Amcu as vakbond erken by Amplats

Anglo American Platinum (Amplats) het ‘n erkenningsooreenkoms met die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) onderteken, het City Press Sondag berig.

“Ons het volle organiseringsregte en sal nou in staat wees om formele strukture te implementeer en om verteenwoordigers by Amplats aan te stel,” het Joseph Mathunjwa, president van Amcu, aan die koerant gesê.

Mpumi Sithole, ‘n woordvoerder vir Amplats, het gesê Amcu verteenwoordig nou 40% van sy werknemers, wat net onder 60 000 staan.

Lesiba Seshoka, woordvoerder van die National Union of Mineworkers (NUM), het intussen gesê hy glo werkers sal wel later na sy vakbond terugkeer, wat eens die meerderheid van die myn se werkers verteenwoordig het.

Hy het gesê maatskappye kies Amcu “om die ANC terug te kry”.

“Daardie werkgewers moet net bid dat ons nie die meerderheid-vakbond word nie, want ons sal die lewe baie moeilik maak vir hulle.”

Die platinumvervaardiger Lonmin het verlede maand ontken dat hy verifiëringsprosesse aangepas het om Amcu te bevoordeel.

“Lonmin glo in vryheid van verteenwoordiging. Daar is geen intimidasie nie. Ons kan nie besluit wie sluit aan by watter vakbond nie,” het Sue Vey, ‘n woordvoerder, gesê.

Haar kommentaar volg nadat Zwelinzima Vavi, Cosatu se hoofsekretaris, die bestuur van Impala Platinum (Implats), Amplats en Lonmin gekritiseer het omdat hulle na bewering voorkeurbehandeling aan Amcu gegee het.

Arbeidsonrus heers sedert Augustus by platinummyne in en om Rustenburg.

Maak 'n opvolg-bydrae