die provinsie.

In Februarie 2010 is tydens ‘n interne oudit by die voormalige onluste-eenheid in Hazyview ontdek dat minstens 32 R5-gewere, 30 12-boor-haelgewere, verskeie Z88-pistole en 48 000 patrone weg is.

Verlede jaar is ‘n trommel vol wapens wat met misdaad verbind word by die Mhluzi-polisiekantoor in Middelburg gesteel.

Mangaung eis sy tol in Pretoria

“Die ANC Mangaung kongres van Desember 2012 is besig om sy tol in Pretoria te eis”. So sê die streeksleier en leier in die raad van die VF Plus, raadslid Philip Van Staden.

Dit volg nadat die burgemeester se stadsrede, wat gister sou plaasvind, skielik verlede week in die raadsvergadering uitgestel is na 04 April 2013 en na verskeie berigte in die media dat die uitvoerende burgemeester, Kgosientso Ramokgopa, op pad uit is nadat hy openlik die Motlanthe-kamp by Mangaung ondersteun het.

Van Staden meen dat Ramakgopa eerder oop kaarte met die inwoners van Pretoria moet speel oor sy moontlike vertrek en dat sy volgehoue ontkenning in die verband dui op swak leierskap.

“Die VF Plus is van mening dat hierdie situasie tot gevolg kan hê dat die stad se bestuur erg daaronder kan lei en dat politieke kampe binne die ANC kan veroorsaak dat dienslewering nog net verder hierdeur belemmer kan word”.

Van Staden sê dat Ramakgopa net ‘n proporsionele aanstelling is en dat sy onguns by die Zuma-kamp die einde van sy politieke loopbaan kan beteken ten koste van die stad se inwoners.

“Geen stad kan voldoende bestuur word indien daar in die administrasie politieke verdeling voorkom nie. So ‘n situasie kan tot gevolg hê dat die twee kampe mekaar wil vernietig en kommunikasie binne departemente heeltemal gaan vernietig wat tot gevolg gaan hê dat die stad se administrasie tot ‘n stilstand geruk gaan word”.

Die VF Plus dring daarop aan dat die burgemeester dadelik moet bekend maak wat die stand van sake is en wanneer hy sy nuwe moontlike pos by MTN sal aanvaar.

Grootste eis ooit teen Transnet

Hiermee gee die VF Plus kennis dat die grootste regseis in die geskiedenis van Suid-Afrika tot die bedrag van R90 miljard binnekort ingestel gaan word teen Transnet, die departement van openbare ondernemings en die tesourie in die vorm van ‘n klasaksie namens die duisende verarmde pensioenarisse van die Transnet Tweede Vastevoordeelfonds en die Transport Pensioenfonds.

Hierdie eis spruit voort uit die nie-nakoming en minagting van die parlementêre opdrag deur die uitvoerende gesag en Transnet om R1.9 miljard aan die fondse uit te betaal. Die latere in diepte ondersoek na die finansiële status van die fondse het aangetoon dat ‘n statutêre skuld nooit deur die regering aan die fondse oorbetaal is nie, dat Transnet wederregtelik wins vir homself geneem het uit die verkoop van die V&A Waterfront en dat bates in die vorm van T011-effekte uit die fondse gehaal is en dieselfde waarde nooit teruggeplaas is nie. Die gevolg is dat in plaas daarvan om bloot R1.9 miljard te betaal soos deur die parlement voorgestel, sal die staat en Transnet nou aanspreeklik wees vir R90 miljard se skuld en vergoeding aan die verwese pensioenarisse.

“There lies a great irony in all of this. If only Transnet and/or Treasury abided themselves to pay the recommended R1.9 billion, then we would not have embarked on a forensic investigation of the funds and would not have discovered the far greater claims due to the pensioners. There is also a lesson in this. If you commit to perform your responsibility diligently and fairly, then damages cannot accrue. If you kick the can down the road, a greater problem will meet and challenge you.This is what we call penny wise and pound foolish,” het adv. Anton Alberts in sy Ledeverklaring in die Parlement gesê.

Munisipaliteite skuld miljarde

Munisipaliteite word minstens R81 miljard geskuld vir dienste, het die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) Dinsdag gesê.

“Dit verander elke jaar en die rente-faktor beïnvloed dit,” het Xolile George, uitvoerende hoof van Salga, aan joernaliste in Midrand gesê.

“Dit groei eksponensieel en maatreëls word in plek gestel.”

George het gesê daar is dispute oor geld en ander komplikasies. In sommige sake is daar oplossings gevind.

“Waar daar geen dispuut is nie, moet die geld betaal word.”

Hy het gesê werkloosheid en afleggings is ‘n probleem.

“Sommige mense kan nie bekostig om vir dienste te betaal nie, omdat hulle nie genoeg geld het nie. Dit is ‘n groot bekommernis.”

ANC distansieer hulle van Henke Pistorius se uitlatings

Die moordbeskuldigde atleet Oscar Pistorius, se pa, Henke, was rassisties toe hy gesê het die regering is nie bereid om wit mense te beskerm nie, het die ANC Dinsdag gesê.

“Die stelling is nie net ontbloot van die waarheid nie, dit is ook rassisties,” het Jackson Mthembu, woordvoerder van die ANC, gesê.

“Dit is hartseer dat hy gekies het om ‘n tragiese voorval, wat nog vars is in die geheue van diegene wat geraak word en die publiek, te politiseer.

“Die tragiese voorval het twee families geraak wat nog sukkel om te verwerk wat gebeur het en die jongste rassistiese uitlatings help nie dié families nie,” het Mthembu gesê.

Henke het in ‘n onderhoud met ‘n Britse koerant gesê die ANC-regering se onvermoë om gewelddadige misdaad te verminder is die oorsaak dat talle Suid-Afrikaners vuurwapens besit.

Hy het ook misdaad teen wit Suid-Afrikaners uitgesonder. Sy kommentaar volg nadat dit aan die lig gekom het dat hy, sy pa en broers tussen hulle 55 vuurwapens besit.

Henke het gesê die familie is versamelaars van vuurwapens en jagters, maar benodig ook wapens vir selfverdediging.

Oscar se oom, Arnold, het die atleet en sy familie van die uitlatings gedistansieer.

“Die Pistorius-familie besit slegs wapens vir jag- en sportdoeleindes,” het Arnold, woordvoerder van die familie, in ‘n verklaring gesê.

“Oscar en die res van die Pistorius-familie distansieer hulle van die uitlatings,” lui ‘n verklaring wat deur Vuma ­Reputation Management, Pistorius se beeldpoetsers, uitgereik is.

Mthembu het gesê die Pistorius en Reeva Steenkamp-saak is in die hande van bevoegde howe, wat die saak objektief en in ooreenstemming van die land se wette sal hanteer.

“Enige bespiegeling kan slegs die saak benadeel.”

Die ANC het die verklaring wat deur die Pistorius-familie uitgereik is, verwelkom.

Pistorius staan tereg op aanklag van moord nadat hy Steenkamp op Valentynsdag in sy huis in die ooste van Pretoria doodgeskiet het. Hy is verlede maand borgtog van R1 miljoen toegestaan en sal op 4 Junie weer in die hof verskyn.

AARTO-boetes per e-pos onmoontlik

Die Vryheidsfront Plus verwerp die voorstel deur die department van vervoer om voortaan AARTO-boetes ook per e-pos af te lewer soos blyk uit die Wysigingswet op die Administratiewe Beregtiging van Verkeersoortredings (AARTO).

Alhoewel daar hofuitsprake bestaan wat die aflewering per e-pos van regsdokumentasie sanksioneer, skree die legio van tegniese probleme om uitvoering aan AARTO te gee ten hemele teen die byvoeging van nog ‘n tegniese vereiste van aflewering.

Volgens adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor vervoer, heg die verkeersowerhede geen waarde aan die uitvoering van die letter van die wet nie en skep daarmee soveel probleme vir die publiek, soos die onwettige afleweringsmetodes deur middel van gewone pos, die onwettige blokkasie van lisensies, die onwettige arrestasie of dreigement tot arrestasie by padblokkades en die afwesigheid van verkeershowe waarin AARTO-boetes besleg moet word om net ‘n paar te noem.

“Indien hierdie basiese aspekte van AARTO nie eens nagekom word nie, hoe op aarde gaan die owerhede elektroniese databasisse administreer en bestuur?” het Alberts gevra.

Verder is die VF Plus bekommerd oor die beplande wysiging soos dit tans daar uitsien aangesien dit die vereistes van persoonlike betekening of per geregistreerde pos geheel en al uithaal en vervang met ‘n vae vereiste “soos voorgeskryf”.

Alhoewel die verduideliking is dat die wysiging eintlik net elektroniese aflewering ook moontlik maak, is hierdie ‘n slim wyse om ongesiens die streng vereistes wat bestaan uit te haal en te vervang met ‘n vae reëling wat ook die aflewering per gewone pos kan insluit. Daarom sal die VF Plus hierdie wysigingswet in die parlement teenstaan.

‘Reuse lugramp’ eis vyf in DRK

Slegs vyf liggame naby die wrak van ‘n vliegtuig gekry is wat in ‘n woongebied in Goma in die ooste van die Demokratiese Republiek van die Kongo neergestort het.

Daar was nege mense aan boord en nie tussen 30 en 50 soos wat die owerhede vermoed het nie. Drie oorlewendes is uit die wrak gehaal voordat die polisie gisternag die soektog opgeskort het.

Die vliegtuig, ‘n Fokker 50, was van die myngebied Lodja af in die oostelike Kasai-provinsie op pad. Dit het in die middel van Goma neergestort, maar het niemand op die grond getref nie.

Vliegtuigongelukke kom algemeen in die DRK voor waar talle vliegtuie en lughawens nie moderne toerusting het nie en owerhede geen passasierslyste aanhou nie.

MRK ondersoek bewerings oor De Beers

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie sê hy sal ondersoek instel na bewerings deur die gemeenskap van Kommagas in die Noord-Kaap wat betref die De Beersmyn se versuim om die gebied te rehabiliteer.

Dit het tydens openbare sittings aan die lig gekom waar besprekings gehou is oor onwettige mynbedrywighede wat tot die dood van 19 onwettige myners by die Bontekoemyn gelei het.

‘n Woordvoerder van die kommissie, Chantelle Williams, sê hulle sal die gemeenskap se kwellings ontleed om te sien wat gedoen moet word. De Beers het die gemeenskap se bewerings verwerp.

Die mynmaatskappy sê hy het ‘n dokument saamgestel oor al sy projekte wat daarop gemik is om die omgewing te ontwikkel.

‘n Woordvoerder sê die gemeenskap het reuse behoeftes en van die projekte is deel van De Beers se plaaslike ekonomiese ontwikkeling wat hulle onderneem bo en behalwe hulle maatskaplike en arbeidsverpligtinge.

Pan-Afrika Jeugunie prys Mugabe se grondhervorming

Die president van die Pan-Afrika Jeugunie, Andile Lungisa, glo dat president Robert Mugabe se beleid oor grondhervorming in Zimbabwe moet dien as ‘n bloudruk vir Suid-Afrika.

Lungisa was onder diegene wat Mugabe se $600 000-verjaarsdagpartytjie in die klein myndorpie Bindura bygewoon het.

Lungisa was die voormalige adjunk-president van die ANC-jeugliga.

Lungisa het aan die skare van 50.000 gesê: “Ons sê in Suid-Afrika en die hele Afrika, ons moet Zimbabwe navolg.”

Lungisa is deur Zanu-PF se jeugvleuel genooi saam met ander jeugleiers van plaaslike swart Vryheidsbewegings.

Onder Mugabe se grondhervormingsbeleid, is sowat 4000 blanke boere se grond gekonfiskeer sonder vergoeding. Op die oomblik is daar minder as 300 wit kommersiële boere oor wat nog steeds in boer, maar hulle grond bly geteiken.

Boere wat uitsetting teenstaan staar ten minste twee jaar gevangenisstraf in die gesig.

Daar word wyd geglo dat Mugabe se grondhervormingsbeleid tot sy land se ekonomiese ondergang gelei het, en ernstige gebrek aan voedselsekuriteit. “Ons sê in Suid-Afrika en die hele Afrika, ons moet Zimbabwe navolg,” het Lungisa verklaar.

Pedzisai Ruhanya, die voormalige nuusredakteur van die verbode Zimbabwiese onafhanklike koerant Daily News, het gesê Lungisa se ​​kommentaar was blote politiekery in ‘n poging om Mugabe te beïndruk.

“Die ANC bestaan ​​in ‘n baie aktiewe gemeenskap wat nie so passief as Zimbabwe is nie. So om dieselfde standpunt in te neem as Zanu-PF is onmoontlik in Suid-Afrika.”

‘n Paar dae voor die verjaarsdagpartytjie, is die 12-jarige seun van ‘n ​​lid van een van die twee MDC-faksies vermoor in ‘n brandstigtingsaanval.

Sommige beweer een van Mugabe se intieme vriende en bondgenote was verantwoordelik vir die aanval.

“Selfs wanneer [iemand] deur ‘n koei gedood word, blameer hulle dit op Zanu-PF,” het Mugabe gesê.

Amcu as vakbond erken by Amplats

Anglo American Platinum (Amplats) het ‘n erkenningsooreenkoms met die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) onderteken, het City Press Sondag berig.

“Ons het volle organiseringsregte en sal nou in staat wees om formele strukture te implementeer en om verteenwoordigers by Amplats aan te stel,” het Joseph Mathunjwa, president van Amcu, aan die koerant gesê.

Mpumi Sithole, ‘n woordvoerder vir Amplats, het gesê Amcu verteenwoordig nou 40% van sy werknemers, wat net onder 60 000 staan.

Lesiba Seshoka, woordvoerder van die National Union of Mineworkers (NUM), het intussen gesê hy glo werkers sal wel later na sy vakbond terugkeer, wat eens die meerderheid van die myn se werkers verteenwoordig het.

Hy het gesê maatskappye kies Amcu “om die ANC terug te kry”.

“Daardie werkgewers moet net bid dat ons nie die meerderheid-vakbond word nie, want ons sal die lewe baie moeilik maak vir hulle.”

Die platinumvervaardiger Lonmin het verlede maand ontken dat hy verifiëringsprosesse aangepas het om Amcu te bevoordeel.

“Lonmin glo in vryheid van verteenwoordiging. Daar is geen intimidasie nie. Ons kan nie besluit wie sluit aan by watter vakbond nie,” het Sue Vey, ‘n woordvoerder, gesê.

Haar kommentaar volg nadat Zwelinzima Vavi, Cosatu se hoofsekretaris, die bestuur van Impala Platinum (Implats), Amplats en Lonmin gekritiseer het omdat hulle na bewering voorkeurbehandeling aan Amcu gegee het.

Arbeidsonrus heers sedert Augustus by platinummyne in en om Rustenburg.