Pres. Barack Obama en vooraanstaande Republikeinse kon teen Vrydag nie ooreenkom oor maatreëls om $85 miljard (sowat R770 miljard) se outomatiese begrotingsbesnoeiings te verhoed nie.
Dié besnoeiings se impak sal nou in die Amerikaanse weermag en verskeie ander staatsinstellings gevoel word.
Beide Obama en die Republikeinse het teen Vrydagaand ná ‘n noodvergadering by die Withuis gesê hulle kan steeds nie ooreenkom oor die weg vorentoe nie. Die twee groepe verskil oor die president se aandrang dat belastingverhogings ‘n noodsaaklike deel is van enige plan om die land se skuldlas van $16,6 biljoen te verminder.
Obama het Vrydagaand ‘n dokument onderteken wat die besnoeiingsmaatreëls van krag maak. Hy het tot Vrydag middernag gehad om oor die kwessie te besluit.
Obama en die leiers van die Republikeine stamp koppe oor dié kwessie sedert die opposisie meer as twee jaar gelede ‘n meerderheid in die Huis van Verteenwoordigers behaal het.
Die inkrimping van die begroting, wat fondse na talle regeringsdepartemente besnoei, is in 2011, toe dit aanvanklik voorgestel is, as só onaantreklik beskou dat beide partye waarskynlik sou probeer het om ‘n beter oplossing te vind. Weens die twee jaar wat die partye daaroor kibbel, het dit nog nie gerealiseer nie.
Die besnoeiings is van toepassing op die res van die finansiële jaar, wat op 30 September tot ‘n einde loop.
“Laat ons duidelik wees. Niks hiervan is nodig nie,” het die president ná die vergadering in die Withuis gesê.
“Dis ‘n keuse wat Republikeine in die kongres gemaak het” om te verhoed dat belastingskuiwergate uitgeskakel word wat rykes bevoordeel.
