Druk op polisie weens dood in aanhouding, RA

Die familie van die Mosambiekse taxibestuurder, Mido Macia, het President Jacob Zuma gevra om in te gryp in die ondersoek na sy dood in polisie-aanhouding in Daveyton aan die Oosrand.

Macia is verlede week in aahouding in die polisieselle dood nadat hy na bewering vroeër agter ‘n polisievangwa vasgemaak en gesleep is. Agt polisiebeamptes wat by sy dood betrek word, is in hegtenis geneem. Hulle sal vandag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Die DA het gevra vir ‘n kommissie van ondersoek na polisiewreedheid na die voorval. ‘n Familielid van Macia, Hilton Sithole, sê President Zuma moet ingryp en aan die polisiebeamptes sê dat Macia nie ‘n hond was nie. Sy sê Zuma moet seker maak dat geregtigheid geskied.

Die DA het ook ‘n beroep gedoen vir ‘n regterlike kommissie van ondersoek na polisiewreedheid. ‘n Aantal DA leiers het Daveyton aan die Oosrand gister besoek na Macia se gewelddadige dood.

Die DA LP, Dianne Kohler-Barnard, sê polisiewreedheid moet gestaak word. Sy het ‘n brief aan die President gestuur om te vra vir ‘n kommissie van ondersoek om die oorsake van polisiewreedheid te ondersoek. Sy sê Suid-Afrika het ‘n professionele polisiediens nodig wat misdadigers vang, en nie onskuldige mense doodmaak nie.

Intussen is sowat 1500 bevorderings in die Suid-Afrikaanse polisiediens teruggehou na ‘n hofbeslissing teen regstellende aksie. Die Arbeidhof in Gauteng het beslis dat geen bevorderings in werking kan tree voordat alle regsgedinge teen die polisie se regstellende aksie plan in die hof aangehoor is nie.

Die vakbond Solidariteit het ‘n versoekskrif ingedien wat die hof vra om die plan ongeldig te verklaar. Die adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit, Dirk Hermann, sê baie wit mense wat voldoen aan die vereistes vir bevordering, word nie bevorder nie.

Slegs nege persent van beskikbare poste vir luitenante en majoors is aan wit mense toegeken.

Maak 'n opvolg-bydrae