Die Vryheidsfront Plus verwerp die voorstel deur die department van vervoer om voortaan AARTO-boetes ook per e-pos af te lewer soos blyk uit die Wysigingswet op die Administratiewe Beregtiging van Verkeersoortredings (AARTO).
Alhoewel daar hofuitsprake bestaan wat die aflewering per e-pos van regsdokumentasie sanksioneer, skree die legio van tegniese probleme om uitvoering aan AARTO te gee ten hemele teen die byvoeging van nog ‘n tegniese vereiste van aflewering.
Volgens adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor vervoer, heg die verkeersowerhede geen waarde aan die uitvoering van die letter van die wet nie en skep daarmee soveel probleme vir die publiek, soos die onwettige afleweringsmetodes deur middel van gewone pos, die onwettige blokkasie van lisensies, die onwettige arrestasie of dreigement tot arrestasie by padblokkades en die afwesigheid van verkeershowe waarin AARTO-boetes besleg moet word om net ‘n paar te noem.
“Indien hierdie basiese aspekte van AARTO nie eens nagekom word nie, hoe op aarde gaan die owerhede elektroniese databasisse administreer en bestuur?” het Alberts gevra.
Verder is die VF Plus bekommerd oor die beplande wysiging soos dit tans daar uitsien aangesien dit die vereistes van persoonlike betekening of per geregistreerde pos geheel en al uithaal en vervang met ‘n vae vereiste “soos voorgeskryf”.
Alhoewel die verduideliking is dat die wysiging eintlik net elektroniese aflewering ook moontlik maak, is hierdie ‘n slim wyse om ongesiens die streng vereistes wat bestaan uit te haal en te vervang met ‘n vae reëling wat ook die aflewering per gewone pos kan insluit. Daarom sal die VF Plus hierdie wysigingswet in die parlement teenstaan.
