Cyril Ramaphosa, adjunk-president van die ANC, het ‘n beroep op Christene gedoen om Suid-Afrika se morele kompas te wees teen oortedings soos verkragting, het City Press Sondag berig.
“Daar is geen beter agente as Christene en die kerk om die morele waardes en morele gewete van ons land op te bou nie,” het Ramaphosa Saterdag volgens die koerant by die Pentecostal Holiness Church gesê.
“[Die verantwoordelikheid] rus op ons as Christene. Ons moet sê hierdie is ‘n sonde. Hierdie is ‘n oorteding. Verkragting is ‘n sonde en dis ‘n oorteding.
“Ons as Christene is die mense wat moet opstaan en sê: ‘Korrupsie, ons sal dit nooit aanvaar nie, want dis ‘n sonde. Dis ‘n oorteding’.”
Die koerant het berig dat Ramaphosa gesê het Christene moet op die voorpunt wees in die stryd teen die mishandeling van vroue.
“Ons moet ook die morele kompas van ons land wees wanneer dit kom by respek vir vroue en aksie teen verkragters,” het hy gesê.
